
3 minute read
WAT KAN EK PLANT?
Chris Smith
“Wat kan ek plant? is altyd ‘n groot vraag wat enige plantgewas produsent gereeld aan homself en sy bankbestuurder moet kan beantwoord - maar die antwoord is nie altyd so maklik nie”. So sê mnr. Chris Smith, privaat konsultant vir die vrugtebedryf in Suid Afrika. Chris was jare lank betrokke by die departement hortologie van L.N.R -Infruitec in Stellenbosch waar hy aan die stuur was van sagtevrugte-kultivarontwikkeling en -verbetering. In hierdie artikel gaan hy spesifiek gesels oor langtermyn aanplantings, m.a.w. meerjarige plante en spesifiek vrugtebome en bessies.
Advertisement
Die meeste gewasse is tot ‘n mate aangepas om bykans enige plek te kan groei, maar gaan nie noodwendig aan die ekonomiese verwagtinge voldoen nie. Die goue reël vir die ontwikkeling van nuwe hoë potensiaal kultivars is dat dit vir ‘n spesifieke klimaatstreek aangepas moet wees alvorens jy dividende uit jou belegging kan verdien. Met aanpassing verwys ek na die beginsel van hoë en volhoubare produksies van kwaliteit produkte wat met minimale insette en manipulasies geproduseer kan word – dit hou onkostes laag.
Klimaat speel ‘n deurslaggewende rol wanneer jy moet besluit oor watter gewas aangeplant kan word wat vir jou ekonomies volhoubaar gaan wees. Dit is die een faktor wat baie moeilik, of teen hoë koste, manipuleer kan word. Vir die kleiner boer is dit dus nie ekonomies om die klimaat te probeer aanpas by die gewas nie, maar eerder om die gewas te kies wat aangepas is by die klimaat.
Daar is verskeie wetenskaplike modelle om die impak van klimaat te kwantifiseer en te interpreteer. Die mees bekende modelle is koue- en hitte-eenhede. Hierdie twee modelle kwantifiseer die impak van winter- en somer temperature op die produksie van gewasse. “In die wetenskap wêreld word daar gereeld verwys na die ‘genotipe-omgewing-interaksie’ wat in balans moet wees en waar die genotipe die genetiese samestelling van die spesifieke kultivar weerspieël”. Chris sê dit beteken dat die impak van klimaat saam met die fenologie van byvoorbeeld ‘n pekanneutboom, saamwerk om vir jou as boer ‘n volhoubare inkomste te verseker.
”Daar is ‘n fundamentele rede hoekom appels en pere tradisioneel in die koeler areas van enige land verbou word. Maar hierdie reël is ook nie klip geskryf nie en kan omseil word deur middel van teling en verbetering van kultivars met ‘n laer kouebehoefte wat suksesvol in die warmer streke verbou kan word. Grond- en klimaatsvereistes vir enige gewas is dus van kardinale belang en moet nié deur die ‘romanse’ van om ‘n tradisionele produk in ‘n nie-tradisionele area aan te plant, oorheers word nie”. Waar woorde.
“Die geskiedenis het reeds bewys dat daar gereeld gewasse aangeplant word waarop daar nie behoorlike ‘huiswerk’ gedoen is nie. Hierdie is ‘n Internasionale verskynsel en is dus nie uniek aan Suid Afrika nie. Dis gewoonlik dan hier waar die ‘eksamen’ vóór die ‘les’ geskryf en daar ‘n baie ‘duur’ eksamen ‘gedruip’ word. Wat probeer ek hiermee sê: “Sorg dat jou huiswerk behoorlik gedoen is alvorens jy die tjekboek uithaal en op ‘n nuwe projek begin bestee”. Om enige landbougewas in vandag se tyd te plant en dan onder die boom te gaan sit om te kyk hoe jy ryk word, maak jy ‘n astronomiese fout.
Jy en vroulief het een oggend wakker geword en besluit om iets nuut aan te pak – in terme van boerdery. Daarvoor het julle ‘n draai by die plaaslike supermark of munisipale mark gaan maak om te kyk teen watter prys hierdie spesifieke ‘iets nuut’ waarin julle belangstel, verkoop word. Vinnig word die pakkie dertig sigarette uitgehaal en agterkop die boksie die nodige somme gemaak – fout, met verwysing na paragraaf hierbo. Waar is hierdie produk geproduseer, wat het dit gekos, ens. en hoe het dit daar gekom? Dis op hierdie punt waar jy ‘n kenner nader óf eers bietjie jou eie ‘huiswerk’ in samewerking met jou twee vriendinne, Google en YouTube doen alvorens jy groot besluite neem.
Hier volg ‘n paar aspekte wat ek voel aangespreek en deel moet vorm van die totale strategie pakket: a) Bemarking – Maak seker dat jy ‘n behoorlike bemarkings strategie het. Bespreek jou kort- en langtermyn beplanning met ‘n goed geplaasde bemarker en maak seker dat daar wel ‘n behoefte vir die spesifieke produk bestaan. b) Infrastruktuur – Beskik jy oor die nodige infrastruktuur om die produk te verwerk of te kan verpak. Dis altyd beter as jy jou eie waarde toevoeging kan doen. c) Water – Maak seker dat jy weet wat die water behoeftes van die gewas is én of die beskikbaarheid daarvan genoegsaam sal wees om die produk suksesvol te kan verbou. d) Grond – Doen die nodige grond ontledings – op die regte manier - en maak chemiese regstellings soos deur die betrokke gewas behoeftes vereis word. e) Klimaat – Vereenselwig jouself van die wind, reën en ryp patrone van die gebied, asook die fenologiese stadiums van die spesifieke gewas. Klimaat kan die volhoubaarheid en produksie van die gewas dramaties negatief beïnvloed indien dit nie geskik daarvoor is nie. f) Pes- en plaag beheer – Indien die vooraf genoemde vyf aspekte ideaal sou wees, maar die gewas sou sensitief wees teenoor die heersende peste en plae van die gebied, kan die ekonomiese volhoubaarheid van die gewas negatief beïnvloed word. Vir die meeste peste en plae is daar wel spuitprogramme beskikbaar en wat gevolg kan word, maar sal gevolglik ‘n noemenswaardige hap uit die beoogde winsgrens van die gewas neem.
Die fundamentele en belangrikste boodskap is dus: Moenie gewasse aanplant wat nie vir ‘n spesifieke grond en klimaat geskik is nie!
Lekker boer.
(Sel: 083 631 2306; Epos: chris2smith@telkomsa.net