
2 minute read
Dis weer tyd vir NAMPO Oesdag!
from DW Nuus Jun 2023
Vroegoggend op die 18de Mei 2023 pak 16 van ons inwoners en kennisse weer die lang pad Vrystaat toe na die 55ste NAMPO Oesdag. Dis lekker koud en reënerig terwyl elkeen ‘n sitplekkie vind in die bus. Gertjie dra ons veiligheid op aan die Here en om 04:15 vertrek ons vanaf Tutuwedzo. Die ken-mekaar op die bussie is aanvanklik moeilik in die donkerte, maar ons raak gou beter vriende met ons stilhou op Ventersdorp weens ‘n gebarste band danksy een van die vele slaggate op die pad. Sommige van ons drink sommer ‘n warm ietsie en eet ‘n lekker padkossie voor ons weer in die pad val. Die res van die reis verloop klopdisselboom en skuins na 08:00 is ons daar! Om ons is alreeds ‘n massa mense, voertuie, helikopters, ligte vliegtuie, en elke ander denkbare ryding.
Besoekers kan nie anders nie as om oorweldig te voel deur die omvang van hierdie landbouskou met sy amper 800 uitstallers. So ver as die oog kan sien, is daar trekkers, landbou implemente, masjinerie, voertuie, diere, sale vol nuwighede, laggende gesigte en oorvriendelike verkoopsmense! Die reuk van braaivleisvure, pannekoeke en koffie vul die lug op die netjiese terrein met silwerskoon ablusiegeriewe. Intussen is ons lede van die De Wildt Boereverening reeds op hul pos by TLU SA se stalletjie.
Advertisement
Vanjaar se tema is “innoverende landbou” en dit is beslis merkbaar in die aantal en diversiteit van produkte en dienste op die skou. Agri-tegnologie vier hoogty met nuwe elektroniese presisie planters, hommeltuie wat m.b.v. KI selektief chemikalieë toedien, neusafdrukke vir die identifikasie van vee met ‘n selfoon, aanlynveilings…. daar is net te veel om te noem. Dit is verstommend om te sien hoe tegnologiese vooruitgang ook in die landbou pos gevat het en hoe die fokus nou al hoe meer is op geïntegreerde boerdery praktyke.
Die kosstalletjies bied ‘n wye verskeidenheid kosse en lekkernye na ieder en elk se smaak. Sommer vroeg al begin die toue lank raak en veral die Wagyu hamburger stalletjie blyk weer baie gewild te wees. In die biertuin word jolig gelag en gekuier en nuwe vriende gemaak, en ten spyte van ons land se probleme is die positiwiteit tasbaar en aansteeklik. Staaltjies word uitgeruil en dit word gou weer duidelik hoekom hierdie fees so gewild is. Met ‘n swaar hart stap ek na die Muur van Herinnering: hier is immers name van mense wat ek persoonlik geken het! Daar is ook nuwe name in die graniet gedenkplate ingegraveer sedert laas jaar; nog kosbare lewens is onnodig verloor a.g.v. die vloek van misdaad en geweld waaronder ons boeregemeenskappe gebuk gaan. Dit is ‘n tragedie dat so baie boere (die meeste in die fleur van hul lewens), hulle geliefdes en ook plaaswerkers elke jaar sterf. Dekades se boerdery ervaring en kennis van onskatbare waarde gaan so verlore; kennis wat nie uit boeke geleer kan word nie. Dan vang my oog die naam van ‘n 14 jarige seun wat tydens ‘n plaasaanval gesterf het… dit breek my hart en ek besef net weereens die sinnelose wreedheid van hierdie euwel.
Die wolke trek saam en ‘n paar druppels val terwyl die sonnetjie ook flouer raak. Moëe mammas en pappas sleep of dra ewe moeë kleuters rond en probeer om vir oulaas nog iets te besigtig. Uitgeput maar tevrede en effens teësinnig maak ons ook aanstaltes terug na die bus. Daar is beslis net nie genoeg ure in een dag om alles wat hierdie skou bied te geniet, sien en beleef nie. Dit is voorwaar ‘n besonderse ervaring.
Net na 16:00 vertrek ons op die lang pad huiswaarts. Die atmosfeer in die bussie is vrolik en ons smul verder aan ons padkos en sluk ‘n paar koue verversings af. Party van ons knip ‘n uiltjie terwyl ander heerlik verder kuier. Uiteindelik is ons 20:00 veilig terug by Tutuwedzo!
Baie dankie aan die De Wildt Boereverening en veral Wannie, Hanna en Gertjie vir hierdie inisiatief en al die reëlings. Dankie ook aan Deon, ons busbestuurder wat ons veilig heen en weer vervoer het.
Mooi loop en volgende jaar maak ons weer so!
- Douw van Wyk
