
2 minute read
KAAPJAG PRESIDENT
JOHANN STRAUSS Die lewe sonder inperkings
Hoe lekker om sonder inperkings te lewe en te doen waarvoor ’n mens lief is en jou self te kan uitleef in die natuur en op die skietbaan. Ek was vanjaar by sewe van die nege takke van Kaapjag en elke tak is volstoom aan die gang om vir hulle Kaapjag lede die geleentheid te skep om hulle toegewyde status in stand te hou om sodoende hulle vuurwapens te behou. Die ander takke is op my lys.
Advertisement
Die aanslae teen ons as jagters en sportskuts raak al hoe meer en ons sal moet keer dat ons nie die stryd verloor nie, so moet saamstaan met ander lid- verenigings onder die sambreel van Chasa.
Alle lede weet nie wat Chasa vir die lede op die grond doen nie. Vir R140-00 wat dit ons kos vir elke ingeskrewe lid is dit baie geld vir Kaapjag om te betaal, maar ek dink ’n lid kry meer waarde uit as die geld wat hy betaal. Dink net aan jou vuurwapens waarvoor hulle baklei. Martin Hood is in Chasa se kamp. Stephen Palos wat weer als insit om die reg om te jag vir die lede te behou sodat jy elke jaar jou vleisie kan gaan haal. Wie het geweet dat die leier van ’n politike party ’n jagter is en glo aan volhoubare benutting? Stephan was nou die dag met hom in gesprek. Dink net wat kan so ’n persoon op daardie vlak vir ons beteken. Chasa kan nie al hulle strategie op die tafel sit nie, anders kan dit die saak vir hulle benadeel. Daar is goed waaroor ons ontevrede is, maar dit kan reg gestel word.
Dit is al weer die laaste uitgawe van die jaar wat gevlieg het. Oor ’n maand is dit Kersfees en die takke maak hulle reg vir hulle afsluit-skiete van die jaar wat altyd een van die lekkerste dae in die jaar is.
Lede, ek weet die tye is moeilik en dit gaan nie aldag maklik nie. Kom ons kyk of elke lid nie ’n nuwe lid kan werf en inskryf nie. Dit sal dit goed gaan met Kaapjag en kan ons nuwe dinge aanpak en dalk die ledegeld minder maak tot almal se voordeel. Wie weet, as jy genoeg lede inskryf wen jy dalk die geweer.
Ek wil aan die tak-voorsitters en hul bestuur dankie sê vir al hul insette en moeite wat hulle doen vir Kaapjag om ’n goeie beeld uit te dra. Die uitvoerende bestuur: Dankie vir al die tyd wat julle afgestaan het om Kaapjag se belange op die hart te dra en die beste besluite te neem tot voordeel van Kaapjag.
Dan kom ek by die grootste bate van Kaapjag, die kantoor wat altyd hulle bes doen om dinge vlot te laat loop en lede te help, al is dit soms na-ure. Dankie Matt en Miemie.
Dankie aan ons Hemelse Vader vir al die voorregte wat ons kan geniet wat ons as selfsprekend aanvaar, die talente wat ons gekry het en die natuur daar buite.
Die beste terapie is as jy daar in die veld alleen sit en wag vir ’n bok. Jy is weer ’n nuwe mens na die jag.
Geseënde Kerseees aan al ons lede en hul gesinne. Geniet die groot dae.
Kersgroete Johann Strauss