6 minute read

DAAI EERSTE BOK

Deur: Schalk van der Merwe

Einde 2014 ry ‘n twee-jarige bruinoog dogtertjie laatmiddag saam met my en Oupa veld toe. Haar ma is ook by om seker te maak sussie is versorg. Sy het al te veel gesien hoe ons mans se aandag elders afgetrek word en kort voor lank is die kleinding aan haar eie genade oorgelaat. Bea was al verskeie kere saam met ons in die veld, maar hierdie middag sou sy haar eerste jag meemaak. Ek het ‘n blesbok geskiet en Bea kon haar oë nie van die bok afhaal nie. Toe ons als regtrek om gou ‘n foto te neem was Bea eers effe huiwerig om nader te staan, het omtrent soos ‘n apie aan Karlien vasgeklou, maar dit was nie lank nie of sy het ontdooi

Advertisement

By die slagpale het sy opgewonde rondgetrippel en die res van die aand elke nou en dan gepraat oor die jag en die blesbok. Ouma moes die storie oor en oor hoor tot sy daardie aand op ‘n kombers voor die stoof langs die etenstafel uitgepass het. Terug in Somerset-Wes, laat die middag na ons by die huis aangekom het, het ek op die bank voor die TV lê en ontspan. Bea was alom met ‘n stoffer besig wat sy iewers in die kombuiskas beetgekry het en ek het haar gelos om haar eie ding te doen. Die volgende oomblik het sy langs my gestaan, aan my skouer getik en my gevra om saam met haar kombuis toe te kom. In die kombuis het sy met een van daardie geweer-lighters agter die stoffer wat op die vloer gelê het stelling ingeneem en al ewe gevra, “Pappa, neem my af saam met my blesbok”. Ek was stomgeslaan! Haar eerste jag het duidelik ‘n groot impak op haar gemaak.

Sederdien is ons met die Here se genade omtrent elke tweede maand Beaufort-Wes toe, plaas toe. Vandat Bea groot genoeg was om die .22 baas te raak is daar met elke besoek aan Losberg geskiet. Aan die begin moes ek of Oupa al die mik- en vashouwerk doen en het Bea en haar nefies eintlik net die sneller getrek. Die oudste nefie, Jean, het ‘n vreeslike uitdaging met die skietery gehad met die dat hy om sy lewe nie een oog kon toehou wanneer hy aanlê nie. Oupa moes later een oog met sy sakdoek toebind sodat die man kon korrel. Jean het kompleet soos ‘n seerower gelyk, maar skiet moes hy skiet. Soos tyd verloop het kon ek en Oupa terugstaan, net raad

gee en ons verwonder aan die kinders se ontwikkeling. Bea het later gegradueer na die gebruik van die .222, ‘n pragtige ou SAKO geweertjie waarmee ek self my eerste bok 29 jaar gelede geskiet het. Gedurende 2019 gee Oupa vir Bea die .222, waarvoor ek toe baie gretig by die polisie aansoek doen om vir haar te bewaar.

Paasnaweek 2022 kuier ons weer op die plaas. Ons skiet op ‘n lui agtermiddag teiken en toe Bea weer die geweer vasvat, die kolf met vertroue in die skouer druk en aanlê soos ‘n ou ervare skut is ek en Oupa eens oor die saak, sy is reg vir haar eerste bok. Julie, die laaste week van die 3-weke skoolvakansie, is ons op Losberg en kry Bea haar kans. Al die voorbereidings is getref, sy moes selfs help patrone laai. Sondag, skemeraand, trek ons Oupa se Nissan plaasbakkie onder by die hek uit en skiet Bea ‘n laaste paar skote voor haar jag. Op 100m is sy in die kol. Dieselfde aand, na ete, kom kry Bea my alleen waar ek in die kombuis staan en koffie maak. Baie ernstig wil sy by my weet of ek seker is sy is reg om haar eerste bok te skiet. Ek verseker haar ek is doodseker, maar dat ons niks sal doen as alles nie uitwerk soos ek vertrou dit sal nie.

Die volgende oggend is ek so net na 7 uit die vere en maak altwee meisiekinders wakker. Karla, Bea se sussie, het gesê sy mis hierdie jag vir niks in die wye wêreld nie. Pap geëet en als reggekry, koffiekis agterop die bakkie gelaai, is ons veld toe. Dit was ‘n beeldskone winters-oggend met so ‘n ligte briesie wat roer. Ons is anderkant Sonpomp deur die wildskamp se hek veld in. Ons kry ons eerste bokke net anderkant die rivierloop voor jy afsak Skilpadpos toe. Ons volg hulle in die rigting van Vanvoorskop, maar kom nie reg nie. Op hierdie draai spring ‘n rooi-jakkals voor die bakkie uit en, tot Oupa se ontsteltenis, verdwyn in die eerste rivierloop in sonder om kans te gee of weer kop uit te steek. Bea lê twee keer op ramme aan, maar skiet nie. Albei kanse wat sy gehad het was redelik ver vir die .222-tjie en met die windjie wat by tye aan ons baadjies gepluk het was ek effe verlig toe sy aandui dat sy nie met die skote gemaklik is nie. Dit het vir my baie beteken. Aan die einde van die dag berus die onus van die skoot op die skut en dit het vir my van volwassenheid getuig dat Bea haar eerste twee geleenthede van die hand gewys het. Dit was ook vir ons belangrik dat sy nie enige druk moes ervaar om die sneller te moes trek met die eerste of enige geleentheid nie.

Ons is af Skilpadpos toe en in ‘n deel van die plaas wat ons

Augrabies noem. Daar is ‘n krans wat spoel elke keer as dit behoorlik reën. Bo Augrabies het ons weer ‘n klompie bokke gekry. Op so 120m het Oupa die bakkie gestop en Bea het aangelê. Ek het beduie watter een om op te mik en dit was nie 5 tellings nie toe loop die skoot. Daar voor op die ram se blad het die skoot mooi “toef” gemaak en hom laat swik. Raak!!!...het Oupa van voor uit die bakkie uitgeroep, terwyl die ram so entjie vorentoe draf. Van agterop die bakkie het ons die bok dopgehou. Hy het gestaan, so paar maal sy kop geskud, by sy maats aangesluit waarna die spulletjie ‘n half-maan om ons gedraf het. Oupa het die bakkie aangeskakel en stadig agter die troppie bokke aangery. Die ram met die skoot agter die blad het van die troppie weggeswaai, af in ‘n duik bo Augrabies in. Ons het hom eers gelos en agter die ander bokke gehou tot so ver as Skilpadpos voor ons teruggedraai het Augrabies toe. Aan die bokant van die klofie waar Bea se bok in verdwyn het, het ons van die bakkie afgeklim en die ram so 30m duik-in onder ‘n bos gekry. Bea se skootjie was netjies in die bruin streep, maar so ‘n duim of twee te ver agter die blad. Met die slagwerk kon ons sien sy het die longe gemis, maar die lewer getref. Hoe dit ookal sy, Bea het die oggend net een skoot met haar .222-tjie nodig gehad om haar eerste bok op die grond te hê. Ons het haar gesig met die ram se bloed gesmeer en haar as volwaardige jagter ingelyf. Ons was so voorspoedig en Bea so vol selfvertroue dat Karla, een wat gewoonlik die slagpale vermy, ook toe sommer ‘n bok wou skiet. Ek en Oupa moes net briek aandraai, haar verduidelik dat sy nog ‘n bietjie werk nodig het tot sy as gereed verklaar kan word.

Ons het die oggend se suksesvolle jag gevier deur ‘n vuurtjie te maak in ‘n rivierloop op pad terug huis toe. Daar het ons wors gebraai, die blikbekers nader getrek en ‘n ketel gekook vir swart koffie. Ek het ‘n deel van Bea se bok se lewer wat onbeskadig was uitgesny, afgewas, gesout en oor die kole gebraai. Die lewer, saam met vye-konfyt op die broodjies wat Ouma vir ons in die koffie-kis saamgestuur het, was koningskos.

Wat ‘n ongelooflik oggend en ervaring wat vir my as Pa die res van my lewe sal bybly. Ek vertrou vir my dogter ook.