1 minute read

Waar kan ek hoop vind in 2023?

Rondom Jerusalem is daar berge, en in my geestesoog sien ek iemand in die stofpad op sy knieë wat moedeloos en radeloos is omdat die realiteite van sy tyd, nes ons s’n, onuithoubaar geword het. Iemand wat sy kop optel en wie se oë die grootsheid van die wêreld om hom raak kyk, op soek na iets of iemand wat hom uit hierdie moeilike omstandighede, wat soos hierdie berge om hom troon, kan verlos.

Hande omhoog sê/vra hy: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? Ek soek oral rondom my na iemand om my te help, en ek wonder dan: “Wie sal my nou regtig help?” Die Here sal my help. Hy het alles in die wêreld gemaak. Die hemel en die aarde, die see en alles daarin en daarop. Hy sluimer of slaap nie, Hy sal jou oppas, jy sal niks oorkom nie.

Advertisement

Hy sal altyd by jou wees en hy vergeet nooit om Sy kinders te help nie. Niks of niemand kan jou kwaad aandoen nie, al is hy hoe sterk, want dis God wat jou elke dag teen allerhande moeilikhede en probleme beskerm. Hy sal jou lewe mooi oppas.

Die Here sal jou oppas waar jy ook al is: by die huis, by die werk of miskien êrens op pad. Hy sal jou altyd help, of jy kom en of jy gaan, nou en in die toekoms.

“Ek weet wat ek vir julle beplan en in gedagte het,” sê die Here: “Ek wil julle vrede, voorspoed en nie teenspoed of rampspoed gee nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms en hoop, ‘n verwagting gee.” Al is hierdie woorde in die verlede geskryf, beskryf hierdie woorde nog steeds hoe God vandag voel. Hy is “die God wat hoop gee”. Eintlik het hy sulke beloftes in die Bybel laat opteken sodat ons “hoop kan hê” vir ’n beter toekoms ook in 2023.

This article is from: