BASUIN Dec 2024

Page 1


BASUIN

DESEMBER 2024

REDAKSIONEEL

‘n Groot dank aan die Basuin redaksie span, en elkeen wat so vinnig gereageer het met bydraes vir ‘n heerlike Desember Basuin uitgawe! Ons Verlosser se geboorte is die moeite werd om gevier te word, en die jaar moet immers gegroet word. Vas byt met die laaste stootjie, en mag jy ‘n tydjie iewers inruim om rus en vrede te vind te midde die dollighede, en nuwe krag te vind by God vir ‘n wonderlike uitsig van 365 dae van nuwe kanse. God se deur is altyd oop. Klop.

Thea Stopforth Geseënde Christusfees

AMPSDRAERS

LERAAR

Ds Wouter van Velden

LERAAR ONTVANGS

Ds Suzette Turner

Estéa van Deventer 081 270 9378 082 961 2004 023 614 1530 1968wouter@gmail.com suzetteluwes@gmail.com ontvangs@ngkmontagu.org

SKRIBA

Elsabé Wright

KOSTERS

BANKBESONDERHEDE

Elizma Brand NG Kerk Montagu 023 614 1530

Jurie Swart ABSA Montagu skriba@ngkmontagu.org

071 388 7527

Rekening nr: 1050148161

Estéa van Deventer het onlangs by ons aangesluit by die kerkkantoor, wat nou Ontvangs vir ons behartig. Sy het op Saterdag, 14 September 2024 met Jaco van Deventer getrou, en op 1 Oktober by die kerkkantoor begin werk.

Sy is in Carnarvon gebore en het op die ouderdom van nege na Riversdal verhuis waar sy vir 11 jaar die bemarker van Hoërskool Langenhoven was.

Estéa: “Ek is opgewonde vir my toekoms in Montagu en het reeds baie lief vir die gemeenskap geraak. Ek sien ook baie uit om die pad saam met die kerkkantoor te stap!”

BASUINREDAKSIE

LEDE: Thea Stopforth (Red), ds Wouter van Velden, ds Suzette Turner, Petro Jordaan, Ernie Oosthuizen, Lize Rossouw, Francois Tredoux, Jean-Marie van der Walt en Elsabé Wright.

Die artikels en inligting wat in Basuin gepubliseer word weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie of van alle gemeentelede nie. Die redaksie behou hom die reg voor om alle materiaal te verwerk of te verkort om met begrip gepubliseer te word. Ons verwelkom bydraes uit die gemeente en ontvang dit verkieslik per e-pos in MS Wordformaat. Handgeskrewe stukke is egter ook welkom en kan by die kerkkantoor ingehandig word. Sperdatum – 20 Maart 2025.

Thea Stopforth theastopforth@gmail.com

Ernie Oosthuizen ernieo@telkomsa.net

80+ Verjaarsdae

Erediens

Liza Fouché

10/11/2024 gedoop

Dope

Ouers: Joubert en Marisa Fouché

Livvy Turner

08/12/2024 gedoop

Ouers: Jordan en Suzette Turner

Eletjé de Kock

08/12/2024 gedoop

Ouers: Wehan en Chrizelda de Kock

Ons innige meegevoel

… aan die oorblywende familie en vriende met die afsterwe van:

1. Johannes Stefanus Rossouw 10/03/1930 – 05/09/2024

2. Jozua Francois Joubert (Joos) 23/04/1965 – 02/10/2024

3. Rosa Hermina Snyman (tannie Das) 16/03/1934 – 06/10/2024

4. Martha Dorothea Hansen (tannie Martie) 31/05/1936 – 31/10/2024

5. Maria Magaretha Fouché (Marieta) 14/02/1959 – 08/11/2024

6. Johanna Jacoba Beukes 13/12/1933 – 15/11/2024

7. Alexandrina Florentina Erasmus (tannie Rina) 02/03/1931 – 17/11/2024

8. Petrus Johannes le Grange (mnr. Piet) 19/01/1937 – 18/11/2024

9. Sam Glanwell Rudman 11/06/1957 – 24/11/2024

InPas met ons God

- Deur Dawie van Deventer (Voorsitter van die Kerkraad)

Daar is groot opgewondenheid want Montagu Gemeente kan saam danspassies met God maak. Ons is op pad om aan iets moois te bou wat ons nog mooier en nog meer inpas gaan maak met ons Gemeente en ons naaste. Elke gemeentelid is vir ons belangrik en ons sal elkeen saam op hierdie reis wil neem.

As ons terugkyk na die reis van 2024 was dit weer ‘n opwindende een wat propvol was. Ons is dankbaar dat ds. Wouter van Velden en sy gesin in Februarie by ons aangesluit het en ook ds. Suzette Turner wat geboorte gegee het aan ‘n gesonde dogtertjie, Livvy. Dankie aan die Jeugbediening wat volstoom ingestaan het en die jaar mooi passies saam met die jeug getrippel het.

As ons ligvoets oor die fondsinsamelings praat, is ons dankbaar vir elke geleentheid wat ’n geldjie ingebring het. Die ontbyt-, paasmark- en wildsvleispasteibak-projekte was soos elke jaar ’n groot sukses.

Nog ’n danspassie was die Passiespel-opvoering, lekker en mooi om te hoor hoe jonk en oud ’n spesiale band gesmee het en ’n treetjie oor grense gegee het. Mooi passies het uit die vrouebediening gekom deur die Bybelstudiegroepe wat ontwikkel het.

Ons orgaan (die orrel) wat die asem op die dansvloer is, was 125 jaar oud. Saam met ’n bekende orrelis het ons lekker orrelverjaarsdag gehou. Wat ’n groot belewenis! Ons is besig om InPas met God te dans – soms druk die skoene maar, maar ophou sal Montagu Gemeente nie. Dankie aan elkeen wat help om die passies te dans tot voordeel van Montagu Gemeente en tot EER van Jesus Christus.

Mag ons uitsien na 2025 se passies wat die Gemeente saam gaan gee.

- Deur Ds Suzette Turner

Hierdie jaar voel ek nog nie heeltemal ‘reg’ vir kersfees nie. Kersversiering gaan op, kerssangdiens is gehou, die winkels speel ‘Jingle Bells’… Sommige mense begin al laaaank voor die tyd met voorbereidings vir Kersfees en hierdie tyd word selfs gekenmerk as die besigste tyd van die jaar. Hierdie tyd laat ons siele dikwels voel asof dit terselfde tyd vol en leeg is. Ek weet darm nie. Ek kan regtig nie uitmaak hoekom ek hierdie jaar só voel nie; dalk omdat ons gesinslewe onherroeplik verander het die afgelope paar maande met die koms van ons baba dogtertjie, Livvy. Die lewe is voller en besiger as ooit.

Tog is my ervaring van Jesus se geboorte so anders hierdie jaar. Geboorte skenk alleen moes vir Maria in daardie koue stal baie uitdagend gewees het. Wat nog van ‘n maagdelike geboorte, die oordeel van mense en die verantwoordelikheid van die Koning se geboorte?

Hoe lyk jou Kersfees hierdie jaar? Ek moet bely dat die afgelope jaar, met al sy nuwe aanpassings, meer uitdagend was as voriges. Daarom het ons as gesin besluit om hierdie jaar oor Desember met jan tuisbly se karretjie te ry. Hoekom? Vir die rede om te rus, te herlaai en mekaar ekstra styf vas te hou. Net ons drie. En die twee honde.

Ek het toe begin wonder of is dit dalk die verkeerde besluit? Is Desember en vakansie-verlof nie juis vir groot familiebyeenkomste en seevakansies nie? Of kom leer Jesus se geboorte dalk vir my eenvoud en afskaal hierdie jaar? In die begin van tyd het God vir ses dae gewerk en die sewende dag ingestel as ‘n rusdag. Wanneer ons rus, gee ons erkenning aan God se betroubaarheid. Ons erken dat selfs wanneer al hierdie voorbereidings en werk tot stillstand kom, God steeds die wêreld bymekaar sal hou. Wanneer ons ophou werk en beplan, sal ons in die stilte ook Sy getrouheid beleef. Die wiele sal nie afval wanneer die mens ook besluit om dit ‘n bietjie rustiger te vat nie.

Omdat ons gesin besluit het om Kerfees 2024 ‘n bietjie rustiger aan te pak, beteken nie almal besluit om dit so te doen nie. Maar, ek wil jou graag uitnooi om êrens in hierdie besige seisoen ‘n bietjie stilte te soek en Jesus se uitnodiging na rus te aanvaar. Soek ‘n oomblik van rustige aanbidding en erken dat jy ook op sy getrouheid vertrou. Psalm 62:2 getuig: ‘Ek is rustig wanneer ek by die Here is.’

Geseënde Kersfees, Montagu. Jesus beweeg!

Nagedink oor… Kersfees

- Deur Ds Wouter van Velden

Hierdie Basuin vra die vraag: Hoe lyk jou Kersfees? As ek hierdie vraag in November gevra word, is my eerste reaksie: Ek weet regtig nog nie, want daar gebeur nou nog net te veel dinge om al aan Kersfees te dink. Daar is net soveel los drade wat die einde van die jaar bymekaar moet kom. Soveel dinge wat afgehandel moet word voor die skole sluit, ens, ens.

Ek weet nog nie lekker hoe my Kersfees 2024 gaan lyk nie. Al wat ek nou weet, is dat ek aan diens is. Dit kan baie maklik gebeur dat ek nie weer oor Kersfees dink tot ‘n week voor die tyd wat ek preek moet begin maak nie. As dit so is, is dit eintlik so hartseer. Hartseer omdat ‘n mens die afwagting wat Kersfees eintlik het, misloop.

Gelukkig help die kerklike jaar my om nie te leef asof Kersfees nie nader kom nie. Begin Desember begin ons met Adventstyd in die kerklike jaar. Advent is die begin van die kerklike jaar en in die 4 weke voor Kersfees word ons elke Sondag daaraan herinner dat ons Verlosser na hierdie wêreld aan die kom is. Die eredienste wil ons help om met ‘n verwagting te leef dat ons Verlosser, Jesus Christus, gebore gaan word. God se reddingsplan om aan mense die ewige lewe te skenk, word as’t ware vir ons weekliks beklemtoon.

Daarom word daar elke week ‘n tema beklemtoon wat ons moet help om te bepaal hoe ons Kersfees gaan lyk. Hoop, Vrede, Vreugde en Liefde. Hierdie 4 woorde wil eintlik vir ons sê dit is hoe ons Kersfees behoort te lyk.

Tog is dit nie waar van alle mense nie en is dit dalk net ‘n klein groepie mense in hierdie wêreld wie se Kersfees so lyk. Soveel ander se Kersdag gaan nie saam met ander gelowiges begin word met ‘n erediens in ‘n gebou nie – die oorlog veroorsaak dat daar nie meer ‘n gebou is om in kerk te hou nie. Vir baie is dit ook nie ‘n familie-aangeleentheid nie, want in 2024 het skrapnel ons familie in duie laat stort – sommige is dood, ander is vermink en party lê begrawe onder puin.

Nagedink oor… Kersfees (vevolg…)

2024 het sommiges sonder huise gelaat na vloede. Ander kan vanweë bendegeweld beslis nie ’n familieaangeleentheid in hulle woonbuurt reël nie. Motorongelukke en siektes gaan ook sommige van ons se Kersfees anders laat lyk as in 2023.

Ek is eintlik bang om te antwoord: Hoe lyk my Kersfees? Ek is baie meer gemaklik daarmee om eerder die vraag te antwoord: Hoe lyk my Verlosser? My Verlosser is vas en seker en geen oorlog, geweld, siekte of vol program kan dit verander nie. My Verlosser is die Gestuurde van die Vader, wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip in Betlehem gelê het en wie se kruis al die skaduwee van die krippie in die stal was.

Jesus is my Verlosser en ook die Verlosser van die man en vrou en Gasa en Israel, die man langs Hom aan die kruis en die weduwee in Ashbury. Hoe lyk my Kersfees? Ek weet nog nie, maar ek weet dat Kersfees 2024 my wil bind aan my Verlosser wat vir my gebore is.

Montagu is een van ons besigste dorpe, hier is baie aksie. Ons dorp kry elke vakansie baie besoekers. daarom moet die beplanning reg wees. Ons dorp is vir Boland Risk Solutions (BRS) belangrik en daarom het ons ‘n verantwoordelikheid teenoor ons mense.

Oor Kerstyd het ons personeel minder af periodes sodat ons ekstra eenhede kan uitsit. Die kantoorpersoneel sluit maar die operasionele kant van BRS het ‘n geen verlof beleid van 10 Desember tot 10 Januarie.

HOE LYK KERSFEES VIR

BRS

- Deur Werner van der Merwe

Ongelukkig is dit ’n feit dat midaad aansienlik toeneem gedurende Kerstyd. Met personeel wat lojaal is teenoor hul werk kan ons probeer om die dorp veilig te hou. Soms moet ons maar ekstra eenhede bykry.

Graag wil ons die volgende met ons inwoners deel – “onthou, kriminele hou nie vakansie nie”, maak voorsiening om jou bates en mense veilig te hou.

Net ‘n vriendelike versoek en ‘n paar nuttige wenke vanaf BRS vir die vakansieseisoen:

• Stel jou diensteverskaffer in kennis, kry ‘n verantwoordelike persoon/sleutelhouer vir dié tydperk. Indien moontlik, stoor items wat as ’n reël buite staan.

• Gewone reëls vir die vakansie: moenie waardevolle items sigbaar in voertuie hou nie.

Ons bly in Suid-Afrika – wees paraat.

Een van die eerste dinge wat ek vir my man gesê het na ons getroud is, is dat hy moet onthou verpleging is ’n skofwerk en dit beteken dat ek nie elke vakansiedag of groot geleentheid sal kan bywoon nie, want dit hang af van die skof wat ek werk. Menigmaal in die laaste 24 jaar was dit ’n bron van onderonsie en toe ons kinders later bykom, het dit mooipraat gekos om te verduidelik hoekom mamma nie altyd kan saamgaan op vakansie of na ’n spesiale geleentheid nie.

HOE LYK KERSFEES BY DIE

HOSPITAAL

- Deur Elbé van Zyl

Maar soos met alle dinge in ’n gesin en huwelik is daar ooreengekom hoe ons dit die beste kon doen sodat ons almal ‘voordeel’ trek uit die reëling. Die oupas en oumas het natuurlik baie voordeel uit die skofte getrek want die kleinkinders was meer gereeld daar as wat dit onder ander omstandighede dalk sou wees.

Ek het in ’n huis grootgeword waar die fokus gedurende die feesseisoen absoluut op die Lig vir die Wêreld, Vredevors, Magtige Koning was en glad nie op die helderkleurige-tinsel en flikkerende-liggie viering van hierdie tyd nie, maar

wanneer die pasiënte wat kan huis toe gaan die hospitaal verlaat met ’n vrolike “dis festive daar buite”, dan trek my hart darem ook maar met ’n punt na die saamkom van familie en vriende.

Hierdie tyd is soms van die vrolikste tye in die hospitaal, maar ook soms die mees hartbrekende tyd. Vrolik, want dit is vakansietyd; werksverpligtinge skaal bietjie af en almal is in die gees van gee, omgee, jaareindfunksies, ens. Hartbrekend want ons werk behels die seerste van seer, ook op die vrolikste van dae, met sterftes en siektes en slegte nuus en alhoewel dit gedurende die hele jaar deel is van die pakket, tref dit anders in hierdie tyd wat juis bestempel word as familie-tyd.

Die personeel by die werk is ook mos maar ‘n ‘familie’ en hierdie tyd beplan ons ook aan geskenkies, veral die skof wat werk op kersdag en lekker eetgoed. Die versierings vind hulle plek so van vroeg in Desember af, ook in ’n poging om die kliënte en besoekers se tyd by die hospitaal bietjie op te helder. Ongelukkig is daar mos ook die pasiënte wat nie gelukkig genoeg is om huis toe te gaan oor hierdie tyd nie en dit bring ’n tevredenheid en rustigheid by ons wat moet werk, want dit is juis dan my verantwoordelikheid om hulle besoek/verblyf beter te maak, meer te ondersteun of ’n ekstra grappie of glimlaggie te bring.

Die lekkerste deel van werk oor hierdie tyd vir my, bly die kraamsaal waar ons almal uitsien na ‘n ‘Kersfees-baba’ en daar word groot bederf uitgedeel vir die eerste baba wat op Kersdag of nuwejaarsdag gebore word. En ja, ons opset verskil hemelsbreed van 2000 jaar gelede se geboorte in die stal met ons blink instrumente, masjiene wat mamma en baba monitor...maar dieselfde is waar vandag as toe: met die geboorte van ’n baba vandag, is daar net soveel hoop, drome, verwagtinge, vreugde en blydskap as 2000 jaar gelede.

Miskien is dit die deel wat Kersfees-werk juis vir my so kosbaar maak – waar ander mense net die storie van Josef, Maria en Jesus kan lees; beleef ek dit amper eerstehands in die geboorte van ’n nuwe baba en maak dit die storie ’n werklikheid... soveel potensiaal, soveel verwagting, soveel seën vir die families wat met ’n nuwe bondeltjie huis toe gaan – net soos wat ek die bedoeling daar in die stal verstaan .... die verwagting van verlossing, die seën van onvoorwaardelike Liefde vir ons almal, altyd.

Mag hierdie tyd vir almal wat in een of ander kapasiteit werk, vrede en rustigheid bring dat die essensie van die dag nie weg is of verlore gaan omdat jy nie saam met familie om ‘n gedekte tafel kan sit nie.

Laat dit juis vir ons ‘n uitdaging wees om tyd te maak om te midde van werksverpligtinge, die Vredevors, Magtige Koning en Lig vir die wêreld te vind daar in jou besig wees.

Hier is 3 punte om ons te herinner hoekom ons Kersfees vier:

1. God se liefde is aan ons geopenbaar

2. Jesus was ‘n geskenk wat ons vrede gee in die oorweldigende gewoel en gejaag

3. Ons het nou die belofte van verlossing

MVFRA

Die Montagu Volunteer Fire& Rescue Association (MVFRA) is‘n geregistreerde NPO (245-707) wat op 12 Februarie 2020 gestig is om by te dra tot die veiligheid, lewenstandaard en die ondersteuning en ontwikkeling van die gemeenskap van Montagu en omgewing tydens rampe en pandemies.

Die MVFRA vrywilligers is hier om alle inwoners van Montagu wat hulp mag benodig tydens rampe en pandemies, te ondersteun asook om plaaslike en provinsiale owerhede by te staan om die impak van rampe te minimaliseer, van bosbrande tot vloede en ander mensgemaakte rampe of burgerlike onrus.

Met die feesseisoen op hande is al ons vrywilligers juis toegespits op die groot moontlikheid van brande – Suid-Afrika se Somerkersfees het ook soms sy “te warm” kant en brande kan nie buite rekening gelaat word terwyl daar vakansie gehou en feesgevier word nie.

Die meeste vrywilligers en die bestuurspan sien ook daarna uit om tyd saam met familie en vriende deur te bring, heerlik te smul aan Kersfeeskos, daardie spesiale geskenk onder die boom te los, en Jesus se geboorte te vier met geleenthede om te sing tot sy eer.

Maar vir al die spanlede wat gedurende die feesseisoen in Montagu “op roep” is, is die foon nooit te ver en een oog en oor altyd oop…. gereed om tot diens te wees. Die eerste groot brand van die seisoen in die Kaapse Wynland het reeds in Ceres uitgebreek, dus is dit noodsaaklik vir MVFRA om altyd gereed te wees.

Ons is so bly om nuwe vrywilligers tot die span te verwelkom en dalk hierdie feesseisoen die geleentheid te gee om hul eerste vure te blus. Ons moet ook hierdie nuwe lede toerus met die nodige beskermende klere. Ons deel dus graag ons nuwe projek:

“Adopt a Fire Fighter” – vir slegs R2 000 per jaar of R200 per maand kan jy hierdie Kersfees die grootste geskenk vir Montagu Volunteer Fire and Rescue gee.

Die afgelope 5 jaar was MVFRA reeds by verskeie brande en vloede behulpsaam, sowel as tydens Covid, wat ‘n totaal ander uitdaging was. Uit Covid het dan ook Montagu Cares, wat op totaal ander behoeftes fokus, ontstaan.

Ons wens elkeen ‘n geseënde Kerstyd en seënwense vir 2025 toe.

HOE LYK KERSFEES VIR

SOZO

- Deur George (SOZO Medical Rescue)

Sozo Medical Rescue het sy oorsprong in Montagu, en is in die jaar 2010 deur wyle mnr. Steven Thomas in die lewe geroep. Ons het op 11 Maart 2013 by hom oorgeneem. Sozo het in ledetal gegroei en het goeie ondersteuning deur die aansluiting van ons gemeenskap gekry. Tydens covid het ons ongeveer 80% van ons lede aan die dood afgestaan. Ons veg tans om nuwe lede te werf en sodoende die diens 100% te probeer herstel.

Hoe lyk ons Kersfees? Die feesseisoen is op hande, almal maak gereed om op reis te gaan en vakansie te gaan hou. Sozo, in samewerking met Verkeers, Brandweer-, Suid-Afrikaanse Polisie- en Metro-Ambulansdienste gaan sigbaarheid toon deur op gereedheid langs die paaie te staan. Ons het 2 skofte wat sal werk en mekaar afwissel en ons werk tot alle nood opgelos is. Ons werk op skofte van 07:00 tot 19:00. As daar egter noodgevalle voor uitvaltyd kom, het ons glad nie uitvaltyd nie. Ons het nie grense nie en werk enige plek waar daar nood is. Ons het al pasiënte so ver as Kakamas en Kimberley vervoer.

Wat is die uitdagings rondom Kerstyd? Ons uitdagings oor Kerstyd is dat ons dalk ekstra toerusting gaan benodig.

Wat is die slegste wat ons al in Kerstyd ervaar het? Dit was toe daar meer as een noodgeval was en al die nooddienste terselfdertyd op verskillende ongelukstonele besig was, en moeilike besluite rondom prioriteit geneem moes word.

Ons boodskap vir die gemeenskap:

Dink nugter, wees waaksaam, ken God in jou beplaning, hou by die padreëls as jy op die pad gaan. Ons bid vir jou beskerming in wat jy ook al doen, volgens Psalm 91.

Kan enige persoon wat hulp benodig julle kontak?

Enige persoon is welkom om ons in ‘n noodsituasie te kontak. Ons help graag afhangende van ons beskikaarheid.

Seënwense vir u en die gemeenskap.

SAPD

076 401 7066

Montagu is ‘n toerismedorp en hierdie tyd van die jaar (feesseisoen) is daar baie beplanning om die feesgety ‘n fees vir besoekers en inwonders te maak.

Montagu Polisie het reeds op 1 Oktober 2024 weggespring met die feesseisoen en dit strek tot 31 Januarie 2025. ‘n Deel van hierdie operasies fokus op die veiligheid op paaie en u sal dus verskeie padblokkades en voertuigkontrolepunte gedurende hierdie tyd sien.

Om egter al hierdie operasies uit te over het ons mannekrag nodig. Dit is egter die rede hoekom ons Nasionale Kommissaris jaarliks ‘n instruksie uitvaardig dat geen polisiebeampte tussen 15 Desember 2024 en 15 Januarie 2025 vakansieverlof mag neem nie.

Hierdie instruksies is nie altyd gemaklik vir baie van die polisiebeamptes en hulle familie nie, maar dit is gedurende hierdie tyd dat ons passie, lojaliteit en verantwoordelikheid teenoor ons gemeenskap ons dryf om ons beste te lewer. Diegene wat dus die voorreg het om hierdie feesgety saam met hulle families te geniet, moet dit opreg waardeer en dink aan baie nooddienste soos ons wat nie daardie voorreg het nie. Ons moet ook veral ons polisiediens bedank wat dit nog elke jaar reggekry het om ernstige misdaad gedurende die feesgety tot die minimum beperk.

Ons is tans druk besig met die laaste reëlings van die projekte wat gedurende die 16 dae van aktivisme geloods word. “No violence against women and children”, 25 November – 10 Desember 2024. Die projek skop alreeds Sondag 24 November 2024 in die Koo af om as ‘n poging te dien om geweldsmisdade teen vroue en kinders te verminder of te stop. Konstabel Essie Philander is in beheer van die projekte in samewerking met rolspelers soos die ACVV, GPF, VEP vrywilligers, Geestelike misdaadvoorkomingseenheid, Montagu Cares en nog vele meer.

Misdaad sal slegs plaasvind aas daar ‘n geleentheid geskep word om misdaad te pleeg. Die Polisie rig ‘n vriendelike versoek aan die gemeenskap om te help om die geleentheid om misdaad te pleeg te verminder deur die volgende paar wenke te volg:

 Stel u bure in kennis indien u vir ‘n tydperk weg van u woning gaan wees

 Moenie dat pos in u posbus ophoop nie.

 Moenie enigiets van waarde enige plek laat rondlê waar dit misdadigers lok nie.

 Moenie u veiligheidshek oopsluit vir vreemde/onbekende persone nie.

 Moenie bedelaars by u woning kosgee nie.

 Bly nigter wanneer u u voertuig bestuur en gehoorsaam padreëls.

 Sorg dat u ten alle tye bewus is waar u minderjarige kinders is, aangesien ons gereeld gedurende hierdie tydperk aanmelding van vermiste persone kry.

 Maak ten alle tye seker dat u voertuig se deure en vensters gesluit is en dat geen waardevolle items rondlê wat misdadigers lok nie.

U word verder ‘n geseënde Christus feesgety toegewens en dat ons Hemelse Vader u en u families sal seen met voorspoed vir 2025.

Wenk van die maand

Met die munisipale rekeninge wat die afgelope tyd maar deurmekaar was, het Basuin by die munisipaliteit gaan kers opsteek oor wat inwoners te doen staan as hulle voel daar is ’n probleem met die maandelikse rekening.

Hier volg die onderskeie kontakpersone soos verskaf:

• Montagu kantoor – Mev Bregene Pekeur. 023 614 8000. Neem kennis, sy kan rekening deurgaan, maar geen regstelling maak nie. Dit word op Ashton gedoen. Sy kan wel raad gee en seker maak daar is wel ’n probleem.

• Ashton kantoor vir regstellings. Stel voor jy maak afspraak, neem alle stawende dokumentasie.

Kontakpersone:

Thandile Doko - TDoko@langeberg.gov.za

Uyanda Nkasa - unakasa@langeberg.gov.za

Tel: 023 615 8000

Diens Van Barmhartigheid (DVB) en getuienis 2024

Matteus 25:31-46

“Ek was honger en julle het My iets gegee om te eet; ek was dors, en julle het my iets gegee om te drink …. En die Koning sal hulle antwoord: “Dit verseker ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan my gedoen.”

Dit is weer daardie tyd van die jaar waar ons terugkyk en besin oor wat werklik in hierdie jaar sin gemaak het. Party sien die swaarkry van die jaar raak en hoop op ‘n beter jaar in 2025.

Ander kyk met dankbaarheid terug op tweede kanse wat gekry is en suksesse wat behaal is. Wat ons nooit moet vergeet nie, is dat dit alles God se plan vir jou en my vir hierdie jaar was. Die belangrikste is dat Hy ook klaar die nuwe jaar vir ons beplan het. Diens van Barmhartigheid en Getuienis kyk terug en is dankbaar vir ‘n geseënde 2024. Dankie vir Montagu Gemeente wat met hul bydraes ons nooit in die steek laat nie. Die Koo vir hul ruim bydrae vir Getuienis elke jaar. Sonder fondse is ons nie in staat om die werk te kan doen nie.

Dankie dat ons kos kon voorsien aan hulle wat nie het nie. Dat ons in kinders se lewe ‘n verskil kon maak. Dat ons kon help waar daar groot nood was. Dat ons bydrae aan Huis Uitvlucht bejaardes kan help. Dankie vir die kerkraad, leraars en die personeel wat saam met ons hande vat.

Dankie vir Marita McAlpine wat ons skakel met Huis B op Robertson is, waar ons elke kind met sy verjaarsdag spesiaal kan laat voel, hulle Kersfees met ‘n geskenk kan verras en een keer per jaar op ‘n lekker uitstappie kan neem. Dankie vir donateurs wie se harte oop is vir Huis B.

Dankie vir ds. Eric Malgas wat vroegdag uit Kuilsrivier vertrek om 7:15 die eerste plaasbesoek te kan begin en dan van plaas tot plaas ry om die Woord te verkondig. Die plaaswerkers waar hy betrokke is, waardeer sy besoeke en sien uit na elke maand se besoek. Werklik ’n onbaatsugtige diens. Dankie vir genoeg fondse om in Montagu Bybels te kan versprei en dat die fondse genoeg is om buite ons grense ook by Bybelverspreiding betrokke te wees.

Dankie vir almal wat voorbidding doen vir hierdie diensarm van Montagu Gemeente. DvB en Getuienis kyk dus met groot dankbaarheid terug na ‘n mooi en voorspoedige jaar. Mag almal ‘n Geseënde Kersfees ervaar en Voorspoed vir die Nuwe Jaar.

Die waarde en uitdagings van ’n dankfees

Ek hoop wat was sal weer wees!

Dit sal ’n droom wees wat waar word wanneer ons weer in die wyk kan basaar hou soos vroeër jare. Almal wat saamwerk, saam opgewonde is, skaapboude vir maande opgaar vir basaartyd, veiling en konsert hou.

Almal se tiendes is in die vorm van ’n tjek in die oorgetrekte houer geplaas. Die vrouens wat voor die tyd vergader en beplan, ens., bring almal nader aan mekaar en almal werk saam en bou buurmanskap.

Ongelukkig het finansiële druk en verhoudinge ’n demper geplaas op ’n dankfees. Gemeentelede het minder geword en nuwe intrekkers is nie soos van ouds altyd lid van ons kerk nie.

Mag ons droom en glo in ’n dankfees soos van ouds!

‘n dank fees

- Deur Lize-Maré le Roux

Op elke almanak regoor die wêreld is daar feeste wat gevier word. Die Hebreeuse woord vir “feeste” (moadim) beteken letterlik “vasgestelde tye”. Dit is tye wat uitgesit en beplan word om dank aan ons Hemelse Vader te betoon.

Dit is ’n groot voorreg om sulke geleenthede te kan reël en as gemeenskap by te woon. Dit is 'n tyd wanneer ons die oorvloed van God se voorsiening vir ons, saam met ander, kan geniet.

Ons erken God se betrokkenheid in ons daaglikse lewe. Ons vier saam fees uit dankbaarheid oor sy bevrydende dade vir ons as sy kinders. Christus se wonderlike boodskap dat ons elke dag die lewe in oorvloed kan hê, is definitief genoeg rede om fees te vier! ’n Dankfees is as’t ware ‘n “dankie Here” fees. Ons sê dankie vir gemeenskap, geloofsfamilie, goedheid en guns. Ons sê dankie vir nog ’n jaar wat die Here ons gespaar het, en dat ons deel kan wees van ‘n gemeente.

’n Dankfees word ook ’n geleentheid waar ons verhoudinge kan bou; ‘n tyd om saam met medegelowiges deur te bring, en mekaar te herinner dat ons nie die geloofspad alleen hoef te stap nie. Ons dank Hom vir elke goeie gawe en geleende tyd op aarde. Daar is soveel redes om fees te vier. God laat ons feesvier. Hy versorg ons elke dag.

Dis ‘n “dank”-fees saam met Hom!

Pietersfontein Dankfees

- Deur Mia Conradie

Elke jaar by die Pietersfontein Dankfees word daar gese dat ons as ‘n wyk meer gereeld bymekaar moet kom. Ons is ‘n lekker klomp bymekaar: van grys koppies tot pienk voetjies en die tussen-in. Hierdie jaar het beide dominees bygewoon, Suzette en Wouter. Dis ‘n regte bring en braai en vooraf word afgespreek wie wat bring. Elkeen in die wyk het hul ‘speciality’. Van aartappelgereg, slaaie, vars brode en nagereg (te). Hierdie jaar was ‘n dag-kuier en die weer het perfek saamgespeel. Ons is dankbaar vir die mense in ons wyk.

KOO DANKFEES

- Deur Petro Jordaan

As ek dit nou reg het is die Koo nog die enigste wyk in Montagu – oftewel die Montagu distrik – wat nog twee dankfeeste – die “outydse” bazaar in Junie en ’n getuienisfees in Oktober – het. Hierdie feeste is al so oud soos die berge en alhoewel die mense in die Koo soos orals ook maar minder raak en baie nuwe intrekkers bykry, bly hierdie dankfeeste ’n tradisie en was die voortbestaan hiervan nog nooit in gedrang nie. Ek het gaan nadink oor die wenresep vir die volhoubaarheid maar ook die groot sukses van hierdie twee hoogtepunte van die Koo gemeenskap.

Ek dink die heel belangrikste faktor wat hierdie feeste se sukses verseker is dat elke Koo inwoner hierdie feeste eerste prioriteit maak. Hierdie feeste geniet voorkeur bo enige ander funksie en almal weet as dit “bazaarnaweek” is, kom jy, jy neem deel en jy doen jou deel. Die samesyn onder die Koo inwoners en atmosfeer van die feeste is altyd lekker, inspirerend en lig. Dis elke keer lekker om deel te wees van hierdie geleenthede en ek dink elke Koo inwoner voel trots op hierdie feeste.

Dis ‘n familie byeenkoms. Die Koo Bazaar – en getuienisfees – is kindervriendelik en daar word regtig baie moeite gedoen om seker te maak daar is genoeg aktiwiteite vir kinders – groot en klein – asook genoeg items waarin kinders belangstel op die tafels te koop.

Die kos bly jaar in en jaar uit van top gehalte. Dit is smullekker tradisionele “bazaarkos” en die moeite en liefde wat in die voorbereiding daarvan gaan, kan mens so te sê proe en ruik.

Trots. Ons Koo gemeenskap is trots om hierdie feeste aan te bied en deur ons offergawes te gee wys ons wie die erkenning in ons gemeenskap moet kry – en dit is die Here. Die Koo Vallei is ‘n boeregemeenskap en die meeste van ons se inkomste kom vanaf die natuur; soos elke boer beleef ons maar al te dikwels rampe wat buite ons beheer is maar jaar in en jaar uit sorg God vir ons – en daarom gee ons alles wat ons kan weer terug aan Hom – aan Hom waaraan alles en almal tog behoort.

Aan God alle eer – vir ons dankfeeste, ons vallei, ons vriende en familie, ons gesondheid, ons toekoms en elke oes wat nog ingesamel sal word. As mens mooi gaan nadink oor al die Here se genade in mens se lewe is dit amper onmoontlik om te dink dat die dankfeeste al hoe minder raak.

NG Kerk Montagu Kerssangdiens 2024

- Deur Sebastiaan Pretorius

Die basuine het luid weerklink en die engelekore het heelhartig saamgesing toe ons ons jaarlikse Kerssangdiens op 24 November uitgevoer het.

Hierdie suksesvolle aand was nie net ‘n gemeenteprojek nie, maar ‘n projek wat die hele gemeenskap, van peuter tot bejaarde, saamgesnoer het. Elke taak is met sorg, eer en hartstog uitgevoer. Elke gebed wat gebid is, elke hand wat uitgesteek is om hulp te verleen, elke gedagte wat gedeel is, elke deelnemer en elke persoon wat deel was van die beplanning en die uitvoer van die aand was deur die Heilige Gees geïnspireer en dit het in ‘n baie spesiale aand gekulmineer. Wat ‘n voorreg om deel te wees van so ‘n fenomenale span mense.

Die aand was ‘n viering van God wat die Lig vir die wêreld is, die Een wat gekom het om siele te verlos en sy kinders meer as oorwinnaars te maak. Dit was ‘n feestelike gebeurtenis en het siele tot sover as Johannesburg en Pretoria bereik en aangeraak. Iets wat nie uit mensemag gedoen kan word nie. Groot dank word uitgespreek aan elkeen wat gehelp en deelgeneem het. Daar was so baie hande betrokke dat dit onmoontlik is om almal by name te bedank. Hierdie is weereens ‘n voorbeeld van wat gedoen kan word as God se gemeente as een liggaam saamwerk om Hom te verheerlik en te eer.

Mag God se lig hierdie feestyd in elke huis en hart skyn. ‘n Geseënde Kersfees word u toegewens.

“‘Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee: Hy sal heers, en Hy sal genoem word Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”

- Jesaja 9:5

DIE STORIE VAN DIE VIER KERSE

- Deur Sanja van de Sande-Houpst

Eens op 'n tyd het vier kerse gebrand. Dit was so stil dat mens hulle kon hoor praat. Die eerste kers het gesê: “Ek is VREDE. Ek het al jare my bes gedoen. Ek het gehoop dat mense sou ophou stry, wapens gebruik en mekaar slaan oor meningsverskille. Maar daar bly oorlog en waar 'n paar mense bymekaar kom, bly argumente ontstaan. Wat is die punt daarvan dat ek aanhou brand? Niemand kan my keer nie:” Haar vlam het vinnig kleiner geword en geblus.

Die tweede kers het gesê: Ek is die VERTROUE. Ek leer mense om in die lewe self en in mekaar te glo. Ek leer hulle dat hulle saam iets moois kan skep, maar hulle luister nie. Hulle vertroue is so laag. Hulle glo net in ellende en drome wat soos 'n veer wegvlieg. Mense vertrou nie eers meer hul eie harte nie. Hulle glo nie in die hoekoms van hul bestaan nie.” Sy het opgehou praat en haar laaste asem uitgeblaas.

Toe praat die derde kers met 'n sagte stem: Ek is LIEFDE. Ek kon nie die krag kry om aan te hou brand nie. Mense ignoreer my. Hulle vergeet selfs om hul naaste lief te hê. Ek het gehoop dat ek mense kan help om mekaar warmte te gee. Ek wou hulle laat voel dat daar altyd iemand is wat vir hulle lief is, al weet hulle dit nie. Sy het nie meer gewag nie en na buite gegaan.

Skielik het 'n kind gekom. Sy het die drie gedoofde kerse gesien. Sy kyk na die vrede waaruit die lig verdwyn het, na die vertroue wat die behoefte gevind het om sy vlam te blus en na die liefde wat steeds 'n oorblyfsel van warmte uitstraal. “Hoekom brand jy nie meer nie?” skree die kind onseker. Die drie kerse het vertel wat gebeur het. Die kind het bleek geword en begin huil.

Toe klink die stem van die vierde kers: 'Moenie bang wees nie, my kind. Solank ek brand, kan ons die ander kerse aansteek. Want Ek is die HOOP'.

Met blink oë het die kind die kers uit die hoop geneem en die ander kerse weer aangesteek. En die dogtertjie het die vlam van hoop gekoester. Laat ons ook HOOP, VERTROUE, VREDE en LIEFDE bewaar en koester. Dan groei die lig van Kersfees tot 'n groot lig.

Geseënde Kersfees, Sanja

Franco Stemmet: Siviele Ingenieurswese.

Inel Neethling: Early Childhood Development

Jana Sadie: OnderwysB ED intermediêre fase

Ewan Herbst: IMM in Stellenbosch, International Supply Chain, Procurement and Logistic Management

Matrieks 2024

Stephanie Burger: Sport Wetenskap in Stellenbosch

Abraham werk halfdag as plaasbestuurder in opleiding, terwyl hy ook in 2025 sy matriekjaar aanpak by UCT Online High School

van Deventer: B Com

Edrick van Zyl: Siviele Ingenieurswese

Ruan Marais: Biotegnologie – CPUT

Jesica Schoeman: Media studies by Eduvos

Amy Horn: Te Klerksdorp toerisme swot en terselfdertyd werk op 'n wildsplaas

Daniël Joubert: Landbou Ekonomie en risikobestuur op Potch

Liani Beetge: Neem eers ‘n gapingsjaar voor sy Onderwys gaan studeer

Rossouw Kriel: Plaaslik werk
Petri Fourie: B.SC AgricPlant & Soil science
Arno Wright: Radiografie
André

HUIS UITVLUCHT

Dís hoe ons rol!

NUUS VAN HUIS UITVLUCHT EN DIE DRAFSTAPKLUB

Inwoners vertel:

Die laaste drie maande van die jaar was regtig so besig, maar as inwoners is ons baie dankbaar. Die uitstappies en eetgoed is die lekkerste. Vis eet op Struisbaai kan nie beter nie.

Die senior week is altyd ‘n hoogtepunt van die jaar. Ons sien ook uit na Kersfees en al die feestelikhede Die Afsluitingsbraai aan die einde van die jaar is altyd baie lekker. Al was dit bietjie koud. geniet ons regtig die geselligheid.

Ons sien altyd uit na die Kerfeesetes by Huis Uitvlucht. Almal maak dit altyd vir ons so lekker en dit is altyd ‘n verrassing. Vir die mense wat deel is van die “Santa Shoebox”-projek sê ons dankie – julle laat ons so spesiaal voel.

Dit is baie lekker as die dorp se bejaardes ook by ons kom kuier. veral met senior week. Die Spring Roses kuier dan ook by ons, en dit is lekker.

Ons hou baie van die “Sing-along” by Huis Uitvlucht, veral as ons begin met Kersliedere. Om te sing is soos om ‘n boek te lees, jy droom so lekker saam. Dit is baie lekker om as dorpbewoner deel te wees van ander seniors en deel te bly van al ons vriende wat nou ook in Huis Uitvlucht woon.

Ons hou ook baie van die heerlike Saterdagoggend se verassingsbraai wat deur Robertson se Vryburgers vir ons aangebied is. Dit is ‘n heerlike kuieroggend met ’n skaaptjoppie en ‘n glasie wyn!

Dit was ons seniors!!

Ja, dit is voorwaar ‘n besige lentetyd wat inloop in die skielike warm weer en dan het ons sommer baie energie.

Die seniors het afgeskop met die senior week

Dinsdag

Maandag het ons afgeskop met ‘n baie oulike besoek van die John Moore Animal Welfare- organisasie van Robertson. Dr. Marianne v d Mescht het ons vertel van al die goeie werk wat hulle in die gemeenskap doen. Ons was baie opgewonde oor die honde wat saam kom kuier het. Die Dobermann Gibbs, ‘n opgeleide snuffelhond, het glad nie omgegee as ons aan hom vat en hom streel nie

het ons net pret gehad met die speel van senior speletjies. Die Spring Roses het kom kuier, en wat ‘n prettige oggend. Almal het hul staal gewys met hul kundigheid en daar was lekker vir mekaar gelag.

Woensdag

het ons kom aansit by ‘n tweevrou-vertoning deur Melanie en Thérène – “Ek lewe”. Deur pragtige komiese toneelspel en sang het hulle die mooiste boodskap oorgedra. Ons het weer besef al is jy oud is daar altyd ‘n doel om voor te leef en dat jou familie en vriende ‘n belangrike rol in jou lewe speel. Dat God saam met jou die pad stap en dat Liefde die lewe baie sinvol maak. Moet nooit ophou lewe nie! AVBOB het die dag geborg en Yolanda van die AVBOB-kantoor het vir ons meer kom vertel oor hul werk en die dienste wat hulle lewer.

Donderdag

besoek ons Thalia Gin-plaas. “Thalia beteken Grace”. Dit was so bietjie vroeg om te proe, toe ruik ons maar. Dit is fantasties om te dink in ons omgewing word daar jenewer van turksvye gemaak. Dit was regtig ‘n heerlike kuieroggend en Andries Burger het ons meer vertel van die jenewer en alles wat hulle op die plaas doen.

Vrydag

het ons oudergewoonte afgesluit met pannekoekbak, wat ‘n fondsinsameling vir die Drafstapklub is. Dankie aan al die vrywilligers wat altyd kom help. Hierdie jaar het ons so 700 pannekoeke gebak.

Die seniors sluit die jaar af met ‘n heerlike braai by Badensfontein-kampterrein. Ons hou ook ‘n Kersete vir die Drafstap en dan weer vroeg Desember is daar ‘n Kersete vir Huis Uitvlucht se inwoners.

Dan sommer om al die senior lus te maak vir kuier, begin ons Januarie 2025 met ‘n heerlike vrugtefees.

Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is. Ps 16:5, 11 Geseënde Kersfees vir julle almal. Van al ons bejaardes van Huis Uitvlucht en van die Drafstapklub.

Kom tot rus by God

- Deur Jean-Marié van der Walt

“Ons siel het rus nodig. Ons het innerlike rus nodig. Rus van beplan, dink, redeneer, bekommer en al die ander innerlike aktiwiteite. Ons het afsondering en stilte en ledigheid nodig, maar ons kry selde genoeg daarvan.” So lei Joyce Meyer se woorde uit haar Dagbeplanner van 2024 wat ek nou hier voor my oop maak om my dag se beplanning te begin.

Die jaar het tot ‘n einde gekom, nog ‘n jaar van ons lewe. As ons terugkykdan wonder ek wat ons elkeen sien en wat die jaar vir ons ingehou het. Dalk seer en hartseer, dalk geluk en voorspoed. Dalk kyk van ons terug na 2024 en sê, nooit weer soek ek die jaar oor nie, en ander weer wens 2024 kon net langer gewees het.

Soos ons aan die einde van die jaar kom, weet ek ook dat dit beslis nie vir almal ‘n rustige tyd is nie, vir party mense is dit nou juis die besigste tyd van die seisoen en jaar.

Wat ek wel weet, is dat ons almal ‘n moegheid hier aan die einde van die jaar in ons het, hoe jou jaar ook al verloop het. Jy is moeg, en ek praat nie net van fisiese moegheid nie. maar ook van emosionele en geestelike moegheid. Joyce Meyer se volgende woorde op die volgende bladsy van my Dagbeplanner het my getref en hiermee wil ek die jaar afsluit.

“Ontspan! Rus in God se teenwoordigheid en weier om langer onderdruk te leef en voortdurend te voel dat jy iets moet “doen” om vir God aanvaarbaar te wees.

Mag elke persoon hier aan die einde van die jaar tog net iewers ‘n tydjie afknyp om te ontspan en alles in God se bekwame hande oor te laat. Hy weet wat elkeen van ons se behoeftes is en ken ons deur en deur. Hy sal voorsien.

Vanaf Montagu NG Kerk se Gebedsbediening se kant wens ons almal ‘n geseënde ontspanne res van 2024 toe en vir diegene wat reis, wees veilig en kom veilig weer terug. Dan vir diegene wat hard aan die werk is, sterkte en hou die blink kant bo.

Bid asseblief soos u hart u lei in die Feesseisoenook vir ons gemeente en sy lidmate veral ook vir diegene op die Afkondigingsblad. Die Gebedsgroep nooi u ook uit om op verskeie maniere deel te kom word van ons span.

Ons Gebedsgroepie vergader elke Donderdag om 17:15 by Hofmeyrstraat 10, Montagu, en nooi u uit om saam te kom deel in ons gebedstyd. Vir meer inligting skakel of whatsapp my gerus by onderstaande nommer.

Gebedsversoeke en bydraes kan ook deur whatsapp na hierdie nommer gestuur word, maak asseblief net doodseker van u feite voor u enigiets stuur en hou dit asseblief kort.

Gebedsgroete

Jean-Marié van der Walt 072 243 1364

Terwyl ons die begin van 'n nuwe kalenderjaar verwag, is dit tipies vir baie van ons om terug te kyk en die jaar wat amper verby is, te beoordeel. Hoe was 2024 vir jou? Was dit 'n tyd van opwinding, sukses en prestasie; 'n moeilike jaar gevul met uitdagings en teëspoed, of 'n mengsel van beide?

Vir jare is dit my gewoonte om na te dink oor die jaar wat verby is, en let op die hoogte- en laagtepunte daarvan, die vreugdevolle oomblikke en die tye van hartseer of moedeloosheid. Ek vind dit 'n nuttige geleentheid om weer te glimlag oor gelukkige gebeurtenisse en prestasies; onthou en leer uit foute wat gemaak is; en 'n laaste afskeid neem van geleenthede wat verlore gegaan het. Selfs dié, in perspektief gestel, kan redes word om “altyd bly te wees”, soos 1 Tessalonisense 5:16 ons aanspoor om te doen.

Dit kan nuttig wees om terug te kyk na vorige dae, maar dit kan teenproduktief wees om te lank daaraan na t. Soos die apostel Paulus geskryf het, “…een ding doen ek: Ek vergeet wat agter is en streef na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te wen waarvoor God my hemelwaarts geroep het in Christus Jesus” (Filippense 1:13) -14). Paulus het nie geheueverlies gehad oor sy betreurenswaardige verlede nie, maar het vasgestel dat die beste manier om die Here te dien is om vorentoe te bly in beide verstand en sending.

Terwyl ons voorberei vir die nuwe jaar, óf met die hoop op 'n nuwe begin óf die voortsetting van dinge wat goed gegaan het, bied die Bybel wysheid oor hoe ons die beste kan voortgaan:

Beplan met afwagting, maar nie met bekommernis nie. In ons beplanning is ons soms bekommerd oor dinge soos: ‘Wat as dit gebeur?’ of, ‘Wat as dit nie gebeur nie?’ Sulke bekommernis kan lei tot wat sommige die “verlamming van analise” noem. Jesus Christus het Sy volgelinge gemaan om op God se voorsiening te vertrou eerder as om deur bekommernis verteer te word. “Daarom sê Ek vir julle, moenie julle kwel oor julle lewe, wat julle sal eet en drink nie; of oor jou liggaam, wat jy sal dra. Is die lewe nie belangriker as kos, en die liggaam belangriker as klere nie?... Wie van julle kan deur bekommernis 'n enkele uur by sy lewe voeg?” (Matteus 6:25-27).

God se wil bo myne

Jeremia 19:11

Beplan met die regte prioriteite. Die beplanningsproses behels dikwels om te bepaal wat die belangrikste is en dit na te streef, met alles anders in die regte perspektief. Aangesien ons God vertrou om te voorsien in alles wat ons nodig het – mense, hulpbronne, geleenthede – is dit belangrik om Hom voorop te stel in ons denke, en vertrou op Hom om ons stappe en besluitneming te lei. “Maar soek eers [God se] koninkryk en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal ook aan julle gegee word” (Matteus 6:33). “Laat alles wat jy doen aan die Here oor, en jou planne sal slaag” (Spreuke 16:3).

Beplan met die onverwagte in gedagte. Die probleem met beplanning is dat omstandighede nie altyd ooreenstem met wat ons beplan het nie. Deure van geleenthede klap toe; ander maak onverwags oop. Om op die Here se soewereine leiding te vertrou help om stres te verlig. “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie; Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie gelyk maak” (Spreuke 3:5-6).

Beplan met die raad van ander. Wanneer ons in 'n vakuum beplan en net op ons eie idees en insigte staatmaak, kan ons nie probleme sien met ons denke of potensiële uitdagings wat ons kan konfronteer nie. Betroubare adviseurs kan ons help om ons idees te verfyn, asook om ernstige oordeelsfoute te vermy. “Planne misluk weens ’n gebrek aan raad, maar met baie raadgewers slaag dit” (Spreuke 15:22).

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
BASUIN Dec 2024 by Thea Stopforth - Issuu