3 minute read

BOESMANLAND-TAK

Anthony Swift - Voorsitter

Advertisement

Boesmanlandjag se jaarlikse valplaat skiet is op 12 November 2022 aangebied op ‘n koel en winderinge Ramskop Skietbaan. Ongeveer 80 skuts het die uitdaging aangedurf om te bepaal wie op die verste afstand op teiken kan bly. Die beginsel is eenvoudig; elke deelnemer het 3 skote waarmee hy 3 valplate op elke gegewe afstand moet omskiet. Skuts was in een van 3 kategorieë ingedeel volgens hul wapen, nl. “bakkie”-, standaard- of opeklas. Die wind het veroorsaak dat heelwat deelnemers reeds vroegdag uitgeval het, maar die suksesvolle skuts het aanbeweeg tot op onderskeidelik 800m en 900m. Ons jongste deelnemer op die dag was Andre Hanekom (12 jaar) wat gevorder het tot op die 700m merk! Die Bakkie-klas was gewen deur AJ Botha (jnr) wat tot op 800m gevorder het. Standaard klas is op 900m gewen deur Evan Lategan, en die Ope klas is deur Johan Kühn verower op 900m. Na die skiet het deelnemers na die klubhuis beweeg vir ‘n gelukstrekking van pryse geborg deur Wildman, Wes-Kaap. Hierdie is reeds die negende jaar wat Gerhard van Rensburg (eienaar van Wildman Cape Gate) ons valplaatskiet borg en bywoon. Oudergewoonte was drie vuurwapens deel van die pryse wat deur middel van gelukkige trekking gewen kon word, daarom dat die skiet alombekend staan as ons “3-geweer-skiet”. Die Remington .308-geweer is gewen deur Rossouw van Eeden, die Remington .243 deur Johan Nothnagel, en die Taurus 9mm pistool is gewen deur Wicus du Preez. Na afloop van die prysuitdeling is daar heerlik saamgekuier rondom die spitbraai, wat geborg en beman is deur Cois Nel van plaaslike restaurant Ciela’s.

Vuurwapen wenners vlnr: Anthony Swift (Voorsitter) Wicus de Preez, Johan Nothnagel, Rossouw van Eeden, ons borg van die skiet - Gerhard van Rensburg (Wildman)

Boesmanland-tak

VELDBLOMSKIET

Op Saterdag, 20 September, het Boesmanland Jag hul jaarlikse gewilde Veldblomskiet op die Ramskop Skietbaan aangebied en altesaam 49 skuts het uit die Wes-Kaap en Noord-Kaap opgedaag. Die manne van Kuruman het selfs hul gekamoefleerde drag verruil vir vrolike geblomde hempde. ‘n Ghongbaan, jakkals en 3 ander teikens wat werklik ‘n uitdaging was, is opgestel. Veral die teiken wat soos ‘n skaakbord gelyk het, het heelwat skuts in skaakmat gesit en in die minus tellings laat eindig. Maar soos wyle Gert Lombard, jarelange bestuurslid van Boesmanland Jag en aan wie die dag opgedra is, altyd gesê het: “As mens by ‘n Veldblomskiet wegstap sonder ‘n minus, was jy die daar nie.” ‘n Spankompetisie is ook gehou. Spanne het R100,00 per span betaal vir die wenspan om als te vat. ‘n Plofbare teiken op 200 meter moes eers raak geskiet word voor die res van die span op ‘n seekoei kon losbrand, als binne een minuut. Die span wat 2de laaste geïndig het, het almal ‘n rol dubbellaag toiletpapier gekry wat darem hul amper neerlaag versag het teenoor die span wat laaste geëindig het, se “single ply”.

Na ‘n baie lekker ete en kuier is die volgende kategoriewenners aangewys: Seniors: Jan Immeman Dames en Bakkieklas: Mariëtta van Rooyen Standaard klas: JG Vlok Dagwenner: Franco Joubert. ‘n Spesiale dank aan ons borge vir die dag: Guns ‘n Bows en OK Grocer.

Louis Coetzee junior wenner. Jaarlikse ondersteuning van ons Kuruman bure in hulgeblemde hemde