Weslander 08-03-2013

Page 10

10

Weslander

Nuus News

7 Maart, 2013

Weskus is pienk van stof VERSLAGSPAN Op Vredenburg, Saldanha en selfs Langebaan is vele huiseienaars keelvol om gereeld pienk stofuitval van hul stoepe, mure en vensters af te was.

Alan Carnegie, oud-ingenieur en inwoner van Saldanha, baklei al jare om stofuitval van die ystererts verminder te kry. Hy het die gedig op die rots oor hierdie stryd geskryf. FOTO: TRISH GOOSEN

Hoofstraat in Vredenburg. Ysterertsstofuitval is oral sigbaar. FOTO: HELÉNE MEISSENHEIMER

Selfs die NG Moederkerk op Vredenburg, wat ’n paar jaar terug teen groot koste nuut geverf is, is besmeer.

FOTO: HELÉNE MEISSENHEIMER

Wilene Smith van Vredenburg, is een van ’n paar huiseienaars wat Weslander oor die probleem geSMS het. Sy sê sy is moeg daarvan dat haar huis so lyk. Op Vredenburg is die pienk stof oral sigbaar – van die kerk tot die hof, langs sypaadjies en op lamppale en vensters. Nogtans beweer Transnet dat volgens hul rekords, stofuitval sedert 2007, toe daar met monitering begin is, afgeneem het. Tans word om en by 60 miljoen ton ystererts jaarliks by die Saldanha-hawe geberg en verskeep en onlangs is aangekondig dit gaan oor die volgende vyf jaar na 82,5 miljoen ton verhoog word. Transnet Port Terminals (TPT) het al miljoene gespandeer om die stofuitvalprobleem hok te slaan, maar steeds blyk maatreëls soos die natspuit van die ysterertshope en bedekking van die vervoerbande nie volkome effektief te wees nie. Dit laat die volgende vrae ontstaan: Gaan meer gedoen word om besoedeling deur die ysterertsstof te bekamp? Het die ysterertsstof ’n impak op gesondheid en wat is tans in plek om die besoedeling te moniteer? Van Transnet se kant het Willem Roux, hawe-bestuurder by Saldanha-hawe, en ook Mboniso Sigonyela, woordvoerder by Transnet se hoofkantoor aan Weslander die versekering gegee dat TPT daartoe verbind bly om stofuitval binne nasionale standaarde te hou. Sigonyela het gesê water bly die mees effektiewe manier om stofuitval te beheer. Die ystererts word natgespuit terwyl dit op die ysterertshope lê. Die voginhoud van die ystererts word egter beperk ingevolge kontraktuele ooreenkomste tussen TPT en hul kliënte.

Volgens Sigonyela kom die stofuitval nie van die ysterertshope af nie, maar word dit tydens die hantering van die erts vrygestel. Hy het gesê dit sal onprakties wees om die sowat 40 hope te bedek – soos dit in Australië gedoen word – omdat hulle so groot is. Roux het gesê die ysterertshope bly ’n uitdaging. Daar moet gekyk word na die beste praktyke ter wêreld wat dan hierheen gebring moet word. Hy erken egter dat die Weskus unieke weersomstandighede asook baie wind het wat na gelang van die seisoene, uit verskillende rigtings waai. Wat die gesondheidsimpak betref, beweer Sigonyela die stof is nie gevaarlik nie, “want die liggaam absorbeer nie die substansie nie”. Hy sê die impak van hul werksaamhede op die omgewing en mense word gereeld gemonitor. Gereelde monitering deur ’n diensverskaffer, aangestel deur TPT, is een van die voorwaardes waarop die Weskus-distriksmunisipaliteit (WDM) op 1 Julie 2011 aan Transnet ’n lisensie vir atmosferiese uitlatings uitgereik het ingevolge die Wet op Lugkwaliteit. Dit is nie duidelik of daar so ’n onafhanklike diensverskaffer is nie. Roux het gesê hy sal navraag doen en terugvoer gee. Dinsdag het Weslander by Alan Carnegie, oudingenieur en kampvegter teen die stofuitval, verneem dat TPT Maandag ’n vergadering met sowat 18 plaaslike rolspelers gehou het oor die stofuitval. In die vergadering is aan Transnet gesê die stofuitval is erger as ooit tevore. Carnegie weet nie wanneer die volgende vergadering is nie, dalk oor drie maande, en hy verwag dan terugvoer oor moontlike vergoeding vir skade aan geboue weens stofuitval. . Kumba Iron Ore (Kumba), een van die grootste ysterertsuitvoerders (39,7 miljoen ton in 2012) by Saldanha-hawe, het gesê Transnet is verantwoordelik vir die hantering van hul ysterertsuitvoer. Kumba is nie betrokke by die bedryf van die hawe nie en het navrae oor die stofuitval na TPT verwys.


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.