3 minute read

Eenheid 1: Drama: Ontwikkeling van dramavaardighede; die media en loopbane

Next Article
Ikone

Ikone

Eenheid 1

Drama: Ontwikkeling van dramavaardighede; die media en loopbane

Die opwarmings- en afkoelingsoefeninge om die liggaam en stem vir opvoerings voor te berei wat in graad 7 en 8 behandel is, word in hierdie eenheid hersien. Akteurs moet die oefeninge ken en toepas om hulle konsentrasie te verbeter, om beserings te voorkom, om stres en angs te beheer, om vir toneelspel voor te berei en om die beste moontlike opvoering te verseker.

Die eenheid ondersoek ook die sepie (soap opera) as televisiegenre en hoe dit as kommunikasiekanaal in die media gebruik word.

UITDAGING Hoe kan ’n akteur tydens ’n opvoering normaal asemhaal?

Leerdoelwitte

Hierdie les kan nie eenmalig gedoen word nie. Dit moet weekliks geoefen en herhaal word. Dit is veral belangrik om die opwarmingsoefeninge voor ’n opvoering te doen. Spandeer minstens 15 minute per week hieraan.

Aan die einde van hierdie eenheid moet jy:

• die doel van opwarmings- en afkoelingsoefeninge kan verduidelik • ’n opwarmingsroetine kan ontwikkel en dit suksesvol uitvoer • ’n afkoelingsroetine kan ontwikkel en dit suksesvol uitvoer • asemhaling kan reguleer • fisieke opwarmingsoefeninge kan uitvoer • die terme “media” en “massamedia” kan verduidelik • die sepie (soap opera) as genre kan identifiseer • geykte karakters (stock characters) en hul stereotipiese eienskappe kan identifiseer

Definieer

Opwarmingsroetine: Oefeninge om die liggaam (spiere, gewrigte en die brein) vir fisieke aktiwiteit voor te berei. ’n Opwarmingsroetine verminder die kanse op besering of kan beserings selfs voorkom.

Afkoelingsroetine: Oefeninge wat geleidelik in intensiteit afneem om die liggaam af te koel; dit help die liggaam (spiere, gewrigte en die brein) om stadiger te reageer, stres te ontlaai en uiteindelik te herlaai.

Asemhalingsbeheer: Die regte en doeltreffende gebruik van die longe en diafragmaspier om die maksimum inname van suurstof te verseker. Verwys na die beheer van hoeveel suurstof jy inneem en gebruik terwyl jy praat deur in te asem, jou asem op te hou en korrek uit te asem. Goeie asemhalingstegnieke

is die grondslag van ’n duidelike stem. Bly ontspanne wanneer jy asemhaal en praat, en probeer om spanning in die nek, skouers, kakebeen, rug en maag te verminder.

Postuur: Die posisie waarin iemand hul liggaam hou wanneer hulle staan of sit; die posisie van hul arms en bene, en van die liggaam as ’n geheel. Die beste stem word geproduseer as jou liggaamshouding regop maar ontspanne is. Tydens asemhalings- en stemopwarmingsoefeninge moet die ruggraat reguit, die kop na vore en die kroon van die kop parallel met die plafon wees. Hierdie postuur ondersteun die liggaam se asemhalingstelsel sodat dit goed kan funksioneer.

Liggaamsfokus: Om van jou liggaam bewus te wees en te leer hoe om jou hele liggaam tydens verskeie oefeninge in te span; om te verstaan hoe die verskillende dele van die liggaam saamwerk en te weet waartoe jou liggaam in staat is.

Ontspanning: Om sonder enige spanning, stres of angs te wees. In ’n dramakonteks verwys ontspanning na ’n toestand waar jy van jou liggaam bewus is en in beheer daarvan is. Dit sluit jou asemhaling en stem in.

Media: ’n Manier van kommunikasie waar inligting aan mense versprei word. Dit sluit radio, televisie, tydskrifte, koerante en die internet in.

Massamedia: Enige kommunikasiekanaal soos televisie of koerante wat ’n wye gehoor bereik.

Sepie (soap opera): ’n Radio- of televisiereeks wat die lewe van vele karakters volg en dit op ’n sentimentele of melodramatiese manier uitbeeld.

Telereeks (teleserial): ’n Televisiedrama met ’n deurlopende storielyn wat in episodes aangebied word.

Melodrama: ’n Sensasionele drama met oordrewe, stereotipiese karakters en opwindende gebeure wat tot jou emosies spreek.

Stereotipiese karakter: ’n Plat karakter met veralgemeende eienskappe. Die karakter is tipies van ’n spesifieke groep en is nie noodwendig ’n individu in eie reg nie.

Geykte karakter (stock character): ’n Gestereotipeerde karakter wat die lesers of gehoor herken omdat die karakter herhaaldelik in literêre of volkstradisie verskyn, gewoonlik in ’n spesifieke genre soos komedie of sprokies. Algemene voorbeelde sluit in die vergeetagtige professor, die nooi in nood, die ellendige ou man, die bose stiefma en die jaloerse man.

This article is from: