25 September 2019 WELLINGTON

Page 1

Swartland • Bergrivier 1

NUUS • NEWS

25 September 2019

Jou bron van goeie nuus Tel: 022 487 3221 • www.hetzwartland.co.za

25 September 2019

bl 3

Onthou Wellington in Erfenismaand Leerders hou dorp skoon

bl 2

Leerders skitter by matriekafskeid

bl 3

Netwerk bring hoop vir gevangenes

bl 5

Wellingtonners kuier by plaasmark

bl 6


2

NUUS • NEWS

25 September 2019

Hugenote Laer hou dorp skoon

Vir die afgelope 20 jaar help Hugenote Laerskool jaarliks om Wellington se strate skoon te maak. Hul Rommelprojek, wat elke jaar as 'n fondsinsamelingsinisiatief geloods word, help hulle nie net om broodnodige fondse vir die skool te genereer nie, maar leer die leerders ook om na hul omgewing om te sien. Die inisiatief sluit ook by die skool se waardes van goeie burgerskap, respek en omgee aan.

Wellingtonner praat by Ondersteuningsgroep Die Wellington Ondersteuningsgroep het op Dinsdag 17 September ‘n byeenkoms in die Martha Saal van die Moedergemeente gehou. Die Wellingtonner Lizma van den Berg het as spreker by die geleentheid opgetree. Susan van Rensburg het die verrigtinge met ‘n voorlesing uit een van Annalize Wiid se boeke geopen. Hierdie voorlesing uit “Engele dra nie net wit nie” was ‘n gepaste inleiding vir Lizma se praatjie wat sou volg. “Gewone mense in gewone klere, vir wie dinge miskien nie altyd maklik is nie, is dikwels die engele in ons midde. Engele is nie net bo-aardse wesens wat harp speel op spookasemwolkies nie. Dit is mense wat sien wat ons nie wys nie en hoor wat ons nie kan sê nie,” het Susan gesê. Lizma, wat ‘n gepubliseerde skrywer van verskeie kinderboeke is, het haar lewensverhaal met die groep gedeel. Ten spyte van die talle probleme, struikelblokke en terugslae wat sy al beleef het, is haar verhaal een van hoop. Die uitdagings wat sy al langs haar lewenspad moes aandurf, is meer as waarmee die meeste mense in ‘n leeftyd te doen kry. Tog het haar positiewe gesindheid en geloof haar deur dit alles staande gehou. Lizma het van haar verkragting as tiener, sowel as die impak wat dit op haar gehad het, vertel. “Die ervaring het my depressief, hartseer en eensaam gelaat. Ek het oral ontuis gevoel en het ‘n ontsnapping in boeke gevind,” het sy vertel. Sy het vertel hoe sy haar droomman op universiteit ontmoet het, hoe hul verhouding as gevolg van afstand skipbreuk gely het, hoe sy buite-egtelik swanger geraak het en die kind moes afgee en hoe sy uiteindelik weer met haar droomman uitgekom en met hom getrou het. Lizma het ook oor haar uitdagings rondom ‘n ernstige rugbesering wat sy by ‘n gimnasium opgedoen het, vertel. Die nuus dat haar man aan ADD en depressie ly, het hulle egter nie verhoed om soos gewone jong getroudes die uitdagings aan te durf nie en hul oudste dogter is ‘n paar jaar na hul troue gebore. In 1986 het hulle na Wellington verhuis. “Ons het van die begin af agtergekom dat ons oudste dogter velsensitief is en nie van teksture hou nie. Ons jongste dogter is ook later gebore en sy het altyd die leiding geneem, terwyl die oudste haar gevolg het,” het Lizma vertel. In hul oudste dogter se graad R-jaar is daar erge uitvalle by haar gediagnoseer en intensiewe toetse en terapie het gevolg. Sy is ‘n jaar teruggehou om eers skoolgereed te word. Haar graad 1 jaar, waar sy na die Paarl Skool moes gaan en in die koshuis moes bly, was vir haar baie traumaties. Dit het Lizma in depressie laat verval en sy is op medikasie geplaas. “Ons het soveel aandag aan ons oudste gegee dat ons jongste ons daarvoor kwalik geneem het. Die Paarl Skool het in graad 3 laat weet dat hulle

nie meer ons oudste daar kon akkommodeer nie en sy is na die spesiale klas by Hugenote Laerskool. Haar jonger sussie het haar doodgeskaam om ‘n suster in die spesiale klas te hê. Die oudste se probleem met sweet, aknee en gepaardgaande higiëne het vir verdere ongelukkigheid by ons jongste gesorg,” het Lizma vertel. Hul oudste is later na De Grendel Skool en daar is bevind dat sy net 5% sig het. “Sy het geen selfbeeld gehad nie, gesukkel om mense te lees en kon nie onder druk of selfs onder normale omstandighede tussen mense funksioneer nie. Sy is na die Boland Kollege, maar kon geen kursus voltooi nie,” het Lizma gesê. Ten spyte van haar tekortkominge het hul oudste ‘n jong man, wat ‘n sekuriteitswag in Worcester was, ontmoet en ‘n verhouding het uit hul vriendskap ontwikkel. Hulle het later getrou. Kort daarna het sy met ‘n tweeling swanger

geraak. “Die tweeling is prematuur gebore en ons dogter en haar man het met die babas by ons kom woon. As gevolg van ons skoonseun se traumatiese kinderlewe en ons dogter se gestremdheid was daar baie rusies en onmin. Dit was chaoties en ons dogter het ‘n ineenstorting gekry. Ek en my man het die tweeling se primêre versorgers geword. Ons dogter is met bipolêre gemoedsteuring gediagnoseer,” het Lizma vertel. Tydens haar dogter se terapie het dit aan die lig gekom dat sy as dogtertjie deur ‘n familielid betas is - iets wat groot drama in Lizma se familie veroorsaak het. Intussen is die tweeling ook met ADD en hul pa met depressie obsessiewe kompulsiewe gedrag gediagnoseer. Nadat hy ‘n ineenstorting gehad het, is hy boonop met bipolêre gemoedsteuring

gediagnoseer. Ten spyte van Lizma se stryd as gevolg van haar familie-omstandighede, is haar kinderboeke vir publikasie aanvaar. Sy en haar man het in 2017 volle voogskap oor die tweeling gekry. Haar dogter, haar skoonseun en die tweeling is ook met outisme gediagnoseer. Die amper-onwerklike teenspoed en uitdagings wat oor die jare oor Lizma se pad gekom het, het haar nie negatief gelaat nie. “Ek weet my doel is om onvoorwaardelike liefde en genade vir my kinders en kleinkinders te hê. Ek is dankbaar vir die perspektief op ons gesin. Die stormjare met ons oudste dogter het ons voorberei vir die sikloon waarmee ons nou sit. Ek het geleer om te fokus op die hede - dit is ‘n geskenk. Jy is van geen mense vir jou geluk afhanklik nie - dit is in jou eie hande,” het Lizma gesê.


NUUS • NEWS

25 September 2019

Onthou Wellington se erfenis in Erfenismaand

3

Ons het pas ‘n heerlike vakansiedag agter die rug en sommige mense het selfs ‘n lekker langnaweek daarvan gemaak. Elkeen kon op sy eie manier Erfenisdag vier. Op hierdie nasionale vakansiedag word Suid-Afrikaners aangemoedig om hul kultuur en die diversiteit van hul geloof en tradisies, in die breër konteks van ‘n nasie wat aan al sy mense behoort, te vier. 24 September het oorspronklik in KwazuluNatal as Shaka Dag bekendgestaan om die geraamde sterfdag van dié Zoeloe-koning te gedenk. Die nuwe demokratiese parlement het hierdie datum in 1995 as Erfenisdag op ons land se vakansiekalender verewig met die hoop dat die diverse kulturele erfenis van ons reënboognasie en die bydraes van alle mense tot die opbou van ons land op hierdie dag gevier sal word. Oud-president Nelson Mandela het self die woord “reënboognasie” bedink om Suid-Afrika se uiteenlopende kulture, gebruike, tradisies, geskiedenisse en tale te beskryf. Erfenisdag moes ’n viering van daardie kleurryke verskeidenheid wees. Dit is aan die Department van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, as beskermer van Suid-Afrika se kultuur, opgedra om jaarliks byeenkomste op ‘n nasionale vlak vir Erfenisdag te reël en te bestuur. Die eerste Erfenisdag is op 24 September 1995 gevier. Erfenisdag gaan egter nie net oor die eie kulture van afsonderlike groepe nie, maar veral ook oor uitreiking oor die verskillende kultuurgrense heen. Elemente van nasionale eenheid, nasiebou, versoening en landspatriotisme moet dus benadruk word. Die doel is ook om veral die jeug aan te moedig om Suid-Afrikaners se gedeelde erfenis in ere te hou. Erfenis is al omskryf as “dit wat ons geërf het: die somtotaal van die natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur, musiekstukke, mondelinge tradisies en museumversamelings saam met hul dokumentasie.” As sodanig staan dit ook nie los van die politieke verlede van Suid-Afrika nie. Soos oudpres. Mandela op die tweede Erfenisdag in 1996 in ‘n toespraak gesê het: “As ons nasie inderdaad

soos die spreekwoordelike feniks uit die as van verdeling en konflik moet verrys, moet ons erkenning gee aan diegene wie se onbaatsugtige werke en talente toegewy was aan hierdie doelwit van ’n nie-rassige demokrasie.” Intussen het Erfenisdag ‘n braaigeurtjie gekry. Inwoners van ons land maak immers al vir duisende jare lank kos oor oop vure gaar. Aartsbiskop Desmond Tutu, wat ‘n beskermheer van die “Braaidag”-inisiatief is, het dit as ‘n verenigende krag in ‘n verdeelde land beskryf. Buiten die talle braaivleisvure wat Dinsdag op Erfenisdag in Wellington aangesteek is, is daar ook talle ander dinge, bakens en gebeurtenisse wat ons aan die ryke erfenis in ons vallei herinner. Ons staan op die skouers van die spreekwoordelike reuse wat voor ons die weg hier gebaan het. Ons bou voort op dít wat hulle tot stand gebring het en ons probeer versoening teweeg bring waar hul besluite dalk skade berokken het. In Wellington word ons élke dag aan ons erfenis herinner. Waar ‘n mens ookal in tydens jou alledaagse bedrywighede in ons dorp beweeg, is daar oral bakens en name wat ons omgewing en herkoms se ryk erfenis eggo. Die talle historiese geboue, Bainskloofpas, die Lady Loch brug, die straatname, die boerderybedrywighede en die opvoedkundige instellings in Wellington is maar ‘n paar van die dinge wat na dekades nog steeds daagliks ons erfenis vergestalt. Één ding wat egter soos ‘n goue draad deur dit wat in Wellington afspeel, loop - deur die verlede, maar ook vandag - is die feit dat ons mense vasbyt en deurdruk. Wellingtonners werk met wat hulle het, sien nood raak en spreek dit aan, en hulle werk saam om die wa hier in Wamakersvallei deur die drif te kry. Dít is ook deel van ons erfenis. Indien jy dit nie onlangs gedoen het nie, moet jy jouself miskien ‘n guns doen en ‘n roetekaart van Wellington se Erfenisroete by die plaaslike Museum of by ons dorp se Inligtingskantoor kan kry. ‘n Lekker voetslaansessie deur ons strate in die heerlike lente-weer is dalk net die regte ding om ons weer ons ryke geskiedenis en erfenis te laat waardeer.

vriende en familie wat die aankoms van die kinders wou gade slaan. ‘n Lang rooi tapyt is uitgerol waarlangs die matrikulante en hul metgeselle soos ware sterre, onder luide toejuiging en kamera-flitse, hul aankoms gemaak het. Vir bykans drie ure lank het die een luukse motor na die ander by die skoolhek ingery, die een galante heer na die ander ‘n deur vir sy metgesel oogemaak en die een droommooi rok na die ander oor die rooi tapyt gesweef. Die matrikulante kon in die skoolsaal aan heerlike

eetgoed peusel terwyl hul gewag het dat al hul klasmaats by die geleentheid aankom. Om agtuur het die hele klasgroep per bus na Rusticana, hul bestemming vir die aand, vertrek. Dit was ‘n aand van heerlike samesyn, lekker kos en ‘n danspartytjie wat tot middernag geduur het. “Dit is ‘n hoogtepunt in my skoolloopbaan en ‘n aand wat ek nooit sal vergeet nie. Dit was ongelooflik lekker,” het een van die matrikulante na afloop van die matriekafskeid gesê.

Leerders skitter by plaaslike matriekafskeid

Die matriekleerders van Hugenote Hoërskool het op Donderdag 19 September almal ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Die matrikulante en hul metgeselle het, uitgetof en gepoets, vir oulaas hul beste voetjie by die skool voorgesit toe hul vir die matriekafskeid opgedaag het. Leerders het reeds vroegmiddag vir die groot okkasie begin gereed maak. Hare, grimering, naels en uitrustings was Donderdag teen half 5 slaggereed vir een van die hoogtepunte van hul skoolloopbaan. ‘n Hele program, waarvolgens

die matrikulante vir hul aankoms by die skool ingedeel is, het verseker dat alles seepglad verloop. Wellington se strate, en veral Blouvleiweg, het laatmiddag met stinge luukse, sowel as antieke voertuie gespog. Oral in die dorp en op wynplase in die omgewing het fotograwe die paartjies in hul deftige klere op film vasgelê. ‘n Hele paar ouers se harte het van trots geswel. Die matrikulante se aantog by die skool was ‘n ware Hollywood-okkasie. Talle pawiljoene het sitplek verskaf vir die honderde nuuskieriges,


4

25 September 2019

Erik van der Merwe van Hugenote Laerskool is as die trofeewenner en beste deelnemer in die kategorie: Solo sang, beste laerskoolseun, Senior afdeling aangewys. Hier is hy saam met sy afrigter en begeleidster, Leana Engelbrecht.

NUUS • NEWS

Marike Duvenage, ‘n leerder van Hugenote Laerskool, het onlangs ‘n groot fotokompetisie gewen. Sy het ‘n foto van haar suster, wat sy met ‘n selfoon geneem het, vir die kompetisie ingestuur en is as die wenner in die kategorie vir skoolkinders aangewys. Die kompetisie het oor die hele Wes-Kaap gestrek.

Hugenote Hoër se koor hou gala-konsert

Die skoolkoor van Hugenote Hoërskool, o.l.v. Johann Enslin, het op Woensdag 18 September ‘n onvergeetlike Galakonsert voor ‘n stampvol saal aangebied. Dié jaarlikse instelling, wat in die Moedergemeente se kerksaal plaasgevind het, het oudergewoonte vir talle hoogtepunte gesorg. Schalk Wasserman het vir die perkussie gesorg en Winand Grundling het as begeleier opgetree. Die soliste wat saam met die koor opgetree het, was die oud-koorlid Clarina Solomon, die matrikulant Suné van Niekerk, Jan Olivier, ‘n onderwyser by die skool, sowel as die bekende sanger, André Terblanché. Die hoërskoolkoor, wat hierdie jaar uitstekende resultate by die Nasionale ATKV Applous Koorkompetisie behaal het deur ‘n goue toekenning te verwerf, het die gehoor tydens die Gala konsert in vervoering gehad. Die koor

het ‘n verskeidenheid werke uit hul uitgebreide repertoire uitgevoer. Uitstekende vertolkings van verskeie gewyde liedere, waaronder “Soos ‘n wildsbok”, Psalms 16 en 23, sowel as Panis Angelicus, met Jan Olivier as solis het die vertoning afgeskop. Dit is gevolg met Laudate Dominimum waar Clarina Solomons as solis opgetree het. Tradisionele musiek, Afrikaanse liedjies, sowel as bekende en gewilde musiek het die gehoor meegesleur. Onder die gunstelinge was “When you believe” uit Prince of Egypt, Kyk hoe glinster die maan wat deur Laurika Rauch bekendgemaak is, Lig op die horison van Joshua na die reën, This is me uit The Greatest Showman, Baba Yetu en die tradisionele Zululied, Sizongena Laph’emzini, waarmee hulle die vertoning op ‘n hoë noot afgesluit het. Soos wat jaarliks die gebruik is, het ‘n

spesiale gaskunstenaar ook saam met die koor opgetree. Hierdie jaar was dit niemand anders nie as André Terblanché. Hy is ‘n sanger, akteur, besigheidseienaar en entrepreneur wat onder andere al te sien was in die kykNet-reeks, Die Boland Moorde en Klavier kuiers met Pedro op Via. Hy speel gereeld in radiodramas en vervolgverhale en het in die musiekvertonings ”Boontoe” by die KKNK en “Voete van ‘n gemsbok” vir die RSG Oppiwater Kunstefees op die MSC Simfonia passasierskip verskyn. Hy het ook onlangs sy eerste cd bekendgestel en sal in Oktober vanjaar in die rol van Daniël in die musiekblyspel, “Daniël the Musical”, met ‘n speelvak in die Jerusalem Teater in Jerusalem, Israel, te sien wees. Sy vertolking van onder andere “Proud of you boy”, uit Alladin, “Bethlehem Blues” en “Hands of

man” van Chris de Burgh, wat hy saam met die koor gesing het, het vir groot vermaak gesorg. Die koorleier, Johann Enslin, het al sy mentors, al die borge, ondersteuners, ouers en gemeenskap vir hul ondersteuning bedank. “Al die prestasies wat ons koor behaal het en al die geleenthede wat ons kon kry, sou nie sonder al die ondersteuning moontlik wees nie,” het hy gesê. Die aand is op ‘n hoë noot afgesluit toe die koor, André, soliste, ‘n paar oud-koorlede, sowel as die gehoor interaktief die geliefde Piano Man van Billy Joel saamgesing het. Met hierdie vertoning het Johann Enslin en sy koor weereens die harte van die gehoor verower, wêreldklas-musiek toeganklik en genotvol gemaak en tot op ons voorstoep gebring.


NUUS • NEWS

5

25 September 2019

Ulrich se netwerk bring hoop vir gevangenes

Die span by Networking for Christ bestaan uit Salomie Johannes, maatskaplike hulpwerker, Ulrich Lottering, die besturende direkteur en stigter, Audrey Abrahams, maatskaplike werker, Jade Adams, ‘n vrywilliger, Egrim Franse, ‘n student in maatskaplike hulpwerk en Francis Solomons, die administratiewe klerk. Die Wellingtonner Ulrich Lottering is iemand wat nie net groot droom nie, maar sy passie elke dag uitleef. Hierdie innemende, nederige man is die stigter en besturende direkteur van ‘n plaaslike nie-winsgewende organisasie wat hulle vir daarvoor beywer om gevangenes te help rehabiliteer, nasorg na vrylating te bied en hulle in die gemeenskap te help reïntegreer. Vir Ulrich is die werk wat sy organisasie, Networking for Christ, doen ‘n roeping en ‘n passie. Sedert hy ‘n paar jaar gelede na sy hart geluister, sy werk bedank en Networking for Christ gestig het, het hulle van krag tot krag gegaan. Ulrich, wat aan die Hoërskool Humansdorp, waar hy onderhoofseun van die skool en hoofseun van die koshuis was, gematrikuleer het, is ‘n gesinsman wat al sedert sy kinderjare ‘n omgee-hart vir mense het. Sy geloof, vrou en drie kinders is die dryfveer agter alles wat hy aanpak. “Ek het van kleins af ‘n begeerte gehad om mense te help. Ek wou nog altyd uitstaan vir die Here. So vier jaar gelede het ek die roeping gekry om as vrywilliger by tronke betrokke te raak. Ek was dadelik gehoorsaam en het aansoek as vrywilliger by die plaaslike gevangenis gedoen. Ek is aanvaar en het daar as ‘n spiritual volunteer begin werk,” vertel hy. Sedertdien het Ulrich se aanvanklike vrywilligerswerk tot die ontstaan van Networking for Christ gelei. Hierdie organisasie bedien tans agt tronke in die omgewing en het suksesvolle programme ontwikkel waarmee gevangenes bemagtig word en gehelp word om in die gemeenskap aan te pas na hul vrylating. Volgens Ulrich het hul drie programme, naamlik Jeugontwikkeling, Tronkbediening en Nasorg vir post- en pre-vrygelate gevangenes. “Ons organisasie is ‘n verhaal van geloof. Ons het dit as ‘n verlenging van die liggaam

van Christus begin en ons fokus op bemagtiging en ontwikkeling van sisteme en strukture wat gemeenskappe en families kan hoop gee en oplig. Ons wil mense ondersteun en ons het ‘n groot fokus op die jeug en op mans,” sê hy. Hulle tronkbediening strek oor die hele Drakenstein area. “Die vyf tronke in die Drakenstein gebied huisves bykans 7 000 gevangenes per jaar. Baie van hulle neem nie aan enige korrektiewe of rehabilitasieprogramme deel nie. Dit beteken dat hulle in dieselfde toestand, indien nie nog slegter nie, na die gemeenskap terugkeer. Hulle verval maklik weer in hul ou gewoontes en dit is dikwels nie lank voordat hulle maar weer in die tronk beland nie. Ons probeer hierdie siklus breek,” verduidelik Ulrich. Networking for Christ bied elke Maandag, Dinsdag en Donderdag tronkbedieningsprogramme aan en hulle is elke tweede Sondag by Hawekwa Korrektiewe Sentrum. Een keer per maand bied hulle ‘n kerkdiens by die Drakenstein Tronk aan en hulle het ook met ‘n musiekprogram begin om met die rehabilitasieproses te help. Ulrich en sy span help ook met die gevangenes se herintegrasie in die gemeenskap na hul vrylating. “Daar is gewoonlik geen ondersteuningsnetwerk wat hul help om verder te ontwikkel en moontlikhede en geleenthede te ondersoek nie. Nasorg en herintegrasie is vir ons baie belangrik om die gevangenes effektief in die gemeenskap te help aanpas,” verduidelik hy. Hy droom daarvan om eendag ‘n nasorgprogram wat tydelike verblyf en vaard igheidsontwikkelingswerkswinkels insluit, te bedryf. Op die oomblik het die organisasie ‘n Sosiale Misdaadvoorkomingsprojek wat voormalige oortreders bystaan en help om weer sinvol deel van die gemeenskap te word. Hierdie projek behels familiesorgdienste,

terapeutiese en beradingsdienste, opvoeding, geestelike versorging, jeugmentorskap, vaardigheidsontwikkeling, middelafhanklikheidsdienste en ander ondersteuningsdienste wat op die behoeftes van die voormalige gevangenes geskoei is. Ulrich en sy span se Jeugontwikkelingsprogram is eweneens iets waarmee hulle voorkomend in gemeenskappe wil optree. Hulle glo dat positiewe jeugontwikkeling deur die “groter prentjie” gevorm word en dat jongmense dikwels die resultaat van hul omstandighede en verwysingsraamwerk is. “Tussen die ouderdom van 10 en 24 is jongmense op soek na maniere om hul fisiese, materiële, emosionele en geestelike behoeftes te bevredig en om konneksies te bou wat hulle as belangrik vir hul groei en ontwikkeling sien. Ons probeer ‘n rol speel in al hierdie behoeftes om ‘n positiewe alternatief vir dit wat hulle in hul gemeenskappe sien en beleef, te bied,” sê Ulrich. In hul nasorgprogram probeer hulle die siklus van sorg voltooi. “Ons glo dat individue aan ‘n familie behoort en daarom betrek ons die families by die nasorgprogramme. Ons probeer die familiedinamika versterk en ondersteun die hele familie met óf die verwydering óf die terugkeer van ‘n familielid,” verduideli Ulrich. Uit die aard van die saak gaan die werk wat Networking for Christ doen, met talle uitdagings en struikelblokke gepaard. “Ons sukkel soms om die ouers in die hande te kry omdat hulle werk. Van die outjies het nie adresse wat hulle vir ons kan gee nie. ‘n Groot uitdaging is vervoer. "Ons moet na ons kliënte en hul families gaan en hul optel vir sessies en ons het nie altyd vervoer hiervoor nie. Basiese dinge soos kospakkies is ook ‘n groot behoefte. As ons by ouers aankom, sien jy dat hulle werkloos is. Wanneer hul kind dan uit die tronk terugkeer en

daar is nie eers basiese dinge soos kos nie, verval hul maklik weer in hul ou gewoontes om kos op die tafel te sit. Die gevangenes kry nie maklik werk nie omdat hulle ‘n kriminele rekord het. Dit veroorsaak dat hulle nie vinnig finansieël tot hul huishouding kan bydra nie,” sê Ulrich. Ander behoeftes en drome van Networking for Christ is dat hulle ‘n voltydse herintegrasiebeampte kan aanstel. Hulle wil ook graag meer mense hê wat hul programme by ‘n groter aantal gevangenisse kan aanbied. Die talle suksesverhale en welslae wat hulle al met hul programme behaal het, is iets waarop Ulrich en sy span baie trots is. “Van die ouers wat deur traumatiese tye gegaan het en amper opgegee het op hul kinders, sowel as die ex-gevangenes wat deur hel gegaan het en by bendes en dwelms betrokke was en vandag suksesvol gerehabiliteer is, wat werk en nou vir ander ‘n voorbeeld kan wees, is die dinge wat ‘n mens hoop gee,” sê Ulrich. Hy en sy medewerkers maak ‘n gedugte span. Salomie Johannes, ‘n maatskaplike hulpwerker, Audrey Abrahams, ‘n maatskaplike werker, Jade Adams, ‘n vrywilliger, Egrim Franse, ‘n student maatskaplike hulpwerk en Francis Solomons wat die administrasie behartig is almal deel van die groep by Networking for Christ wat die wiele glad laat loop. “Ek lewe volgens die beginsels van die Here. Ek het ‘n passie vir mense. My geloofsverhouding maak my seker van die rede waarom ek hier is - en dit is om mense, veral gevangenes, te help. Dit is lekker om elke oggend wakker te word en te weet jy is besig met waarvoor jy geskape is,” sê Ulrich. Die gemeenskap kan by die werksaamhede van Networking for Christ betrokke raak deur hul vaardighede aan te bied, skenkings te maak of met vervoer te help. Belangstellendes kan hulle by 078 169 7005 of info@nfcsa.org.za vir meer inligting kontak.


6

NUUS • NEWS

25 September 2019

Oud en jonk kuier by Plaasmark

Wellingtonners kon op Saterdag 21 September hulself weer in die rustige atmosfeer en wonderlike plaaslike produkte van die Wellington Plaasmark verlustig. Hierdie mark, wat nou al ‘n maandelikse instelling geword het wat Wellingtonners nie wil misloop nie, het die afgelope Saterdag oudergewoonte by Oude Wellington plaasgevind. Soos gewoonlik, was dit ‘n heerlike kuiergeleentheid waar mense die beste, varsste plaaslike produkte kon bekom. Selfs die aanvang van die skoolvakansie en die Springbokke se eerste Wêreldbekerwedstryd het nie ‘n demper op die gewildheid van hierdie mark geplaas nie. Talle Wellingtonners het opgedaag om in die heerlike lenteweer by die mark te kom rondsnuffel en ontspan. Die ontspanne atmosfeer teen ‘n plaasagtergrond, gekombineer met die geure van heerlike kos en die klank van lekker musiek het gemaak dat besoekers hul selfone ‘n bietjie afgeskakel het, die vars plaaslug kon inasem en tussen die interessante stalletjies kon ronddrentel. Die fokus op ‘n plaasatmosfeer, organiese produkte, nisprodukte, handgemaakte items en heerlike kos, tesame met die ponieritte, buitelugspeletjies, gesigverf en klimrame vir die kinders, het die Plaasmark weereens die plek vir ‘n heerlike gesinsuitstappie gemaak. Die fokus op kinders wat met die afgelope Plaasmark gegeld het, het vir ‘n nuwe dinamika by hierdie gewilde instelling gesorg. Buiten die talle stalletjies met interessante items vir kinders, kon kinders self ook stalletjies by die mark beman. Interessante handgemaakte items, wat deur kinders self gemaak is, is by hul stalletjies verkoop. Met hierdie inisiatief het nie net die aantreklikheid van die mark vir jonger besoekers ‘n hupstoot gekry nie, maar die entrepreneurskapvaardighede van ons dorp se kinders is ook geprikkel, ontwikkel en ten toon gestel. Die gebruiklike kosskuur, pannekoeke, pampoenpoffertjies, tuisgemaakte pasteie en wafels, potjiekos en jaffles, ‘n plaasontbyt, Kaapse koesisters en ‘n koffie- en sopkroeg het vir oorgenoeg opsies om die vleeslike te versterk gesorg. Die heerlike koeke, brode en kase, sowel as die talle stalletjies met vars groente en vrugte, snuisterye, handgemaakte produkte, geskenke, leerprodukte, plaaslike wyn, bier en gin was die regte bestanddele in ‘n perfekte resep vir ‘n heerlike dag in die Boland. Sedert die Plaasmark op 4 Mei vir die eerste keer buite ons dorp afgeskop het, hoef Wellingtonners nie meer ver te ry om interessante handgemaakte items, vars produkte, tuisgebakte brode, plante, geskenke en ander outentieke produkte uit te snuffel of te koop nie. Die honderde mense wat Saterdag weer daar opgedaag het en die mate waarin die mark elke maand groei, is ‘n getuienis dat hierdie inisiatief ons eie produkte na ons eie mense bring en met hul harte praat.

Polisie-Veiligheidsmaand in Wellington gevier September is Polisie-Veiligheidsmaand en die plaaslike SAPD het op Woensdag 18 September ‘n spesiale geleentheid georganiseer om die belangrikheid van hierdie kwessie te beklemtoon. Die Wellington Polisiebestuur en -lede het ‘n veiligheidsveldtog, waar die beskerming en veiligheid van polisielede bepleit en bevorder word, gereël. Gemeenskapslede, sekuriteitsmaatskappye, Wetstoepassing, die Gemeenskap Polisiëringsforum (GPF), plaaslike skole en die Verkeersdepartement het aan hierdie inisiatief deelgeneem. In die lig van die onlangse gewelddadige misdade teen vroue en kinders is ondersteuners van die inisiatief gevra om swart te dra om eenheid teen hierdie misdade uit te beeld. Die bevelvoerder van die Teen-bende Eenheid, Majoor-generaal Lincoln, het ook die geleentheid bygewoon. Talle plaaslike sekuriteitsmaatskappye het ook hul gewig agter die aksie ingegooi. Die aksie het op Woensdagoggend op die hoek van Pelikaan- en Blignautstraat afgeskop toe tientalle polisievoertuie, sekuriteitsvoertuie en voertuie van die Verkeers-, Teen-bendeEenheid en Wetstoepassingsdepartemente in konfooi deur die dorp vertrek het. Leerders en opvoeders van talle plaaslike skole wat aan die inisiatief deelgeneem het, sowel as lede van die GPF en SAPD het ter ondersteuning ‘n menslike ketting langs die roete van die konfooi gevorm. Nadat die voertuie deur die dorp gery het, het hulle by die Stadsaal aangedoen waar die res van die formele aktiwiteite rondom die inisiatief voortgesit is. Die see van veiligheids- en polisievoertuie wat voor die Stadsaal geparkeer was, het die erns en samehorigheid van alle betrokkenes ten opsigte van Polisie-veiligheid beklemtoon.

Die verrigtinge in die Stadsaal is met die sing van die Nasionale Volkslied geopen. Die bekende sangeres, Babalwa Meintjies, het hierin voorgegaan. Nadat kaptein Basil Seekoei van die plaaslike SAPs die verrigtinge geopen het, het Babalwa die gehoor ook met haar weergawes van Pata-pata, The lion sleeps tonight en Don’t worry vermaak. Kapelaan Bernardo het die byeenkoms op ‘n gepaste wyse geopen. Hy het daarop gewys dat geregtigheid slegs kan geskied en gedy as almal toesien dat dit ‘n prioriteit is. “Ons moet ‘n keuse maak om geregtigheid in ons gemeenskap sigbaar te maak deur ons wetstoepassers te ondersteun,” het hy gesê. Kolonel Barkhuizen van die plaaslike SAPD het die gaste toegespreek en beklemtoon dat Polisie-veiligheid, asook die veiligheid van ons sekuriteitsmaatskappye, almal se verantwoordelikheid is. “Ons is op ‘n fyn blou lyn tussen chaos en veiligheid in ons dorp en ons land. As ons offisiere veilig is, is ons gemeenskap ook veilig. Ons leuse is ‘beskerm en dien’ - iets wat ons net kan doen as ons self veilig is,” het hy gesê. Christine Marais, voorsitter van die plaaslike GPF, het in haar toespraak na die uitstekende diens wat Wellington se SAPS in die gemeenskap lewer, verwys. “Ek werk al vir 5 jaar saam met Wellington se polisie en al wat ek kan sê is, what a ride! Ek het nie woorde om dit te beskryf nie. Ek weet net: Wellington lead the way,” het sy gesê. Onder die talle hoogeplaaste gaste wat

die geleentheid bygewoon het, was Generaal Lincoln van die Teen-bende Misdaadeenheid,

Gerald Esau, Uitvoerende Direkteur van Gemeenskapsveiligheid by die Drakenstein Munisipaliteit en mnr. Cornellissen, hoof van die plaaslike Verkeersdepartement. Gerald Esau het tydens sy toespraak na die Drakenstein Munisipaliteit te verbintenis tot die veiligheid van die gemeenskap en SAPS-lede verwys. “Dit is die Munisipaliteit se plig om ‘n veilige omgewing te help skep. Die gemeenskap moet ons hande vat om dit moontlik te maak. Plaaslike regering se doel is dienslewering in die vorm van byvoorbeeld brandweer, wetstoepassing en verkeersdienste. Ons wetstoepassers moet saam met die polisie werk om ons gemeenskap veiliger te maak. Dit is egter ook ie gemeenskap se verantwoordelikheid om veilig te wees. Ons wil ook hê dat meer buurtwagte moet registreer en

ons wil ‘n verteenwoordiger in elke wyk hê. Die Munisipaliteit wil platforms gebruik om netwerke te herstig. Drakenstein is toegespits daarop om ‘n rol te speel in die voorkoming van misdaad en ons ondersteun ons SAPS,” het hy gesê. Die formaliteite van die byeenkoms is met sangitems deur onder andere offisier Gertze van die plaaslike SAPS afgewissel. Die plaaslike sekuriteitsmaatskappye het ook spreekbeurte gekry en die skoolhoof van Bergrivier Hoërskool, Anthony Cavernelis, het ook gepraat. Hy het sy dank teenoor die plaaslike polisie uitgespreek vir die rol wat hulle in die beveiliging van die gemeenskap, maar ook van skole speel. “Dit is vir my lekker om baie van Bergrivier Hoërskool se oud-leerders onder die lede van die plaaslike SAPD te sien. Ons polisie se reaksie is altyd baie goed en ek kry altyd uitstekende samewerking van hulle om ons skool te beveilig,” het hy gesê. Kolonel Barkhuizen het ook oor polisieveiligheid gepraat en ‘n paar wenke wat daartoe kan bydra, gedeel. “Ons doen gesamentlike operasies op ‘n daaglikse basis. Om lewendig te bly in ‘n land wat onder soveel misdaad gebuk gaan, is ‘n uitdaging. Die hoë persentasie gewelddadige misdade is kommerwekkend, maar ons polisielede kan begin deur basiese dinge reg te doen. Deur waaksaam en bewus te wees en gevaar te kan antisipeer, kan ons onsself beveilig,” het hy gesê. Die verrigtinge is afgesluit met ‘n seremonie waartydens kerse gebrand is om polisielede wat hul lewe in diens van die gemeenskap verloor het, te vereer. Hierdie kers-seremonie was ook ter bewusmaking van die gewelddadige misdade teen vroue en kinders, sowel as gesinne wat geliefdes aan misdaad afgestaan het.


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.