5 minute read

‘N KALAHARI JAGSTORIE

Deur: Jan Hanekom

Ek gaan nou een dag op ‘n nostalgiese trip deur die picasa photo file op my rekenaar en kom op hierdie foto af wat in 2016 geneem is tydens ‘n jagtrip in die Kalahari. Om hierdie foto in perspektief te plaas moet die agtergrond wat oor jare aanleiding tot die foto gegee het, geskets word. In 1978 word ek en my vrou, Karin, deur vriende van ons na een van hul ma/ skoonma se plaas in die Kalahari genooi vir ‘n wintervakansie in Namibië. Nouja, Kalahari beteken ‘n paar dinge, maar een daarvan is jag. Op daardie stadium was ek geensins ‘n jagter nie, maar my voorbereiding vir die trip het die koop van ‘n Kershaw mes en die skoonmaak van my kamera beteken. Om ‘n baie lang storie kort te knip … is ek die eerste aand ingelyf met al die seremonie wat met die skiet van jou eerste bok gepaard gaan… en het so verlief op die Kalahari geword dat ek vir Tannie Petru De Klerk net daar en dan laat belowe het dat sou sy eendag een van haar plase wil verkoop sy tog vir my sal bel om te hoor of ek op daardie stadium daartoe in staat sal wees om te koop. So het ek jaarliks die trip Kalahari toe aangepak en sommer in die veld gebly vir ‘n week of wat. Die een groot punt van bespreking was jaarliks die samestelling van ‘n aankooplys vir kruideniersware … die plaas is ver van die naaste dorp en die geriewe min en my vrou is nie ‘n kookmoeder nie. Vandaar my gelofte aan haar dat sy my gas kan wees wanneer ons in die Kalahari is. In 1994 laat weet Tannie Petru toe dit is sulke tyd en na ‘n baie mooi ander storie word die plaas Sans Souci toe gekoop. Nouja, ‘n boer moet ‘n bakkie hê en die lot val toe op ‘n derdehandse 1990 Toyota 2.2 Hilux wat ek By Johnny Smook … ‘n legende van die Paarl koop. Die eerste trek met daai bakkie, Kwagga, was iets ysliks, want daar was nie regtig ‘n woonhuis om van te spog op die plaas nie. Die trek het kinders, honde, spaar bande, ‘n houtstoof, matrasse, plastiektafel en stoele, ens agter op die bakkie en in ‘n sleepwa ingesluit. Omdat die kinders baie klein was is ons huishulp, kinderoppasser van daardie tyd, ook ingelaai en saam op hierdie jaarlikse winter vakansie plaas toe geneem. Hierdie tradisie word vandag nog voortgesit en Magda, ons huishulp van 24 jaar, se sitplek is bespreek nog voordat die res sitplek gekry het. So het sy saam met die kinders jaarliks gegroei en die plaas meer en meer geniet. Die seuns het van .22 gevorder na die 25-06 en .270. Die jare se skyfskiet en kwaaddoen om die huis

Advertisement

wanneer die groot mense jag is deur Magda, wat dan die rol van toesighouer moes vervul, gade geslaan en so nou en dan wanneer die .22 koeëltjies nog volop was het sy ook haar beurt gevat om teiken te skiet. Saans om die vuur (daar is intussen huis gebou en genoeg luukses aangebring) word die dag se jagstories met smaak ingekleur en ou skandes van verlede jaar word gou opgediep om hierdie jaar se skandes en mis skote te versag. Op ‘n stadium het Magda toe laat blyk dat sy ook graag ‘n skoot met die “groot geweer” op ‘n bok wil waag. Na weke se voorbereiding het die dag toe aangebreek dat Jan-Hendrik, die jongste van die seun,s besluit dat Magda vandag haar beurt moet kry. Die voorbereiding was groot en omdat sy nou die “rookie” jagter was is daar lootjies getrek wie die “back-up gun” gaan wees. Hierdie eer val toe weer vir Jan-Hendrik te beurt. Met al die voorbereiding en “pep talks” vat die twee toe pad na die jagkamp met Pa Jan wat bestuur en die jagmeester vir die trip is. Soos dit nou maar gaan is die keuse van die bok ‘n groot ding, want Magda se eerste bok moet ‘n mooi size ram wees. Dan is die bok te ver, dan is die bok te klein, dan is die bok se horings nie mooi genoeg nie, dan is dit fout, dan is dat fout en die jagmeester se geduld word al hoe minder en Jan-Hendrik meer senuagtig as normaal, want hy is deeglik bewus van die hoë standaarde wat sy pa aan hulle gestel het. Uiteindelik is alles ewe skielik 100% reg. ‘n Mooi groot ram is sommer hier by hulle en daar word aangelê. Daar ontstaan ‘n fluistergesprek tussen Magda en die “back-up gun” oor waar die skootplasing moet wees, hoeveel tyd daar nog oor is van die drie sekondes, as die bok sy kop so draai gaan hy nou-nou loop. “Jy moet nou skiet” word Magda aangemoedig, half beveel, en toe klap daar twee skote, want die “back up gun” kon net nie hierdie “sitter” geleentheid laat verbygaan nie. Die bok het net daar in sy spore geval en die natuurlikste vraag wanneer twee skote gelyktydig klap is, wie het waar gemik? Die antwoord kom eerste van Jan-Hendrik. Die nek was Pa, en so ook kondig Magda aan dat haar skoot ook op die nek was waar sy gesê is om te skiet. Nouja, nodeloos om te sê, die skoot is deur die nek, maar hier is waar dit nou weer in ‘n storie vir om die vuur daardie aand ontaard het. Daar was net een skoot deur die bok. En soos dit met enige mooi skoot gaan, dit word deur almal wat ‘n sneller getrek het “ge-claim”. Daar was ook geen keuse nie en foto’s is geneem van albei skuts by dieselfde bok, wat albei na bewering gejag het. Wie weet miskien was daai 2 skote dalk deur dieselfde gat. Die biltong was nog steeds lekker en die storie om die kampvuur ook.