
1 minute read
Tuingids vir Maart
Hier is ‘n blitsgids om jou te herinner wat alles in die tuin in Maart gedoen kan word.

Advertisement
Plant dromerige hibiskus. Dit is ‘n reeks laatsomer blommende struike om in mooi houers op ‘n patio, balkon of in son of ligte skadu in die tuin te plant. Hulle het matig tot min water in die tuin nodig, maar ‘n bietjie meer in potte. Saai groenbemesting. As die produksie van jou somergroente lappie nie goed genoeg was nie en jy genoeg water het om gereeld ‘n kort rukkie te besproei, spit die dooie groente uit en saai groenbemesting gewasse (mosterd, bokwiet, klawer, lynsaad, lupiene, lusern of komkommerkruid) in beddings wat die winter gaan braak lê. Spit dit in die grond in terwyl dit blom (dit is pragtig!). Dit verbeter die grondstruktuur vir beter waterhouding en verhoog die grondvrugbaarheid daarvan vir ‘n volgende rondte somergewasse.
Ondersoek jou waterfokuspunte. Maak jou waterfokuspunt skoon voor dit koud word en die werk ongemaklik raak. Gaan jou pomp na om te sien of dit skoon en in ‘n goeie toestand is. ‘n Mens wil dit nie in die midwinter moet doen nie!
Wildedagga (Leonotis leonurus) is ‘n baie geharde, droogte en rypbestande immergroen meerjarige struik. Hierdie geliefde sierstruik dra van Februarie tot Julie herhaaldelik ‘n oorvloed trosse buisvormige oranje of wit fluweelige blomme in kranse die hele lengte van die stingel op. Dit is ‘n belangrike voedsel- en nektarplant vir suikerbekkies, bye en skoenlappers gedurende die herfs en winter. Plant dit in son of halfskadu en sny straf terug na blom vir die beste resultate en ‘n massa blomme die volgende seisoen. Begin om ‘n bedding vir aarbeie voor te berei deur goed verrotte kraalmis, kompos, ‘n bietjie blomswael (hulle hou van suurgrond) en algemene misstof in te werk.
Kweek aarbeie ook suksesvol in houers en hangmandjies –gebruik potgrond van ‘n goeie gehalte. Voed al die struike en die grasperk met ‘n kaliumryke misstof om die selle en stingels te versterk voor dit winter word.
(Geleen uit Die Tuinier)