
2 minute read
Sybok se halfkroon
Gert Botha
Dit was gedurende 1945, ek was die middag met die voetpad langs op pad huistoe van die plaasskooltjie af. Toe ek by die vrugteboord verby stap kom ek op Sybok af waar hy met groot ywer besig is om droë blare onder ‘n granaatbos uit te hark. Hy beduie taamlik omgekrap dat hy sy halfkroon verloor het terwyl hy diep in die granaatboskasie van die vrugte gepluk het. Sybok was ‘n Xhosa en een van die twee werkers op die plaas. Tye wanneer daar nie werk vir albei op die plaas was nie het ons hulle aangemoedig om een op ‘n keer los werkies elders te doen om die kontant bietjie aan te vul.
Advertisement
Sybok het die hele voormiddag van die betrokke dag in die plaaswinkel, so ses kilometer van die plaas af gewerk: sy vergoeding was ‘n sakkie Horseshoe tabak en ‘n halfkroon kontant.
Ek het hom help soek maar ons kon die halfkroon nie kry nie.
Hy verduidelik toe hy by sy huis kom, na die granaatplukkery, kom hy agter dat die geld weg is. Hy noem ook dat die halfkroon nog in sy hempsak was toe hy ‘n zol gemaak het terwyl hy op die “rusklip” gesit het.
Die rusklip is ‘n groot plat klip langs die voetpad waarlangs jy skool toe of winkel toe kon stap en was ‘n lekker stopplekkie na die lang stap. Sy kommentaar: “Ek werk ‘n hele halwe dag vir ‘n sakkie Horseshoe”.
Ek is die volgende jaar hoërskool toe en Sybok het in die dorp gaan werk. So het ons paaie geskei. Dit was ‘n redelik afgeleë plaas en alhoewel hy ‘n hele paar jaar ouer as ek was, was ons groot maats. Ek het hom gemis.
Op ‘n dag in 1976 was op ek op besoek by my broer, wat nog op die plaas gebly het. Die middag het ek toevallig met die voetpad langs verby die “rusklip” gestap wat net die uitnodiging was om in die koelte op die klip te sit en ‘n sigaret aan te steek. Klaar die dampie gemaak leun ek oor om ‘n kaal kolletjie tussen die grans langs die klip te kry om die sigaretstompie dood te druk. Dis toe ek die sirkelvormige patroontjie op die harde stukkie grond raaksien. Ek haak dit sommer met my vingernael op en daar, blink van onder… ‘n halfkroon. Nee, Sybok se halfkroon; na meer as dertig jaar. Dit was ‘n gevoel wat ek moeilik kan beskryf. Dit het gevoel of die stukkie silwer brand in my hand. Die geldstukkie het seker uitgeval toe hy papier uithaal om die zol te maak.
Ek het die vuurhoutjies uitgeskud en die kosbare fonds, grondkant bo, in die boksie geplaas. Na baie weke se soek spoor ek Sybok in ‘n hospitaal op. Die herontmoeting, verduideliking en oorhandiging was ‘n stukkie hartseer; selfs die mediese personeel in sy saal het nuuskierig nader gestaan om te hoor hoe word sy “fixed deposit” (soos hy dit noem) na dertig jaar uitbetaal.