
4 minute read
Geloftefees 2020
Ons word gewys op die wonderwerk tov dit wat die Zoeloes weerhou het van ’n aanval in die nag waar die Ligdraers van die Woord en die kerslanterns in die nag die Zoeloes afgeskrik het. Ook die uiteindelike groot slagting en die oorwinning van die Trekkers oor hierdie groot Zoeloeleër. Hy het ook klem gelê op die bedrog van Dingaan tov die getekende traktaat waarin die beskrewe grondgebied aan die Trekkers gegee is in ruil vir die beeste, gesteel deur die Matabeles, en weer aan Dingaan terugbesorg is. Aan God alleen die dank en eer vir hierdie wonderbaarlike redding van ons voorvaders wat ook gesorg het dat ons steeds vandag die Lig kan voortdra waar ons ook al vergader en ons bevind. Hierdie volledige toespraak is werklik ’n kosbare dokument om te bewaar en moontlik in verkor- te vorm jaarliks by die toekomstige beplande verrigtinge van die dag voor Geloftedag voorgedra of opgevoer kan word. Ds Ben Smit wat op ’n eendag-kennisgewing ingewillig het om die Geloftediens waar te neem toe die aangewese leraar agv kontak met ’n Covid-geval, nie meer kon kom nie, skoei sy preek op die tema Betaal jou geloftes en hy doen dit nav Genesis 34: 30 – 35: 8. Ek poog om vir lesers ’n kort samevatting hier te gee, maar vir diegene wat belang stel om die preek in geheel te ontvang, kan ek die hele preek, bestaande uit 16 bladsye, teen slegs die afdrukkoste laat kry. Jakob se lang geskiedenis van bedrog en afdwaal van God, bring ons by die gelofte wat hy by Bet-el aan God gemaak het toe hy van sy broer Esau gevlug het. Hy het die klip wat hy daar met olie gesalf het, as gedenksteen opgerig en gesê dat dit ’n huis van God sou word en dat hy van alles wat hy besit of verkry, ’n tiende aan God sou afstaan. In die aangehaalde gedeelte lees ons dat Jakob weer bang was vir Esau toe hy op pad was om in die beloofde land by Sigem te gaan woon. Nie slegs Jakob nie, maar ook sy skoonvader Laban en laasgenoemde se dogter Ragel het ook van die Here afgedwaal toe Ragel van die afgodbeeldjies van die huisgode gesteel het en met haar saamgeneem het. Ten spyte van Jakob en sy mense se afdwaling red die Here hom weer en bewerkstellig dat sy broer hom nie enige leed aandoen nie. Hy trek verder tot by Sigem in Kanaän, waar hy grond koop en waar hy voorspoedig woon. Hy het mettertyd weer, beinvloed deur die heidene van die gebied, van die Here vergeet, tot die Here hom weer terugruk tot die werklikheid. Sy dogter Dina wat sekerlik saam met haar ander familie mettertyd hulleself vermeng het met die inheemse heidene, word verkrag en dan lees ons van die daaropvolgende wraak wat haar broers Simeon en Levi op die Sigemiete geneem het. Die Here het weer eens ten spyte van Jakob se herhaalde afdwalinge en sondes, Hom na Jakob gekeer en hom beveel om na Bet-el te trek. Dit was nou reeds meer as tien jaar gelede dat Jakob tevore by Bet-el ’n gelofte aan die Here gemaak het. Die Here het hom nou weer teruggeneem na daardie plek en selfs toe hy net gehoor het dat hy daarheen moes trek, het dit hom sekerlik skielik laat besef dat hy God vergeet het en so het ook sy ander familie God vergeet. Hulle het talle afgodsbeeldjies gehad en aanbid en Jakob het dit alles bymekaar laat maak en laat begrawe. Almal moes selfs nuwe en skoon klere aantrek nadat hulle hulself gereinig het. Toe hy by Bet-el gekom het, het hy opnuut hom aan God gewy en die naam verander na El Bet-el; eersgenoemde beteken huis van God en El Bet-el God van die huis van God. Hier moes Jakob weer terugkeer na die werklikheid: Hy het God en ook sy gelofte van jare gelede vergeet. Weer eens het God sy trou en genade bewys. Die vraag is of ons as ’n volk onthou het van ons eie volk se Geloftes by Bloedivier en Paardekraal, asook Van Riebeeck se gebedbelofte. Het ons dit nie dalk vergeet nie? Besef ons dat ons altyd God moet eer en ons geloftes gestand moet doen? Israel het keer op keer afgedwaal en van God vergeet, soos Jakob ook herhaaldelik gedoen het. God het hom weer terug gebring voor Sy aangesig en so het Sy volk se herhaalde afdwalinge uiteindelik vir ons God se liefde en genade se grootste daad van genade getoon in die offer van Sy seun Christus wat namens elkeen wat in Hom sou glo, gered kon word. Leef ons steeds ’n dankbaarheidslewe en eer ons Hom dag na dag? Dra ons ook hierdie boodskap van redding uit oral waar ons ons bevind?

Advertisement