2 minute read

Sien is glo

Phil Louw

Dit lyk my na mense soos ons se ou streek: Wanneer iets te goed is om waar te wees, dan sukkel ons om te glo. Dan oorrompel die twyfelagtige gedagtes ons en is dit dan ook nie vir ons altyd maklik om die regte keuses te maak of die regte besluite te neem nie. En as mens jou ore willens en wetens uitleen dan is dit makliker om iemand anders die skuld te gee as om jou eie swakhede te erken. Ja, ons sukkel deesdae om te weet wat waar is, óf wie praat nou eintlik die waarheid. Daarom dat ons so dikwels sê: “Sien is glo” want ons kan ons inligtingsbronne nie meer vertrou nie.

Advertisement

Hebreërs 11:1-6 kan ons hiermee help. Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Wat beteken dit om op God te vertrou? Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel dat Hy sy beloftes sal hou nie, en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur. Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is. Die Skrif praat met groot lof oor mense van die ou tyd wat so op God vertrou het. Omdat ons glo, weet ons dat God die wêreld gemaak het deur net te sê dat dit daar moet wees, en dit was daar. Dit is nie gemaak uit iets wat ons kan sien nie. Uit niks het God dit geskep. Omdat Abel God vertrou het, het God meer van sy offer gehou as van sy broer Kain s’n. Juis omdat hy God vertrou het, was sy offer vir God goed en het God gesê dat sy verhouding met Hom reg is. Abel se geloof het dus tot vandag toe nog vir ons ’n boodskap, al is hy lankal dood.

Henog het God ook so vertrou. Daarom is hy nie soos ander dood nie, maar God het hom kom haal en hemel toe gevat. Hulle het hom oral gesoek, maar kon hom nie kry nie, want God het hom weggevat. Voor dit egter gebeur het, het almal al daaroor gepraat dat God trots was op die manier waarop Henog geleef het. Dit kan nie gebeur as ’n mens nie op God vertrou nie. En daar is ’n goeie rede voor: ’n mens sal God net soek en na Hom toe gaan as jy oortuig is en vertrou dat Hy dáár is en dat Hy mense wat na Hom toe kom met oop arms ontvang.

Twyfelagtigheid is die gevolg van ‘n gebrek aan vertroue, dalk selfvertroue, of onsekerheid. Daarom hoor ons dikwels dat mense vir mekaar sê: “Sien is glo.”

Maar Jesus sê dat diegene wat glo sonder om self te sien, uniek geseën sal word. Want die krag van geloof is gesetel in sy vermoë om vier dinge te doen: Geloof skep visie; Geloof skep wilskrag; Geloof skep veerkragtigheid; en Geloof steek ‘n vuurtjie aan en aktiveer.

This article is from: