
1 minute read
Oudste werkende enjin
from DWN Aug 2021
Oom Hennie Swanepoel is al donkiejare besig om ou enjins en ander rare oudhede bymekaar te maak. Sy “museum” is ‘n merkwaardige versameling van alles en nog wat uit vervloë dae toe ons nog met handsentrales en Model T Fordjies oor die weg moes kom. Sy stories en vertellinge van die omgewing en sy mense, kan jou ure aan sy lippe laat hang en hy sal gou-gou vir jou ‘n enjin of twee aan die gang sit sonder dat jy eers hoef te vra. So het elke enjin sy storie oor waar dit vandaan kom en in watter toestand dit was voordat oom Hennie dit weer aan die loop gekry het.
Hy besit tans die oudste enjin in die Hoëveld se Veteraan enjinklub, ‘n Tangyes Continues Lamp 2 hp Hotbulp Oil Engine wat in Engeland vervaardig is in 1898. En dit is in werkende toestand! (Foto hierbo) Sy ou platespelers met ou 78 opm plate is iets ook om na te luister. Mens verlang skoon terug na die dae van opskop, melktert en skaapkop eet. Dankie oom Hennie vir jou omgee vir alles wat ander soms miskyk of selfs weggooi. Jy is een van ons De Wildt se weggesteekte juwele.
Advertisement

