
1 minute read
Vreemdelinge op die pad
Almal van ons loop die lewenspad. Sommiges loop op die breë weg, ander op die smal weg, maar almal loop. Sommiges kruip, ander strompel, ander hardloop, spring of gly ente – maar almal vorder.
Op die pad loop ons almal bekendes raak.
Advertisement
Bekendes?
Die giggelende dogter in die klas, wat jou so irriteer, is ‘n goeie voorbeeld. Haar gegiggel is dalk ‘n masker vir ‘n dronklap-pa. Die giggel is eintlik droë, rou snikke in ‘n verwronge vorm. Sy was tot nou toe ‘n vreemdeling.
Daardie ‘’breker’’ met sy vuilbekkigheid – tot sy maats bloos soms. Elke kras woorde moet vir hom die balans vorm met sy swakkeling-vader wat nou al drie jaar lank nie werk het nie. Sy omstandigheid het hom ‘n vreemdeling gemaak.
Die stil, teruggetrokke meisie, wat nie met ander mense meng nie, wat haarself nie ‘’oopmaak’’ vir geselskap nie, wat ‘’toe’’ is –is ‘’geslote’’, omdat haar ma se goedkoop ‘’oopheid’’ haar walg. Alhoewel haar naam en adres bekend is, is sy ‘n vreemdeling op die pad.
Of die onderwyseres wie se gesig so gegrimeer is dat jy wonder watter modetyskrif sy beetgekry het. Smeer sy nie maar net die swart kringe om haar oë toe nie? Haar blink oë, is dit van lewendigheid, of is dit blink van trane? Vreemdelinge doen soms vreemde dinge!
Verstaan regters dit as misdadigers getuig dat hule siek en sat was vir skynheilige omstandighede? Die voorgee van goeie en gelukkige huislike omstandighede, ‘heerlik en hemels’, wat eintlik ‘n helse straf is wat pyn veroorsaak? Teleurstelling, konflik, trane, verwyt en smart vier hoogty.
Vreemdeling word dikwels as gevolg van hulle omstandighede uitgebuit deur oënskynlike liefdadigheidorganisasies en nuuskierige liefdadigers.
Dikwels verstaan ons nie wanneer vreemdelinge – soos bekende vreemdelinge – wraak neem nie. Die wraak was wroeging… die wroeging, wrywing.
Sien ons die vreemde sy van die vreemdelinge op die straat raak? Ken ons die agterkant van die bekende gesig, die binnekant van die gedagtewoonplek?
‘’Behandel geen vreem’ling onverskillig of suur nie, want jy weet nie of God dalk ‘n vriend vir jou stuur nie’’.