
1 minute read
DE WILDT BOEREVERENIGING SE EERSTE VERGADERING VAN 2023
from DW Nuus April 2023
De Wildt Boerevereniging se eerste vergadering van 2023 het op 28 Februarie te De Wildt 4x4 se grasdaklapa plaasgevind.
Voorsitter Phil Louw het vir Kobus Oosthuizen gevra om hierdie keer nie net met gebed te open nie, maar om vir die lede ‘n boodskap te bring.
Advertisement

Kobus se boodskap:
Kobus noem dat as mens met vriende praat, kom hy agter, dat selfs hy, praat nodig het om mens te motiveer.
Hy het gevra hoe ons deesdae voel?
Is ons vol moed en is ons selfversekerd?
Nee, hy dink nie so nie.
Ons voel verlate, depressief, bang en ons twyfel.
As ons so voel, is daar net een ding wat ‘n verskil kan maak en dit is om met die Here te praat.
Hoe hou ons op twyfel? Moses het getwyfel, hy het allerhande verskonings gemaak. Gideon het getwyfel. As ons al die mense wat getwyfel het uit die Bybel uithaal sal dit baie dunner wees.
Dink maar aan Thomas. Daar is egter een ding wat twyfel oorwin en dit is gebed.
Maar, voordat ons bid, hoe lyk ons verhouding met God, ons Verlosser? Hy behoort nie aan ons nie. Hy is nie daar om ons wense (gebede) uit te voer nie. Ons behoort aan Hom. Hy het ons GEKOOP (vrygekoop) uit ons sonde met Sy bloed. Het ons al ons lewe oorgegee aan Hom? Stap ons die pad saam met Hom, of dink ons dit is Hy wat saam met ons moet stap . Indien ons al onsself en ons lewe oorgegee het aan Hom, dan kan ons ons Vader vra, want Hy sê in Psalm 50:15 “Roep my aan in die dag van benoudheid, Ek sal jou uithelp, en jy sal My eer.”
Nou kan ons uitroep na God en glo dat hy ons sal help.
Dink aan die pa met die kind wat vallende siekte gehad het: In Markus 9:23 sê Jesus vir hom, “as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.”
In vers 24 roep die vader van die kind uit en sê: “ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! “
Ons kan ook uitroep na God, Hy sal ons ongeloof te hulp kom. Die Here beantwoord altyd ons gebede, maar nie altyd op die manier wat ons dit wil hê nie.
Dikwels wil die Here ons op ‘n plek bring wat ons nie eers aan dink nie! Kom ons word nie moedeloos nie, maar bid en vertrou die Here en dit sal reg uitwerk.
Kom ons spreek lewe oor ons lewe, ons werk, ons huisgesin, familie en ons land. Ja, selfs oor Eskom en die regering.
Markus 11:24: “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in gebed vra, glo dat julle dit al het en dit sal vir julle so wees.”