3 minute read

Hondsdolheidinentings

Die jaarlikse inentings teen hondsdolheid het hierdie jaar op 17 en 18 Maart by die Jopie Fourie terrein plaasgevind. Ons dank aan die staatsveeartse wat die twee dae ‘n totaal van 1091 honde en 126 katte ingespuit het. Die honde het ook ‘n 5-in-1 inenting gekry en wanneer daar beskikbaar was, het die honde en katte ontwurming ook gekry. Die veeartse het heen-en-weer gery saam met eienaars wat hulle kom oplaai het om by die huise te gaan spuit. In sommige gevalle is daar 25, 54 en selfs soveel as 84 honde en katte by een perseel gespuit. Veral katte is soms moeilik om te vervoer en ons is die veeartse baie dankbaar dat hulle wel bereid is om in die gerief van die diere se veilige omgewing die inspuitings te gaan doen. Hondsdolheid is ‘n dodelike siekte vir diere sowel as mense. Indien die feit dat daar sowat ‘n maand gelede ‘n uitbraak van hondsdolheid in Hammanskraal omgewing was in ag geneem word, besef mens hoe tydig hierdie inentings was. Sodoende is ‘n groot hoeveelheid honde en ‘n paar katte vir die volgende jaar veilig en die eienaars van die diere is heelwat koste gespaar. Ons dank aan Elize Meyer wat as skakelpersoon die kontak met die staatsveeartse is vir die reëlings van die twee dae. Baie groot dankie aan Jeffrey van Schietfontein-vulstasie en -winkel, en Kobie Opperman van Kobie se Plekkie vir die skenkings van die twee dae se middagetes vir die veeartse en die ander werkers. DWHM het gesorg vir albei dae se drinkgoed en iets om te eet saam met koffie of tee. Ons glo volgende jaar doen ons dit weer.

Seisoene van Verandering

Advertisement

Wie sou dit verstaan, hierdie seisoene van die lewe wat deur jou lewe loop? Net soos seisoene kom en gaan en herfs en winter op lente en somer volg, so vloei generasies oor van die een na die ander. So breek seisoene volgens verwagting aan, maar soms is daar onverwagte ryp, winters wat groot skade kan aanrig. Net soos daar vier seisoene in die natuur is, ervaar ons innerlike natuur ook vier seisoene. Lente is die seisoen van nuwe begin. In die somer kweek ons die vrugte van ons nuwe begin. In die herfs haal ons die vrugte van ons pogings in, insluitend geleenthede om erkenning te ontvang en waardeer te word vir ons prestasies. In die winter rus ons, en ontdek ons ons ware self. Sonder die winter kan ons nie in die lente intrek nie.

Wanneer die natuur haar seisoene verander, lyk die skof moeiteloos, voorspelbaar en onvermydelik. Die nuwe seisoen benader en die ou een keer terug. Net soos die natuur nie in ‘n enkele seisoen vir ewig bly nie, so bly ons lewe nie dieselfde nie. Iemand skryf: Soos die slim Boek sê, is daar ‘n tyd vir alles onder die son. Tyd vir werk, tyd vir rus. Tyd vir huil, tyd vir lag. Tyd vir treur, tyd vir fees vier. Tyd vir plant, tyd vir oes. Tyd vir kaalvoet loop en tyd vir dik kouse of pantoffels. Tyd om op te hou verskonings maak en iets nuuts te probeer! Ek het klaar geval, dis tyd vir opstaan. Ek het tyd geneem om te tob en wonder en kommer. Nou is dit tyd vir iets anders. Dalk is dit tyd om die boek te skryf wat jy nog altyd wou. Of die prent te verf. Of die koek te bak. Nou is daar tyd vir dit wat jy nog altyd wou doen maar nie kon nie. Ja, ek weet, nie alles nie. Ons kan nie reis nie, maar raai, ek kan so lank op lees oor die plekke waar ek wil gaan en dit begin beplan. Dalk sommer net in my denke reis en elke oomblik geniet. My eie avonture saam stel en die smake in my mond rond rol. Dis tyd om te vergeet wat agter my lê en my uit te strek na dit wat voor my is. Elke seisoen het sy eie bekoring. Geniet elke oorgang jaar na jaar na jaar totdat jy die huidige seisoene verruil vir die onveranderlike seisoen van ewigheid. Leef voluit totdat die laaste seisoen aanbreek en wees dankbaar vir al die seisoene, die smeltkroes waardeur jy moes gaan, wat deel van jou lewe en belewenisse was.

Dankie aan ons

En Hul Ondersteuners

This article is from: