2 minute read

VLU Brits hou Kersfees in Maart

Die 25ste konferensie van die Platinastreek van die Noord Wes Vroue Landbou Unie het op Woensdag die 15de Maart in die Neline Swartsaal van die N.G. KERK Krokodilrivier plaas gevind. 125 Eregaste, afgevaardigdes en waarnemers het die konferensie bygewoon en was deur die lede van die gasvroutak Brits ontvang en onthaal.

Die saal was opgetower om by die tema van die dag” Kersfees in Maart” aan te pas. 150 Papier engele met toewyding deur die lede van Brits-tak gevou en versier het die tafels en verhoog verfraai en San Pieterse het die lang blomstingels van die Agave Americana opgetower in `n tipiese Afrika Kersboom, weg van die gebruiklike denne en wattesneeu. Die konferensie is geopen deur Ds Werner Venter van die Nederduits Hervormde Kerk Schoemansdal na aanleiding van Sagaria 12 verse 9-14.

Advertisement

Die konferensie was amptelik geopen deur die President van die Noord Wes Vroue Landbou Unie, Gerda Swart. Sy het ook `n groete boodskap namens die hoofbestuur oorgedra. Cindy Coetzee. President van die SAVLU, was een van die eregaste en het die groete van die oorkoepelende organisasie wat al die provinsies en Namibië (behalwe Kaapland) verteenwoordig oorgedra. Wat `n voorreg was dit om haar te ontvang. Groete boodskappe was ook gelewer namens die ander twee streke van Noord Wes nl. Ver Wes- en Sonneblomstreek. Wannie Scribante van TLUSA het namens die boeregemeenskap gepraat en Hanlie Schoeman namens Die Dameskring.

Die geleentheidspreker vir die oggend was Dr Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting. Dr Langner het ons tema vir die jaar “Bewaar ons omgewing “uitgelig. Hy het ons aangemoedig om na ons eie kosbaarhede om te sien want nie die staat of enige ander staatsafhanklike instansie of organisasie gaan dit doen nie. Betsie Putter het namens Brits-tak aan Dr Langner onderskeidelik `n Witolien en Vanwykshout - die twee bome van die jaar - geskenk om by die Voortekkermonument aan te plant.

Na teetyd was die gewone administratiewe deel van `n jaarvergadering afgehandel soos die goedkeuring van die notule van die vorige konferensie, finansiële verslag en voorsittersverslag.

Verona Loots was herkies an vise-voorsitter van die streek.

Petra van Vuuren het die gehoor laat skaterlag met die vertellings wat sy as gaskunstenaar van die dag aan die gehoor voorgedra het.

Een van die hoogtepunte van die dag was die besoek van Noordwes Vroue Landbou Unie se skrywer van die jaar, Elsa Winckler, aan die tak al die pad van Bettysbaai af. Sy het die gaste een en ander oor haar skryfwerk vertel. Wat `n voorreg. Die prysuitdeling was die hoogtepunt van die dag. Brits se lede het met etlike pryse weg gestap o.a. in die afdeling skilderkuns was die eerste vier plekke deur Brits opgeraap. Annelie Coetzer (De Wildt ) verdien die 1ste prys, Fia v d Merwe 2de, Louise Herbst 3de en Christelle Buys 4de. Met die blommerangskikkings was al die eerste pryse in elke afdeling Brits inskrywings. Ita Viljoen het met haar skryfkuns “niemand het dit verwag nie…” die eerste prys in die skryfkuns afdeling met 98% behaal en terselfdertyd het sy daarmee ook die trofee vir die Mees Uitstaande artikel by die konferensie verdien.

Neeltje Louw voorsitter van Brits-tak het die trofeë vir die beste voorsittersverslag, die meeste lede verwerf en die tak met die meeste punte by die konferensie ontvang. Brits-tak se punte totaal was 3347, 1263 punte meer as hulle naaste teenstander Marikana. Die trofee vir die beste skakelverslag was toegeken aan Christelle Buys, skakelbeampte van Brits-tak. Brits-tak het laatmiddag huis toe gegaan met die wete dat die 25ste konferensie van die Platinastreek van NWVLU `n groot sukses was.

This article is from: