11 minute read

Les 1.1: Ontwikkeling van dramavaardighede: Opwarmingsoefeninge

Les 1.1: Ontwikkeling van dramavaardighede: Opwarmingsoefeninge

Inleiding

Hierdie les fokus daarop om jou stem en liggaam voor ’n opvoering op te warm. Soos met enige fisieke aktiwiteit, is dit belangrik om die liggaam voor te berei en te kondisioneer om optimaal te funksioneer.

Opwarmingsoefeninge kan beserings voorkom, dit help akteurs om beter te konsentreer en berei hulle voor vir die taak wat voorlê. Dit word sterk aanbeveel om opwarmingsoefeninge saam met jou medeakteurs te doen om die band en kommunikasie tussen julle te versterk.

Afkoelingsoefeninge sal jou liggaam en stem help om te herstel en te herlaai. Dit help jou ook om te bedaar en al die stres en verhoogde emosies te ontlaai wat tydens die opvoering opgebou het. Die les moet verkieslik in 15 minute afgehandel word, maar moet elke week – en veral voor opvoerings – herhaal word.

HOE OM VIR ’N OPVOERING VOOR TE BEREI

Opwarmingsoefeninge

Neutrale posisie: ’n Akteur neem gewoonlik hierdie posisie in om dramaoefeninge te doen. Dit beteken dat die liggaam ontspanne is. Die neutrale posisie verwys ook na liggaamsbelyning en hoe die kop, skouers, ruggraat, heupe, knieë en enkels saamwerk. Goeie liggaamsbelyning plaas minder stremming op die ruggraat en skep ’n goeie postuur. Elke mens het sekere fisieke beperkings (soos plat voete, oorgewig of ondergewig, ’n kort of lang nek) wat bepaal hoe doeltreffend hulle die neutrale posisie vind.

Fig. 1.1: Neutrale posisie 1

Fig. 1.2: Neutrale posisie 2 – Voete is verder uitmekaar

Werk van onder af boontoe om ’n gemaklike neutrale posisie te vind:

• Voete: Staan met jou voete effens uitmekaar, reg onder die heupe en parallel met mekaar. • Knieë: Druk jou knieë terug in ’n geslote posisie en buig dit dan effens vorentoe om sodoende die beste neutrale posisie te vind. • Pelvis: Hou jou pelvis (bekken) ontspanne en in lyn met jou voete; moenie jou heupe vorentoe druk of agtertoe rond maak nie. • Borskas: Hou jou borskas in lyn met jou heupe sonder om dit in te trek of uit te stoot. Hierdie posisie is veral belangrik vir asemhalingsoefeninge. • Skouers: Jou skouers moet ontspanne en effe gesak wees. Maak seker dat jou skouers nie teruggetrek of opgetrek is nie. • Arms: Jou arms moet los en vry langs jou sye hang. Jou hande moet ook ontspanne wees en jou vingers moet natuurlik met ’n effense kurwe hang – nie uitgestrek of in ’n vuis nie. • Kop: Stel jou voor hoe jou ruggraat al hoe langer word in jou nek en dat dit jou kop boontoe stoot. • Gesig: Kyk reguit vorentoe en lig jou ken effens op (dit gebeur vanself wanneer jy jou skouers ontspan). Moenie jou ken uitstoot of intrek nie. Hou jou gesigsuitdrukking neutraal (dit sal in meer detail in die afdeling oor stemopwarmingsoefeninge bespreek word).

Jy is nou gereed vir basiese liggaamsopwarmingsoefeninge.

Besoek bit.ly/2GQtDxv, bit.ly/2HUyiQk en bit.ly/2owfkHO vir meer inligting oor fisieke opwarmingsoefeninge vir akteurs.

Fisieke ontwikkeling

Opwarmingsoefening 1: Liggaamsfokusoefeninge

Nekstrekke

• Staan in die neutrale posisie. • Laat sak jou ken teen jou bors. • Beweeg jou kop na regs en dan weer terug na die middel. • Beweeg jou kop na links en dan weer terug na die middel. • Herhaal dit vyf keer.

Fig. 1.3

Fig. 1.4

Skouerstrekke

• Staan in die neutrale posisie. • Rol jou regterskouer agtertoe – herhaal dit vyf keer. • Doen dieselfde met jou linkerskouer. • Herhaal die oefening, maar rol hierdie keer jou skouers vorentoe. • Trek jou skouers op en probeer jou ore raak. Hou die posisie vir ’n paar tellings en ontspan.

Armstrekke

• Staan in die neutrale posisie. • Lig jou regterarm op, strek dit bo jou kop uit en buig oor na jou linkerkant. Hou jou regterarm uitgestrek oor jou linkerkant en strek so ver as wat jy kan. Hou hierdie posisie vir ’n paar tellings. • Herhaal met jou linkerarm na die regterkant. • Herhaal die hele proses vyf keer.

Fig. 1.5

Heupstrekke

• Staan in die neutrale posisie met jou hande op jou heupe. • Beweeg jou heupe in ’n sirkel asof jy ’n hoepel swaai. • Beweeg nou jou heupe in die teenoorgestelde rigting. • Herhaal die oefening vyf keer in beide rigtings.

Skud die bene

• Staan in die neutrale posisie en lig jou regterbeen op. • Skud jou been. • Herhaal met jou linkerbeen. • Herhaal die oefening vyf keer aan beide kante of tot jy meer energiek voel.

Ruggraatstrekke

• Staan in die neutrale posisie en laat sak jou ken tot teen jou bors. • Ontspan jou skouers en buig stadig vooroor asof jy jou tone wil raak. Asem uit wanneer jy so ver vooroor gebuig het as wat jy kan. • Buig jou knieë en laat jou arms en kop gemaklik hang. Ontspan. • Asem in terwyl jy stadig weer regop kom. Asem uit sodra jy weer in die neutrale posisie is. • Herhaal die proses vier of vyf keer.

Liggaamsvibrasie

• Staan in die neutrale posisie. • Stel jou voor dat ’n elektriese skok deur jou liggaam beweeg en skud jou hele lyf. • Skud jou lyf vir tien tellings en staan dan doodstil. • Herhaal die proses twee of drie keer. • Ná hierdie oefening sal jy verfris en energiek voel.

Opwarmingsoefening 2: Liggaamsfokusoefeninge

Gooi en vang

• Staan in die neutrale posisie met jou gesig na die muur. • Verbeel jou dat jy al jou energie in ’n onsigbare bal saamvat. • Maak asof jy die onsigbare bal voor jou bors vashou. • Sodra die energie te veel raak, gooi die bal teen die muur. • Staan gereed om die bal te vang wanneer dit na jou kant toe terugbons. Leun effens terug wanneer jy die bal vang. • Gooi die bal weer na die muur toe en herhaal die proses ’n paar keer. Konsentreer op die bal, asook die gooi-en-vangsiklus.

Stemontwikkeling

Die klankkaste (resonators) bestaan uit die mond, neus, nek en bors. Klankkaste versterk die klanke wat ons stembande voortbring en gee dit ook ’n ryker kwaliteit.

Die spraakkanale(articulators) sluit die tande, tong, lippe, kakebeen en verhemelte in. Klanke word deur dié liggaamsdele gevorm en beïnvloed die manier waarop ons klanke vorm en woorde uitspreek.

Fig. 1.6: Die klankkaste Fig. 1.7: Die spraakkanale

Opwarmingsoefening 1: Asemhalingsoefening

• Staan in die neutrale posisie. • Asem in en trek jou skouers op. • Laat sak jou skouers en asem uit. • Herhaal die proses vyf keer en konsentreer op jou asemhaling. Haal elke keer ’n bietjie dieper asem en sak jou skouers elke keer ’n bietjie laer. • Jy sal voel hoe jou liggaam begin ontspan.

Opwarmingsoefening 2: Trek jou gesig

• Staan in die neutrale posisie. • Trek jou gesig op ’n plooi asof jy iets suurs eet. • Probeer jou gesig op die kleinste moontlike plooi trek en hou dit so vir tien tellings. • Maak nou jou mond so wyd oop as wat jy kan, lig jou wenkbroue en rek jou oë. Hou die posisie vir tien tellings en ontspan jou gesig. • Herhaal die oefening vyf keer.

• Herhaal die oefening, maar neurie saggies wanneer jy jou gesig trek. Maak ’n harde “mah”geluid wanneer jy jou mond oopmaak. • Herhaal dit vyf keer.

Fig. 1.8

Opwarmingsoefening 3: Tel

• Staan in die neutrale posisie. • Asem gemaklik in en uit en raak bewus van jou asemhaling. • Sodra jy gefokus is, asem diep in en tel hardop van een tot tien terwyl jy uitasem. Maak seker jou stem se toonhoogte en volume bly dieselfde. • Herhaal dit vyf keer.

Opwarmingsoefening 4: Neurie

• Staan in die neutrale posisie en dink aan ’n liedjie. • Asem in en uit totdat jy gereed voel om te begin neurie. • Neurie jou liedjie. Moenie die woorde sing nie. • Jy behoort ’n gonsende (buzzing) sensasie te voel. • Herhaal die proses, maar neurie hierdie keer harder. • Onthou om tussenin asem te haal.

Opwarmingsoefening 5: Tongknopers

• Soek en memoriseer ’n paar tongknopers. • Staan in die neutrale posisie. • Asem in en berei voor om met ’n beheersde stem te begin praat. Probeer om jou stemtoon en volume konstant te hou. • Herhaal dieselfde tongknoper ’n paar keer.

Voorbeelde van tongknopers:

ష Vlekkie vreet vinnig verskillende veeragtige voëltjies voordat verskillende veeragtige voëltjies vinnig verdwyn. ష Swart slange seil stil sodat stadige skilpaaie saggies sal slaap. ష Wat weet wilde, woelige Willemien van warm waatlemoene en wurms wat Willem Wouter nie weet nie?

Besoek bit.ly/1E5IbFg, bit.ly/1RuBfYs, bit.ly/2GQusX7 en bit.ly/2FfomlU vir meer inligting oor opwarmingsoefeninge vir jou stem en asemhaling.

NÁ DIE OPVOERING

Raak ontslae van spanning en laat jou liggaam en stem afkoel en ontspan.

Afkoelingsoefening 1: Ontknoop

• Staan in die neutrale posisie en laat sak jou ken teen jou bors. • Ontspan jou skouers en buig stadig vooroor asof jy jou tone wil raak. Asem uit wanneer jy so ver vooroor gebuig het as wat jy kan. • Buig jou knieë en hou aan jou enkels vas (of so laag as wat jy kan bykom) terwyl jy jou bors teenaan jou bene trek. Maak seker dat jou kop gemaklik hang en hou aan strek. • Verslap geleidelik jou greep en asem in terwyl jy stadig regop kom. Asem uit sodra jy weer in die neutrale posisie is. • Herhaal die proses vier of vyf keer.

Afkoelingsoefening 2: Ontspan

• Lê op jou rug met jou knieë teen jou bors opgetrek. • Maak jou oë toe en konsentreer op jou asemhaling. • Hou jou bene onder jou knieë vas en rol jou heupe heen en weer op die grond. • Herhaal die proses ’n paar keer. Ontlaai alle spanning deur diep te sug en te neurie wanneer jy die heuprolle doen.

Fig. 1.9

Afkoelingsoefening 3: Raak rustig

• Lê op jou rug met jou knieë gebuig en jou voete plat op die grond. • Maak jou oë toe en sit jou hande op jou ribbes sodat jy kan voel hoe jy asemhaal. • Asem stadig in en hou dit vir vyf tellings. • Asem stadig uit vir ’n verdere vyf tellings. • Herhaal die oefening vyf tot tien keer.

Opsomming

’n Akteur moet altyd goed voorberei vir enige opvoering. Jy moet vertroud wees met die terme, bewegings en ruimtelike oriëntasie. Jy moet ook gefokus wees. Liggaam- en stemopwarmingsoefeninge help die akteur om fisiek en psigies voor te berei en om al die sintuie te verskerp. Dit verseker ook dat die liggaam en stem gereed is vir die opvoering en om moontlike beserings te voorkom. Hierdie oefeninge help om spanning en angs te verlig. Dit is belangrik om ná ’n opvoering te ontlaai en van spanning en opgeboude energie ontslae te raak.

Assesseer jouself

Kyk hoe jou liggaam en stem op opwarmingsoefeninge en afkoelingstegnieke reageer. • Doen ’n klein eksperiment. • Dra ’n kort monoloog of gedig aan die klas, ’n vriend, jou gesin of fasiliteerder voor sonder om op te warm. • Skryf neer hoe jy gevoel het: ష Hoe het die opvoering verloop? ష Het jy enige foute gemaak? ష Hoe voel jou liggaam ná al die opwinding? ష Is jou asemhaling rustig of gejaagd? ష Vra ook die gehoor se terugvoer. • Dra weer die gedig of monoloog op ’n ander dag voor. Hierdie keer moet jy eers ten minste 15 minute aan opwarmingsoefeninge spandeer. • Skryf weer neer hoe jy gevoel het en hoe die opvoering verloop het. Vergelyk jou notas en bepaal of die opwarmingsoefeninge ’n invloed op die gehalte van jou opvoering gehad het – was jy meer gefokus, meer voorbereid en minder angstig?

Los die uitdaging op

Hoe kan ’n akteur tydens ’n opvoering normaal asemhaal?

Wanneer jy toneel speel, moet jy ’n klomp verskillende faktore in ag neem: jou eie opvoering, verskeie tegniese elemente en om al jou woorde en bewegings te onthou. Dan moet jy ook jou medeakteurs en die gehoor in ag neem.

Asemhaling moet glad nie in die pad van goeie toneelspel staan nie. Dit is belangrik dat die akteur deeglik voorberei om ’n goeie opvoering te lewer – dit sal altyd ’n opwarmingsroetine insluit. Die oefeninge sal nie net die akteur se konsentrasie verbeter nie, maar verseker ook dat daar genoeg suurstof in die brein is om optimaal te funksioneer. Die opwarmingsoefeninge berei ook die liggaam voor om onder stres te funksioneer.

This article is from: