1 minute read

SOMS VERLANG EK SOMMER …

Wie het al ooit daardie vae hunkering, ‘n seer ag-ek-wens-toggevoel ondervind? Sommige dae is hierdie gevoel onkeerbaar sterk en borrel dit oorweldigend diep vanuit my binneste – soos ‘n swaar vloed waarteen jy maar net magteloos kan veg. Weinig mense is in staat om hierdie begrip te definieer. Verlange is per slot van sake ‘n abstrakte begrip. My verlange is nie ‘n uitvloeisel van ‘n traumatiese belewenis nie. Maar tog… die gevoel is onmiskenbaar deel van my bestaan. Hierdie gevoel van hunkering word gewoonlik voorafgegaan deur ‘n reeks kenmerke wat onbetwisbaar soos ‘n windkous of termometer die geleidelike styging van my gevoel aandui. Eers voel dit asof my hart saamtrek en styf teen my borskas vasgepen word. Dit word opgevolg deur ‘n versnelling van my hartklop en dan eindelik die gevoel self: daardie gevoel van magteloosheid, ‘n begeerte om jou hande onbeskaamd uit te strek en te reik na iets moois, iets wat naamloos is, maar tog bestaan. Op ‘n ander dag is ek weer vol bravade – sterk en gepantser teen alle gevoelens. As ek dan op so ‘n dag aan my nietigheid en onsekerheid van die vorige dag dink, kom dit so belaglik voor, dat ek dit summier verwerp en myself voorneem dat dit nooit weer sal gebeur nie.

Ek verwar egter nie ‘n doodgewone verlange met my ‘’ander’’ gevoel nie. Almal verlang tog na hulle ouers as hulle weg is – hierdie verlange kan ook manifesteer as ‘n verlange na ‘n plek.

Advertisement

Ek verlang ook na die Karoo waar ‘n mens die peperbome kan ruik en waar vaal bergspitse ‘n gesprek met die son voer. Hierdie verlange is brandend soos die growwe wit sand tussen my tone op ‘n agtermiddag waar die son gaan stilstaan het. Bowe alles in my allesoorheersende verlange gesentreer om ‘n Utopia van Volmaaktheid.

As hierdie gevoel stadig maar seker weer kop-intrek en my gevoel van ontoereikendheid vervang met ‘n maskerade van ‘’ekis-dood-tevrede-dankie’’, dan onttrek ek my traak-my-nieagtig en sê soos gewoonlik: ‘’ag, soms verlang ek sommer…’’

This article is from: