9 minute read

ETIKET VIR JAGTERS

Deur : Jokl Le Roux

In hierdie bydrae voltooi ons die deel oor veiligheid, en gaan ons voort met optrede t.o.v. toerusting wat gebruik word en optrede teenoor die prooi.

Advertisement

Moenie staatmaak op jou geweer se veiligheidsknippie nie. Party tipes sluit slegs die sneller aksie, en nie die bewegende dele van die wapen nie. As ‘n oorgehaalde wapen sou val of ‘n harde stamp sou kry, kan ‘n skoot afgaan. Die algemene (onveilige!) praktyk om die grendel op ‘n patroon in die kamer toe te maak met die sneller teruggehou, met die veronderstelling dat dit “veilig” is, het al heelparty noodlottige ongelukke veroorsaak.

Die slagpen is dan direk in kontak met die slagdoppie, en enige harde stamp kan die skoot laat loop. ‘n Oop slot van ‘n grendelaksie geweer, selfs met ‘n patroon in die kamer, is ‘n beter idee, want so ‘n geweer kan nie gevuur word nie. Om die slothandvatsel af te druk as jy vinnig moet skiet, neem slegs ‘n sekonde. Wees en dink altyd nugter wanneer jy ‘n wapen hanteer.

Optrede t.o.v. toerusting wat gebruik word

Toerusting sluit in voertuie en toebehore, persoonlike jagtoerusting soos wapens, ammunisie, messe ensovoorts. Verseker altyd dat die toerusting wat jy in die jagveld gebruik, in ‘n goeie toestand is, en dat jy dit só gebruik dat jy nie ander jagters, gidse of helpers se lewe in gevaar stel of hulle onnodiglik verontrief nie. Onpadwaardige voertuie kan jou nie net langs die pad of in die veld laat staan nie, maar kan ook jou of jou makkers se lewe kos. Deur voldoende plaasvervangingsonderdele en die nodige gereedskap saam te neem, kan ‘n jagtog wat deur teenspoed in die wiele gery kon word, gered word. Onthou, dis gewoonlik nie net jou eie jagtog wat dalk ontwrig of afgestel word nie, maar ook die van jou mede-jagters. Die oorgrote meerderheid mense werk hard om op verlof geregtig te wees. Indien dit deur jou nalatigheid as voertuigeienaar /voertuigverskaffer vir die jagtog, vermors word, het dit ‘n effektiewe verlies aan inkomste tot gevolg, wat substansieel kan wees. Boonop is daar die koste van die jagtog self, wat nou verkort of afgelas moet word.

Bestuur versigtig in die veld

Die passasiers wat dalk agterop die bakkie is, het nie soos jy ‘n stuurwiel om aan vas te hou nie, en enige stampe deur slote of oor klippe is baie meer geaksentueer oor die agteras waar hulle sit/staan. Van my benoudste oomblikke in die jagveld was nie die agt treё van ‘n olifantbul af, of die buffel wat aan’t storm was nie (waaroor ek beheer kon neem), maar wel die uiters onverantwoordelike gejaag (waaroor ek op daardie stadiums

geen beheer gehad het nie) van ‘n mede-jagter deur die veld of op twee-spoor veldpaadjies. Pas jou spoed in die veld aan by die toestand van die pad/terrein.

Wanneer ‘n wen-as gebruik word om ‘n voertuig wat vasgeval het uit te sleep, of om ‘n groot karkas te laai, moet dit in ‘n goeie toestand wees. Ernstige ongelukke het al plaasgevind wanneer die kabel breek. Wees ook bedag op die hefboom/handvatsel van ‘n donkie-domkrag (“high-lift jack”), veral as die voertuig laat sak word. Daar was al noodlottige gevolge van ‘n hou daarvan teen die kop.

Dis die stomp messe wat gewoonlik snywonde veroorsaak, en verkeerde of foutiewe ammunisie wat ‘n wapen in jou gesig kan laat ontplof, en dikwels ook jou gids of mede-jagter beseer. Moenie toerusting wat vir ‘n spesifieke doel ontwerp is, vir ‘n ander doel probeer aanwend nie, behalwe in noodgevalle. Stel betyds ‘n lys op van toerusting wat jy gaan benodig, en ondersoek en toets kamptoerusting vooraf. Dis nie lekker om in die veld uit te vind dat jy ‘n paal vir jou tent mis, dat jou lugmatras lek of dat jy jou Minus 10 slaapsak by die huis vergeet het. Dit plaas druk op jou konsidererende makkers om van hulle toerusting aan jou af te staan of met jou te deel, wat afbreuk sal doen aan hulle eie kamp ondervinding.

‘n Jagter wat nie ‘n verkyker het nie, is soos ‘n werktuigkundige sonder gereedskap of ‘n rekenmeester sonder som-pompie. As jy nie ‘n waterbottel of ander waterhouer besit en byderhand het nie, is jy myns insiens ‘n vandie-bakkie-af skieter. Ek gaan egter nie hier verder uitbrei oor die voorbereiding wat ‘n jagter behoort te tref om suksesvol te kan jag nie, maar net die leser verwys na die artikel “Preparing to be fit to Hunt”, wat in die April tot Junie 2013 uitgawes van Wild & Jag verskyn het.

Optrede t.o.v. die prooi Die prooi van jou suksesvolle jagtog is daardie party wat altyd aan die kortste end trek. Dit kos hom sy lewe!

Die jagter moet altyd sy prooi met die nodige respek behandel, en moet dit altyd nastreef om sy prooi SO VINNIG EN PYNLOOS AS MOONTLIK TE DOOD (die sogenaamde “First Rule of Ethics”). Dit behoort natuurlik altyd plaas te vind binne die konteks van Billike Agtervolging (“ Fair Chase”) en behoort die norm vir enige jagter te wees, en dit word gewoonlik in stand gehou deur te voet jag te maak op diere wat vry-lewend en selfonderhoudend is op grondoppervlaktes van voldoende grootte, waar hulle van die jagter kan ontsnap. Argumente deur bakkie-skieters, nagskieters of skuts wat hul prooi by die enigste watergat in die omgewing of by ‘n voerplek voorsit, dat dit die effektiefste manier is om ‘n vinnige en pynlose dood teweeg te bring, beïndruk my glad nie. Die “First Rule of Ethics” behoort nie die “Only Rule of Ethics” te word nie. Jagmetodes behoort alle onregverdige voordele vir die jagter te minimaliseer. Nagskiet en skiet van ‘n voertuig af mag dalk noodsaaklik wees as deel van die grondeienaar se wildbestuursprogram, maar kan geensins as jag beskou word nie. Moenie bewustelik jag maak op vroulike diere wat nog afhanklike lammers/kalwers het nie, of wat opsigtelik dragtig is nie. Laasgenoemde kan ‘n tameletjie wees, aangesien dit dikwels noodsaaklik is om ook vroulike diere te verminder as deel van die betrokke boer se bestuursprogram. Dis selde dat wild wat nie ‘n afhanklike lam/ kalf aan voet het, nie dragtig is nie. Die skiet van diere wat “hans” grootgeword het en hul natuurlike vrees vir die mens verloor het, kan ook nie binne die konteks van jag beskou word nie. ‘n Etiket in ‘n bok se oor behoort die jagter hond-segedagtes te gee of die bok mensgewoond is of nie. Deur wild by ‘n watergat of voer voor te sit en te skiet, het niks met jag te doen nie. In my opinie geld dit ook vir boogjagters, want al wat hy hoef te doen, is om geduldig te kan wag en ‘n goeie skoot te kan skiet. Min ander jagvernuf is hiervoor nodig.

Ken jou skootplasing vir een-skoot doodskote, en moet dit nie eens oorweeg om in ‘n trop in te skiet om te sien “wat bly lê” nie! Maak eers seker voor jy die skoot laat loop in digbegroeide areas. Dis maklik om ‘n ander bok agter jou prooi mis te kyk, en moderne ammunisie se penetrasie-vermoë kan maak dat jy ‘n ander dier kwes deurdat die koeël dwarsdeur jou prooi penetreer. Om deur enige plantegroei, hoe gering ook al, op ‘n dier te skiet is uiters riskant, maak nie saak watse kaliber jy gebruik nie. Projektiel defleksie is feitlik ‘n gegewe. Vermy skote op hardlopende wild, behalwe as jy baie ervaring daarin het. Verseker dat die kaliber en lading wat jy vir ‘n bepaalde spesie wil gebruik, effektief daarvoor is. Weermagoorsprong skerp-punt ammunisie (“solids”) is bv. nie geskik vir gewone jagdoeleindes nie, en ‘n .243 Win is bv. normaalweg nie geskik vir koedoebulle nie. Knap jou kennis oor basiese ballistiek en kalibers op, sodat jy wyse keuses kan maak waarmee om wat te jag.

Oefen gereeld sodat jy onder veldtoestande doodskote kan skiet, en doen alles in jou vermoë

om ‘n gekweste dier so vinnig moontlik op te spoor en te dood, al beteken dit dat jy vir ‘n dag of twee op sy spoor moet bly of hulp moet inroep. Weerhou jou daarvan om op enige ander dier te skiet terwyl jy nog na die gekweste dier soek, maak nie saak hoe ‘n fantastiese trofee dit dalk is nie.

Moet nooit disrespek aan die gestorwe dier toon deur dit bv. ongeërg te skop, of met die stewel om te rol nie. Wanneer foto’s van die dier geneem word, vertoon dit altyd in die beste moontlike,

lewensgetroue opstelling. Was alle bloed af of verbloem dit deur sand daarop te strooi, prop uithangende tonge terug in hul bekke of sny dit af, en steek die uitgangswond en moontlike gebreekte bene weg indien moontlik. Moenie met jou voet bo-op die dier staan of daarop sit nie. By groot diere soos olifante of seekoeie kan laasgenoemde dalk aanvaarbaar wees, waar die jagter dan bloot as skaal dien om die dier se buitengewone grootte aan te dui. Verwyder maar daardie sigaret uit jou mond, en moenie kos of drank by die dier wys nie. Jy het nie die reg om teleurstelling oor ‘n dier wat jy suksesvol gejag het, uit te spreek nie. As die trofee-gehalte nie is wat jy gehoop het dit moes wees nie (dalk net-net korter as die minimum Rowland Ward standaard), is dit jou eie skuld dat jy nie beter oordeel aan die dag gelê het nie. As die kondisie van die dier jou ook teleurstel, hou dit vir jouself. Jy het die dier geskiet. Die dier het geen beloftes t.o.v. horinglengte of kondisie aan jou gemaak nie, maar tog sy lewe verloor deur jou toedoen. Benut alles wat jy gejag het ten volle. Ek het ‘n klompie jare gelede al my respek vir ‘n mede-jagter (nogal ‘n hoogaangeskrewe naam in die jagbedryf!) verloor toe hy, ná hy ‘n elandbul na ‘n lang bekruippoging doodgeskiet het, al die sondes genoem in hierdie paragraaf gepleeg het. Hy was so teleurgesteld oor die karkas se maer kondisie dat hy dit geskop het, en met ‘n paar swetse gedreig het om die karkas in die veld te laat. Eers toe die grondeienaar die karkas verniet vir hom aangebied het, het hy beter begin voel en het op die ou end 240 kilogram vleis wat heel geskik was vir biltong en wors-maak doeleindes, verniet gekry. Ongelukkig het hy my en ‘n paar ander jong jagters se respek vir sy gebrek aan etiket, deur met disrespek teenoor die dier op te tree, vir altyd verloor.

In gesprekke om kampvure van Suid Afrikaanse jagters gaan dit ongelukkig meestal oor die skiet van die dier, en nie die jag daarvan nie. Daar word gespog met 300m plus skote, wat slegs ‘n aanduiding is van die skut se skietvermoë, nie sy jagvermoë nie. Die grootte en aantal diere wat geskiet is kry baie aandag, maar dis selde dat daar met ontsag van die dier, sy besonderse lewensgewoontes, die omgewing waarin hy gejag is en prag gepraat word. Ons kan gerus by die Europeërs, veral dié van Germaanse afkoms, gaan leer oor eerbiedvertoning aan die prooi en hul eeue-oue jagtradisies waar die prooi die middelpunt van hul belangstelling en eerbied is, maar dis ‘n artikel vir ‘n ander dag.