1 minute read

Die ontstaan van die Magaliesbergreeks (4)

Die Karoo-sekwensie, die Dwyka-gletservorming – 345 miljoen jaar gelede.

In die eeue wat volg, vind erosie plaas, wat die landskap naastenby in ooreenkoms plaas met sy huidige vorm. Daar was egter voor dit ‘n tydperk van honderde miljoene jare van bedekking deur bewegende ys. In die noorde was die ys redelik dun en het die Soutpansberge moontlik bo die ys uitgesteek. Die Magaliesbergreeks daarenteen was onder die ys.

Advertisement

Soos die gletseragtige plate stadig suidwaarts beweeg het, het dit nie net grond en rots saamgeneem nie, maar ook die landskap geskuur en geskaaf. Hierdie skuuragtige konglomeraat het voortdurend meer en meer puin saamgesleur oor die oppervlakte van die landskap en dit glad geskuur.

Die effek op die Magaliesbergreeks was baie groot. Die hoë kwartsiet-kruine is weggeskuur. Om dus nou die prentjie te voltooi, het ons dus ‘n sogenaamde Sponslaag (grond) heel bo op al die verskillende lae wat gevorm is. Die samestelling van die sponslaag is die gevolg van ysgletsers, wind en water wat verskeie minerale opgebreek en gekorrodeer het om fyn partikels te vorm saam met plant- en fossielreste.

Om dus die hele proses van duisende miljoene eeue saam te vat, kyk ons na ‘n yslike groot binnelandse meer wat laag op laag gevorm word vanaf die Swartriflaag, opgevolg deur ‘n Dolomieten Chert-vormende laag, wat weer op sy beurt deur ‘n Skalie- en Kwartsietlaag volg.

Intussen breek die boom van die meer as gevolg van ‘n magma-uitbarsting en hitte en druk veroorsaak die uitstoot van die verskillende lae na die suide, waar die Doleriet- en Kwartsietlae die Magaliesberg-, die Daspoort- en die Time Ball-reeks vorm.

Soos borde in ‘n droograk!

Die interessante is dat ons as gevolg van die vorming nou ryk minerale aan die noordekant van die Magaliesbergreeks kry, ook baie kwartsiet- en sandneerslae.

Aan die suidekant kry ons weer skalieklip en klei, asook fyner kwartsiet en sand. Vandaar die steenwerke met hul kleistene aan die suidekant en veral in die Moot-areas.

Ook die plantegroei het hul aangepas by die omstandighede. Daaroor miskien eendag meer.

Bibliografie:

1. De Beer. B.K.,1975, Agter die Magalies, Johannesburg, Postma Publikasies.

2. Carruthers.V.,1990, The Magaliesberg, Johannesburg, Southern Book Publishers.

3. Nel. L., 2004, Anderkant die Magalies, Brummeria, Kontreiboeke.

4. Viljoen. M.J. & Reimold.W.U. 1999, An Introduction to South Africa’s Geological and Mining Heritage, Randburg, Mintek.

5. https://af.wikipedia.org/wiki/Magaliesberg.

6. https://us.search.yahoo.com/magalies mountain+origin+download.

This article is from: