BASUIN Sept-Nov 2024

Page 1


BASUIN

AMPSDRAERS

LERAAR

Ds Wouter van Velden

LERAAR ONTVANGS

Ds Suzette Turner 081 270 9378 082 961 2004

1968wouter@gmail.com suzetteluwes@gmail.com

SKRIBA

Elsabé Wright

NG KERK MONTAGU

KOSTERS BANKBESONDERHEDE

Elizma Brand NG Kerk Montagu 023 614 1530

Jurie Swart ABSA Montagu skriba@ngkmontagu.org 071 388 7527

Rekening nr: 1050148161

Redaksioneel

Eendag loop ek op kampus by die Universiteit waar ek gewerk het. My hart voel so seer, daar is ‘n pyn in my bors. Dit voel of daar nie ‘n enkele persoon is op hierdie planeet wat my verstaan of vir my lief is nie. Ek wens ek kon fisies teen God se bors gaan lê dat Hy my net kan vashou.

Met my oë vol trane kyk ek af, te bang om oogkontak te maak met iemand. In daai oomblik loop ek verby ‘n gedroogde blaartjie in die perfekte vorm van ‘n hartjie. Ek steek vas en draai terug. Ek tel hom op en dink ‘Dankie Here. Maak nie saak hoe verlate of hartseer ek is nie, U is daar. Ű is lief vir my. Onvoorwaardelik.’

Dinge het gebeur. Mense het gekom en gegaan. Daar was al baie mense wat my in die steek gelaat het, maar een ding was nog altyd konstant, deur die eeue heen: God is lief vir jou. Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie. Hy sal sorg. Soos ALTYD.

Hierdie Basuin-uitgawe is laat omdat ek nie die woorde kon vind om hierdie gedeelte te skryf nie. Daar is altyd ‘n duidelike boodskap wat in my hart opkom, maar dié keer niks Ek het stil gaan staan en teruggekyk… na die voetspore. Hoe vêr ek en die Here al ‘n pad stap en hoe vêr Hy my al gedra het. Oral was my pad bestrooi met krummeltjies/saad en konstante tekens waar Hy vir my wys ‘Hineni, Hineni. Ek is hier my kind.” Dit gee my die krag om voort te beur. Mag God vir jou ook elke dag krummeltjies van sy liefde gooi en jou bemoedig. Liefde in Jesus, Thea

BELANGRIKE DATUMS

13 Sept Rietrivier Dankfees

14 Sept AHM & ESB Gholfdag ten bate van Huis Uitvlucht

20 Sept Skole sluit

23-27 Sept Jumpkamp

30 Sept – 4 Okt Senior Week

4-5 Okt Vroue Retreat 2024

Prof Elna Mouton

10 Okt Esterkommissie jaarbeplanning

11 Okt Pietersfontein Dankfees

16 Okt Preprimêr Afsluiting

17 Okt HSM Prysuitdeling

18 Okt HSM Matrieks laaste dag

19 Okt The Hills Challenge

26 Okt LS Koo Gholfdag

28 Okt Gr12 NSS Eksamen begin

4 Nov Drafstap afsluitfunksie

16 Nov Keisie Dankfees

23 Nov Esterbediening afsluiting

27 Nov Drafstapklub Kersete

30 Nov Montagu Cares Mark

BASUINREDAKSIE

LEDE: Thea Stopforth (Red), ds Wouter van Velden, ds Suzette Turner, Petro Jordaan, Ernie Oosthuizen, Lize Rossouw, Francois Tredoux, Jean-Marie van der Walt en Elsabé Wright.

Die artikels en inligting wat in Basuin gepubliseer word weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie of van alle gemeentelede nie. Die redaksie behou hom die reg voor om alle materiaal te verwerk of te verkort om met begrip gepubliseer te word. Ons verwelkom bydraes uit die gemeente en ontvang dit verkieslik per e-pos in MS Wordformaat. Handgeskrewe stukke is egter ook welkom en kan by die kerkkantoor ingehandig word. Sperdatum – 5 November 2024

Thea Stopforth Ernie Oosthuizen theastopforth@gmail.com ernieo@telkomsa.net

Gebedsbediening

Haal weer ‘n slag diep asem

Dis ‘n nuwe seisoen daar buite, soos ek deur die venster staar sien ek hoe die seisoen daar buite verander, die hele buitelewe maak plek vir rus. Die blare van die bome is goudbruin en val een vir een af van die bome, ja hulle verloor hulle somergroen mooi kleure en verruil dit vir die amper hartseer bruin kleure van die winter.

Die diere skarrel op die grond rond, hulle maak kos bymekaar vir die wintermaande. Dis altyd vir my so verbasend hoe hulle weet dat die seisoen besig is om te verander. Ek trek gou my truitjie aan en sit my stoel so bietjie nader aan waar die son inskyn in die kamer. Selfs my lyf begin al voel hoe die weer verander.

Die nagte raak langer en die dae korter. Dis asof die hele natuur dit uitskree, dis tyd om tot ruste te kom. Dis tyd om jou winterjassies aan te trek en snoesig in jou komberse weg te kruip. Om vroeg te gaan slaap en dalk jou nag bietjie langer te maak, om te rus, om weer jou batterye te herlaai vir die volgende seisoen.

Ek haal weer ‘n slag diep asem en voel die koue lug deur my keel trek. Ek dink in mens se geesteslewe gaan dit ook so, ons is so besig om te hardloop so besig om te jaag na wind. Eintlik moet ons net weer ‘n slag tot rus kom. Ons moet weer ‘n slag ons warm kombers gaan uithaal en om ons skouers gooi en voor Jesus se voete gaan rus vind, ja daar waar Hy met ons kan praat, ons kan vertroos en ons kan bemoedig.

Daar waar ons net onsself kan wees, net soos ons is. Ons kan ook ons tyd vat daar by Sy voete, ons kan weer ‘n slag diep asem haal en voel hoe die lug deur ons longe gaan. Ons kan weer hernu word, weer versterk word en dan met nuwe krag opstaan en weer die nuwe seisoen gaan aanpak.

God nooi ons om te vertoef by Sy voete. Sien jy kans om hierdie uitdaging te aanvaar? Bid asseblief soos u hart u lei, ook vir ons gemeente en sy lidmate, en veral vir die gene op die Afkondigingsblad. Die Gebedsgroep nooi u ook uit om deel te kom word van ons span op verskeie maniere. Ons Gebedsgroepie vergader elke Donderdag om 17:15 te Hofmeyrstraat 10, Montagu, en nooi u uit om saam te kom deel in ons gebedstyd. Vir meer inligting skakel of whatsapp my gerus by onderstaande nommer. Gebedsversoeke en bydraes kan ook deur whatsapp gestuur word na die nommer, maak asseblief net doodseker van u feite voor u enige iets stuur en hou dit asseblief kort.

Gebedsgroete

Jean-Marié van der Walt

072 243 1364

HERFS

Ek is so bly as die herfs aanbreek, dit is my gunsteling seisoen van die jaar. Seker omdat ek gebore is in die herfs. Herfs is ‘n tyd van veranderinge, van vernuwing en van rus. Dit is die tyd wanneer die blare verkleur in hierdie verrassende ontploffing van kleur. Die lug word koeler en dit voel asof die natuur self ‘n diep asemteug neem voordat die winter aanbreek.

Ons begin ook dink aan die snoesigheid van die winter en, ja, ons trek ook mos mooi aan met jasse en serpe. Heerlike aande om die vuur met sop en jou gesin. Dit is ook tyd vir legkaartbou en brei en hekel. Vir my begin die jaar in die lente, en in die herfs kom so bietjie tot stilstand na die opgewondenheid van die lente, die nuwe lewe wat ontstaan in die diereryk, die blomme wat begin pronk en almal wat ewe skielik nuwe lewensvreugde ervaar.

Na die lente kom die feesvieringseisoen. Ons is almal besig, die jaareinde kom nader en almal begin op ‘n drafstap hul lewens orden dit is asof almal jaag na afhandeling van dinge. Kinders se jaareind dinge met die skool, vakansies breek aan en almal wil gaan rus, maar rus jy werklik? Nuwe beplannings word gedoen vir ‘n nuwe jaar.

En dan haal ons diep asem en dit is herfs. Jesus het hierdie seisoen spesiaal vir ons geleen. Vir baie mense kan herfs ‘n tyd van weemoed wees. Die dae word korter en die nagte langer, en dit voel soms asof die wêreld om ons in ‘n rusperiode verval. Maar ons moenie bang wees vir hierdie tyd nie. Herfs is nie net ‘n tyd van afsterwe nie, dit is ‘n tyd van lewe en groei net soos die bome wat hul blare verloor, is dit ʼn tyd vir ons om los te laat van dinge wat ons nie meer dien nie.

Dit is ‘n kans vir ons om te vernuwe en te herlaai, om onsself te herdefinieer en te hervind net soos die natuur sy skoonheid verander en aanpas, so kan ons ook onsself transformeer en groei. Sien die herfs eerder as ‘n geleentheid om te rus en te herstel, om te groei en te bloei. Laat die skoonheid van die veranderende seisoen jou inspireer en jou aanmoedig om jou eie veranderinge te omhels.

Herfs herinner ons daaraan dat veranderinge ‘n natuurlike deel van die lewe is. Dit is ‘n herinnering dat daar altyd ‘n nuwe begin is na elke einde. Soos blare wat val en die aarde voed vir die lente, so kan ons ook onsself voed met nuwe idees, nuwe drome en nuwe hoop vir die toekoms.

Herfs is die seisoen met ‘n begin van oneindige genade en liefde van God. Herfs vra dat ons bymekaar moet stil staan, ons hopies herinneringe bymekaar sal hark vir later se onthou wanneer die ander seisoene aanbreek. Mag die herfs jou vrede en vernuwing bring. Mag jy die skoonheid van die krag van hierdie tyd omarm en jouself toelaat om te groei en te floreer.

Pray more and worry less.

Nagedink oor herfs

Met die publikasie van hierdie Basuin, is herfs al amper vergete en lê die koue herinnering van die winter nog vlak in ons geheue. Die kom en gaan van die seisoene is ‘n reëlmaat, ‘n reëlmaat wat sekuriteit skep. Tog skep die reëlmaat nie net sekuriteit nie, dit gee ook hoop – hierdie is nie al werklikheid nie, daar kom weer ‘n nuwe seisoen…

Dit is waar van die natuur EN dit is waar van ons lewens. Soms is dit somer, soms beleef ek winter, soms is daar nuwe lewe wat uitkom in die lente en soms verkleur ‘n paar van my blare en verloor ek hulle selfs.

Vandag dink ek na oor herfs. Herfstyd is die tyd wat jou dag begin korter word van besig wees en uitbundig baie dinge doen. In herfstyd ontstaan die behoefte om op die stoep te sit en die effense rustigheid na ‘n vol, warm dag te geniet. Soms word die kaggel al aangesteek - net omdat dit lekker is. Dit raak koeler en daarom begin ons stadig maar seker nader aan mekaar sit, begin ons ons toegooi onder komberse om ‘n bietjie te broei en die snoesigheid te geniet wat die geborgenheid bring. Ja, ‘n mens begin meer na binne leef – iets wat nodig is na die uitbundige somer waar daar skaars tyd was om rustig te sit.

Die bogenoemde paragraaf laat my net besef hoe nodig herfstyd in my geloofslewe is. Na ‘n besige somer, kan ek dit bloot bietjie geniet waar ek in my geloofslewe is. Waar ek op die stoep sit, kry ek kans om te dink oor God en my geloof. My besig wees – dalk selfs met kerk-dinge, gemeente-aktiwiteite, kursusse – het veroosaak dat ek nie my geloof oordink en deurdink nie. Herfstyd in my geloof is waar ek so ‘n bietjie nader aan God kan sit om sy teenwoordigheid beter te ervaar, sy stem beter te hoor en om ‘n bietjie te dink oor die somer wat verby is.

Herfstyd in my geloof is die tyd waar sommige blare begin verkleur. Soms is ek bly oor iets wat afsterf in my lewe en soms is ek ontsteld dat ek toegelaat het dat iets doodgaan in my lewe. Maar – so berei herfstyd my ook voor vir ‘n tyd van rus in my geloof. ‘n Tyd wat dalk baie uitdagend kan wees omdat dit baie koud is en ek seergemaak gaan word deur die ryp. Of ‘n tyd van rus waar daar genoeg koue eenhede in my lewe is dat God met my kan besig wees en my kan voorberei vir die lente wat weer gaan kom.

Hierdie verandering van seisoen in my geloofslewe is soms ‘n natuurlik proses. Ander kere is dit nodig om herfs te skep in my geloofslewe, want ek kan nie net in die somer vassteek en net aangaan, en gee en leef en beplan nie.

Ek weet en beleef dat dit met my goed gaan as ek elke dag ‘n stukkie herfs in my geloofslewe kan hê. Hierdie stukkie herfs vind ek in die gewoonte om stiltetyd te hou. Tot rus te kom iewers in my dag en so bietjie nader aan God te skuif, die hitte van genade te geniet wat God se kaggel bied. Hierdie gewoonte van herfstyd in my dag, help my om as gelowige elke dag te leef en om ingestel te wees om God se stem te hoor in my lewe.

God gebruik my herfstyd om dinge in my lewe wat nie goed is nie, te laat afsterf. Ek raak bewus van sonde in my lewe, van gewoontes wat ek het wat dalk juis my verhouding met God bedreig (bv om te besig te wees). Dan val die blare grond toe en kan ek my weer gereed maak vir nuwe groei wat God gaan bewerk as die lente weer kom.

Herfs – voorwaar ‘n broodnodige tyd in enige christen se lewe.

Jesus beweeg

Die afgelope tyd is ek uiters bewus daarvan dat Jesus oppad is. Oppad om Sy kinders te kom haal. Oral waar ek gaan, kyk en lees word hierdie boodskap bevestig: “Nou moet julle julle sondes laat staan. Kom terug na God toe.” Handelinge 2:19 DB

Selfs een Sondag tydens ‘n belydenisklas-ontmoeting het ek die les vir die dag voorberei, maar toe klastyd aanbreek voel ek gelei deur die Gees om vir die jongmense te vra: Is jou saak reg? As Jesus vandag moet kom, gaan Hy jou ontmoet? Ek is oortuig dat dit nie net ‘n dringendheid is wat ék beleef nie, maar dat ander gelowiges dit ook aanvoel. Lukas 10 herinner ons dat die arbeiders min is, en die oes groot. Wat maak ons hiermee?

Ek kyk in hiérdie tye na geloofsreuse in my lewe. Mense wat ‘bold’ hulle geloof leef en praat. Is dit nie ons almal se roeping nie? Is ons, as Jesus se kerk, nie ook veronderstel om standpunt in te neem en ‘bold’ te wees oor dit waarin ons glo nie? Wat ek wel weet is dat jy gaan uitstaan en heel waarskynlik ‘n paar vriende verloor wanneer jy werklik kies om vir Jesus te volg. Maar, God se Woord berei ons daarop óók voor. Ek wil glo dat ek nog altyd ‘n lewe naby aan God leef, so waarom nou hierdie skielike aanwakkering en dringendheid? Seker omdat ék ook nou ‘n ouer is. ‘n Ouer wat so graag ons babadogtertjie wil grootmaak met die hoop dat sy eendag sal kies om vir Jesus te volg.

My gebed is dat ons radikale volgelinge van Jesus Christus sal wees. Nie net-net nie. Heeltemal. Met oorgawe. Mag ons nie skaam wees om ‘n heilige lewe te lei en te wonder wat sal ons naaste van ons dink nie. Ons is juis hier om die koninkryk na hulle toe te bring.

Jesus beweeg!

DVB werkgroep kan met groot dankbaarheid die volgende deurgee:

• Pinksterinsameling met blikkies was baie geseënd en ‘n groot sukses.

• Ons werkgroep het ‘n vergadering gehad met Helpende Hande. Hulle beoog om in die toekoms ‘n tak op Montagu te stig. Hulle fokus is om die “vergete“ deel van die gemeenskap te ondersteun. Hulle siening is dat die owerhede omsien na die heel behoeftiges.

• Ons ondersteun nog steeds lidmate met etes van Huis Uitvlucht. Daar sal gekyk word hoe om die onkoste in toom te hou.

• 14-16 persone kry maandeliks ‘n koopbewys ten einde hulle te help om deur te kom. Alle gevalle word jaarliks hersien om seker te maak die hulp val op die regte plek.

By elke vergadering word verslag gedoen oor wie gehelp word.

7 Maart 2024

Beste Marita en NGK Montagu

Hiermee spreek ons, ons opregte dank en waardering uit vir Huis B se groot bederf uitstappie. Al u liefde en omgee gaan beslis nie ongesiens verby nie en word opreg waardeer. Woorde kan nie ons dankbaarheid genoeg beskryf nie.

Dankie dat u ‘n verskil maak in die lewe van ons kinders. Dit beteken vir ons kinders geweldig baie om te weet dat daar mense is wat omgee vir hulle en aan hulle dink.

Vriendelike Kinderhuis-groete

Administratiewe Beampte: Bemarking

Herberg Kinderhuis

Tel +27 (0)23 626 3140

E-pos bemarking@herberg.co.za www.herberg.co.za

KAN ÉK OOK HELP?

HUIS B BENODIG DONASIES:

“Ons is 15 seuns in HuisB. Ons is baie gelukkig hier saam met ons huis-ma, Tannie Jenny. Ons ouderdomme wissel van 7 tot 11 jaar. Ons wil graag baie dankie sê vir al die lekker eetgoed, Milo en warm sjokolade wat tannie Marietha gebring het vanaf die Montagu mense. Dit was so lekker! Wil die tannie nie nou al vir ons elkeen ‘n trui begin brei vir volgende winter nie? Groot asseblief! Ons wil ook assblief vra of dit moontlik is om vir ons sokkies en onderbroekies in die hande te kry – dit is nogal min. Dit sal gaaf wees indien jul daarmee kan help. Ons is baie verleë maar hier is so baie kinders in die Tehuis wat versorg moet word dat ons soms maar moet vra vir hulp. Dankie Montagu NG Kerk dat julle ons altyd help!”

Jy is welkom om ‘n pakkie by Tannie Marietha McAlpine af te gee by Ronel Neethling Interiors, Lang straat 45, Montagu

KLIK HIER OM TE LUISTER NA MINETTE SE GETUIENIS VAN HAAR ERVARING TYDENS HAAR VORMINGSJARE BY DIE HERBERG KINDERHUIS

Kom na My toe!

25Toe het Jesus hierdie gebed gebid: “Vader, Here van die hemel en die aarde, Ek sê vir U dankie dat U die insig in hierdie dinge van die slimmes en intelligentes weerhou het en dit oopgemaak het vir hulle wat soos kinders geword het.

26Ja, Vader, want U verkies hierdie manier van doen!

27”My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader. En niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun die Vader wil bekendmaak.

28:Kom na My toe, jull almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle verkwik.

29Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.

30Want my juk sal sag op julle skouers rus en my las is lig om te dra.

‘N WONDERWERK

- Deur Annamie Thompson

Soos alle goeie stories begin… Eendag lank lank gelede…. In my geval 8 Desember 2023, na 22:00 was ek rustig soos ‘n 1000 keer tevore oppad huis toe uit Somerset-Wes na ‘n kuier by my suster. Ek het nooit daardie aand die huis gehaal. Ek onthou ek het die volgende dag wakker geword en het vasgedruk gevoel, toe ek my suster Liezl se stem hoor: “word rustig, jy is veilig, jy is in die hospitaal, jy was in ‘n ongeluk”.

Wow, en so begin my nuwe normaal. Twee operasies om my ingewande te herstel en nóg twee vir my gebreetde been, asook ‘n verdere operasie in Mei. Almal het bly sê hoe groot wonderwerk dit was dat ek die ongeluk oorleef het. Ek dink dit het eers werklik by my ook ingesink toe die dokter bewoë by my kom sit en vertel wat hy als moes doen om my te red, die pad wat vir my voorlê, en dat my oorlewing vir selfs hóm ‘n absolute wonderwerk was.

Ek het my oë toegemaak, stil geword en die Here gedank dat Hy my beskerm het, en dat ek weet ek is in Sy hande. Ek het besef dat die Here se wil sal geskied en dat ek nie nodig het om bang te wees nie, want ek is veilig by Hom en Hy sal na my omsien.

Ek het vyf weke in Christiaan Barnard Memorial Netcare Hospitaal se ICU deurgebring en ‘n verdere week in die saal. Ek is daarna geskuif na Intercare by Tygervallei vir ‘n verdere twee en ‘n half weke, waarna ek op 7 Februarie 2024 ontslaan was en verder by my suster Liezl-hulle aangesterk het vir maande. Ek het onlangs eers vir ‘n paar dae op ‘n slag begin terugkeer na my huis.

Ek het soveel om voor dankbaar te wees, dinge kon so maklik anders wees. Ek hoor soms mense praat van die ongeluk, waarvan ek geen geheue het tot vandag toe. Selfs al kyk ek na die foto’s van die ongeluktoneel. Ek is per helikopter na die hospitaal geneem (my eerste helikoptervlug en ek kan dit nie eens onthou nie). Ek is ook dankbaar dat die polisie ook vinnig kon bepaal dat ek onskuldig was, so ook die jong man wat ek kop aan kop getref het, wat met sy lewe daardie aand geboet het. My hart gaan uit na sy familie. As ek moet dink wat die ongeluk aan my ma, susters en res van my familie gedoen het, kan ek my nie indink waardeur syne moes gaan nie. Dit is soos Liezl vir my vele kere gesê het “jou strepie was nog nie getrek, die Here het ‘n plan met jou”.

Almal het altyd vir my gesê hoe positief ek is deur alles. Ek leef nie in die verlede. Wat gebeur het, het gebeur. Ek kan niks daaraan verander. Ek kan slegs ‘n verskil maak aan die toekoms, so dis waar ek leef. Ek dink my ingesteldheid en geloof het my deur diep tye gedra. Ja, ek het soms moedeloos geraak, maar dan het jy jou familie wat jou optel en aanmoedig. Ek is ontsettend dankbaar vir wat Liezl en Charl vir my gedoen het en hoe hulle my bygestaan het. Gedurende my tyd by die hospitaal het Liezl meestal twee keer per dag kom besoek, waarna ek by hulle aangesterk het. My ma was soos ‘n skaduwee by my. My susters Nadia, haar man en Bea-Matthy, en dan praat ek nie eens van my vriende, kollegas en Montagu mense, wat by my gestaan het en absoluut deurgedra het. Almal se ondersteuning was oorweldigend.

Ek is tans nog nie terug werk toe nie. Ek kry nog fisio en behandeling vir my bene. Linker wat gebreuk was en regter een wat senuweeskade opgedoen het. My opregte dank gaan uit na Dr Hannington, Dr Mortilal, Dr Loots, Anneke Fourie, Dr Hugo, Dr van Rensburg, Lauren van der Walt, en personeel van die hospitaal en Intercare dat die Here hul hande kon gebruik om my weer heel te maak. Dit is waarlik ‘n wonderwerk dat ek die ongeluk oorleef het!

HET JY

geweet?

- Deur Dr Sebastiaan Pretorius

Montagu vier vanjaar die 125ste bestaansjaar van ons huidige kerkorrel!

Alles het begin in 1897. Volgens die notule van die kerkraadsvergadering op 19 April 1897 is daar besluit om ‘n nuwe orrel vir die gemeente aan te skaf. ‘n Kommissie is bymekaargeroep vir die doel. Die kommisie het bestaan uit die destydse leraar, Ds. J Truter, JG Euvrard, PJ Joubert, G van den Heever en DS du Toit.

In 1898 is die binnekant van die kerkgebou vernuwe. Die banke is vervang, ‘n tribune, in plaas van die preekstoel, ‘n nuwe plafon en ‘n nuwe orrel was deel van die taak. Die inwydingsplegtigheid van die nuwe orrel was beplan om plaas te vind op 28 Januarie 1899, maar is weens omstandighede uitgestel na 19 April 1899.

Die eerste orrel in NG Kerk Montagu is geskenk deur Jacob Rossouw van die Koo. Die orrel is in 1899 vir £10 verkoop aan die Sendingkerk, waar dit tot vandag toe nog gesien kan word waar dit langs die kansel staan. Hierdie was ‘n trappyporrel wat staat gemaak het op die lug wat die orrelis met sy voete in die orrel se long gelewer het deur die lugpedale te trap.

Die nuwe orrel in die kerk is 50 jaar lank gebruik voor dit in die veertigerjare herbou is deur dieselfde firma wat die orrel eers gebou en geïnstalleer het en is ingewy op 9 en 10 Oktober 1948. Die orrel se pype en speeltafel het reg agter die preekstoel gestaan.

In 1965 is daar besluit om die konsistorie te vergroot en ‘n moederskamer in te ruim. Die argitek, wat aangestel is om die taak aan te pak, het in 1966 voorgestel dat die preekstoel 1 meter teruggeskuif word tot teen die orrelpype en dat die orrel se speeltafel verskuif word na die toringgallery. Sodoende speel die orrel steeds in die naaf van die kerk. Die orrel is deur ‘n firma in Kaapstad, Cooper Gill and Tomkins, verskuifdieselfde firma wat oorspronklik die orrel geïnstalleer het. Tydens die vergroting van die konsistorie is daar ook nuwe tapyte neergelê en die kerk is herbedraad. Die koste van die projek het destyds R18 404 gekos - die grootste bedrag wat tot in daardie stadium in een jaar aan die kerkgebou bestee is.

Die orrel in NG Kerk Montagu is ‘n eenheidsorrel, gebou in ‘n romantiese styl, en werk met ‘n elektropneumatiese meganisme wat die pype laat spreek. Die kompressor, wat die pype van lug voorsien, is onder die grond in die konsistorie.

Daar is ‘n volledige pedaalwerk en twee manuale, ‘n groot- en ‘n borswerk. Die pedaalwerk het 4 registers met ‘n koppelaar na die groot- en die borswerk. Die borswerk het 9 registers met ‘n koppelaar na die 16’ en 4’ van die borswerk. Die grootwerk het 8 registers met koppelaars na die groot 16’ en 4’. Daar is ook koppelaars na die borswerk 16’ en 4’. Die borswerk kan ook koppel na die grootwerk. Die registers bestaan hoofsaaklik uit prestante, fluite en rietfluit families. Die borswerk is agter binne-in die orrelkas geleë. Daar is ook ‘n tremelo.

Die laaste groot diens en herstel van die orrel was in 2016. Die kwotasee was R59 750.00 en is weereens deur Cooper, Gill & Tomkins (Mnr Charles Hart) behartig. Die pype is uitgehaal en skoongemaak en die leer van die windlaaie is ondermeer vervang. Ons stem die orrel 4 maal ‘n jaar, elke keer met die seisoensverandering aangesien die pype uitsit en inkrimp met die verandering van temperatuur. Ons beplan om op 6 Oktober 2024 ‘n verjaardagkonsert vir hierdie orrel, wat die afgelope 125 jaar die gemeente in musiek begelei en dien, te hou. ‘n Orrelkonsert word gehou met die befaamde orrelis, Prof. Mario Nell, voorsitter van die musiekdepartement by die Konservatorium van Stellenbosch Universiteit. Prof Mario sal ook ons Erediens die oggend begelei. Kom deel in die feesviering!

Ek sit nou hier en tweevingertik terwyl die wonderlikste musiek oor my rekenaar my oorspoel en elke instument sy deel bydra om die wonderlikste klanke saam by die stemme te voeg. Soms luister ek net, soms bederf ek dit so bietjie deur saam te neurie of saam te fluit.

Maar so ‘n salige rustigheid omgord my en verdryf alle kommer, vrese en ander ontsteltenisse uit my brein, liggaam en siel. My bewondering styg elke slag hoër soos ek luister na al die meesterstukke wat deur gewone mense soos ek geskep is. Talentvolle mense wat saam as ‘n orkes saamwerk om luisterraars te betower en te bekoor met hul strelende klanke van stem en instrument. Terwyl die klanke jou bevry, kan jy droom, kan jy wens, kan jy jouself verplaas tot die verste planeet of ster. Stemme en beelde van die verlede kom koester jou met hul liefdevolle teenwoordigheid.

Die Hemel gaan eendag net een onafgebroke simfonie van lofliedere wees tot Onse Vader God, ‘n wonderlike voorreg om na uit te sien.

Dankie, Dankie Here ... vir musiek!

Onthou jy nog

- Deur Kotie Kriel

Sondae, as ons kerk toe gegaan het, het ons vroeg begin, want die dorp was “ver”. Ma en Pa het stofjasse aangetrek, want die ou motors was nie juis stofdig nie. Die regte kerkklere het hulle dan by ons tuiskamer in Piet Retiefstraat 23 aangetrek. Dit is na kerk weer uitgetrek en opgehang. Ek onthou my eerste kerkklere was ‘n wit hempie en donkerblou kortbroekie met wit knopies en swart skoene met lang sokkies.

Die mans het toe nog meestal donker pakke met onderbaadjies gedra en die vroue was “gehoed”. Dit was soms moeilik om die dominee te sien as daar ‘n tannie met ‘n GROOT hoed voor ons gesit het. Ek het dan maar moeilik gekry, want ek kon nie stilsit nie, en het ‘n paar keer pak gekry daaroor.

Die kerkraad, almal mans, het swart manelpakke, wit hemde en wit dasse gedra. Ek weet net ‘n mens het somermaande so warm gekry dat jy nie op die preek kon konsentreer nie.

Daar was ook sekere banke met naamplaatjies op. Ek dink daar is betaal vir die voorreg om jou eie sitplekkie te hê. Ek weet nie wanneer díe gebruik gestaak is nie.

Voor elke nagmaal is daar die Saterdagaand ‘n voorbereidingsdiens gehou. Sondae, met nagmaal, moes daar dikwels ekstra stoele ingedra word, en dit sonder dat die kinders teenwoordig was. Ons kinders het ‘n ‘kleinkerk’ in die saal gehad. Dis so gereël dat die persoon wat die diens vir die kinders gehou het, betyds klaar kon wees om vir die nagmaalbediening in die kerk te wees.

Daar word vertel dat ou Ds. Van Huyssteen dikwels die mense van agter geroep het om die “Brak Kol” (die voorste banke wat gewoonlik leeg staan) voor die preekstoel te kom volmaak.

Ons familie het ‘n baie lang verhouding met Montagu Kerk – van Oupa Grootjie se tyd af. Ek is, soos my pa en grootouers, in die kerk gedoop, aangeneem en getroud. Voorouers is ook uit die kerk ter ruste gelê.

My bede is dat ons kerk nog in die toekoms sy roeping sal bly vervul ten spyte van kritiek en duister voorspellings. Ek is baie optimisties dat daar ‘n toekoms vir ons wink met die mooi vernuwings en vars briesies wat deur die gemeente waai.

Wenk van die maand

- deur Ernie Oosthuisen

Basuin het gaan loer na die munisipale koopkragtariewe wat tans geld.

Mens moet nogal kophou om binne die huidige tarief/blokstelsel die beste opsies uit te oefen ten einde beste waarde vir jou geld te kry.

1. Deernissubsidie-inwoners

Probeer om in een maand nie meer as R730 se koopkrag in totaal te koop nie. As dit ‘n probleem is, koop ‘n paar bewyse van R50 ten einde deur te kom tot die einde van die betrokke maand. Die maand daarna begin jy weer van voor af.

2. Gewone koopkrag verbruikers

In een betrokke maand, probeer om minder as R870 se krag in totaal aan te koop. Selfde beginsel geld, koop ‘n paar bewyse van R50 om deur te kom tot die einde van die maand.

3. Neem kennis:

Sodra jy meer as 350 eenhede verbruik, gaan die prys met 41% op! In effek beteken dit jy kry soveel minder eenhede vir jou geld.

“STERKTE MET PLANNE MAAK OM MINDER KRAG TE GEBRUIK” - Ernie

Vanuit die Kerkraad

Dagbestuur: ERF 1: Skrywe is aan die Munisipale Bestuurder gerig rakende die deposito wat verbeur verklaar is tydens die Raadsvergadering in Mei.

Ringsitting: Vind plaas 8 September te McGreggor. J Swanepoel, D van Deventer sal as Primarius saam met die leraars Montagu gaan verteenwoordig.

Ringsvisitasie: Ds. J Dorfling, konsulent van die gemeente, het die leraars, kantoorpersoneel en dagbestuur van die kerkraad besoek.

Finansies: Tydens die kerkraadsvergadering van 29 Julie het Barnard Ouditeure die oudit bespreek van boekjaar 23/24. Die finansiële state is by die kantoor beskikbaar. Daar was ‘n versoek aan die kerkraad gerig oor die klank in die kerk wat nie op standaard is nie. Die Kerkraad keur die vervanging van die luidsprekers goed.

Diensverhouding: Daar is ‘n aanstelling gemaak in die pos as ontvangs/admin in die kerkkantoor. Diensverhoudingkommissie bedank die personeel vir die bak van die wildpasteie. Daar is groot waardering vir die fondsinsameling.

Jeug: Daar word steeds elke Vrydagaand Milkshake klub en Koffiekroeg geleenthede gehou vir die skoolgaande jeug. Die kampstoel kerk het nie belangstelling daarom moes die projek eers gestaak word. Indien daar steeds by jong werkendes belangstelling is vir so bymekaarkom is jul welkom om ds. Suzette te kontak.

Diens van Barmhartigheid/Getuienis: Ons is dankbaar vir die sendelinge wat die gemeente besoek het en meer vertel waarmee hul besig is. Geopende Deure het ook die gemeente besoek op 18 Augustus wat ook baie harte aangeraak het.

Plaaswerkersfunksies: Groot waardering aan die kommissie met die funksie wat gehou is vir die plaaswerkers, groot waardering vanaf die plaaswerkers, beide vroue en manne. Ons kon saam met Lyntjie Jaars 140 vroue en 150 manne bedien.

Vermeulenhuis: Saam met verskeie partye in die gemeenskap wat onderneem het vir die herstel van die Vermeulenhuis in Joubertstraat het die NG Kerk as basis gedien en die koördinering van fondse van die projek hanteer.

Eiendom: Ons is dankbaar vir lidmate wat tans help om die kerk se eiendom te beskerm en wat steeds besig is met die beplanning vir projekte wat aandag benodig.

As voorsitter ‘n groot dank aan elkeen wat betrokke is by projekte van die gemeente. Saam bou ons en versorg ons deur liefde aan God se gemeente op Montagu.

Groete in Christus.

Ons Fondse – die arm van die gemeente

Die gemeente se fondse word deur die fondsekommissie saam met die skriba bestuur en daar word gereeld aan die kerkraad verslag gedoen oor die stand van die finansies van die gemeente. Dit staan enige lidmaat vry om by die kommissie in te skakel en sy/haar kundigheid so tot beskikking van die gemeente en die uitbreiding van die Koninkryk te stel. Lidmate is meer as welkom.

Die fondsekommissie is steeds dankbaar vir elke kollekte, dankoffer en bydrae wat elke maand inbetaal word. Hiermee kan die werk van die Here vol spoed voortgaan. Die gemeente se posisie ten opsigte van finansies is gesond.

Daar word gekyk na die kostes rondom fondsinsameling. Bv: ons produk wat ons lewer is baie goed maar ons is te goedkoop. Ons pryse het nie tred gehou met stygende kostes van bestanddele, kragverbruik en aanbieding nie. Stygende koste plaas druk op die gemeente se kontantvloei. Dit is belangrik dat ons as lidmate deurgaans geleenthede, inisiatiewe en projekte aktief ondersteun. Ons sal in Oktober volledig verslag doen oor die halfjaar-syfers.

INKOMSTE

UITGAWES

Plaaswerkervroue en manne van Hoop

Ons droom elke jaar tydens begrotings vergadering oor hierdie funksie. Elkeen op die komitee voel al dit is ‘n funksie wat ‘n “moet’ wees as ‘n projek.

Dinsdagaand van die eerste week in Junie so tussen die reën en koue het Lyntjie Jaars gearriveer op Montagu. Die doel was om net ons vroue wat wind en weer soms moet trotseer te bemoedig met die fokus op hoop, liefde, genesing, en om vrou te wees waar en/of wat jy ook al doen. Lyntjie het ook 80 van Cape Dry se werkers toegespreek.

Omtrent 150 vroue het die geleentheid bygewoon en elkeen het ‘n geskenksak gekry wat bestaan het uit geskenkies wat die lidmate voor die funksie gebring het. Wees verseker elkeen het groot waardering daarvoor gehad.

Lyntjie Jaars het elkeen op die punt van hul stoele gehad en die saal het gedreun soos hul skaterlag vir haar mooi unieke manier van praat en dan sommer weer soveel ligter gevoel na die bemoediging. Sy het deur haar bemoediging by elkeen tuisgebring wat God se doel in jou lewe is. Daar is gesing, gelag, gedans en gelukkige trekkings gehou.

Die manne het dieselfde beleef, hul is bederf met ‘n pet met ‘n unieke simbool om so God se liefde te versprei en mekaar te bemoedig deur wat hul doen en daar te wees as pa vir hul kinders. Elkeen is uniek voor God en kan met trots as God se kinders leef. Ons het soveel mooi dankies na die funksie gekry en

moedig die plaasboere aan om hul werkers na hierdie uitreik te bring. Dankie aan elke boer wat moeite gemaak het om bakkies en lorries te stuur met hul mense.

Wildsvleis projek 2024

Vir die afgelope paar jaar is dit dieselfde storie – in die herfs begin die bedel vir wildsvleis vir die pasteibakfondsinsameling van die Gemeente.

Nou was dit sulke tyd – jagtyd is hier en daar was lekker vleis en mooi vleis wat bewerk moet word.

Om vir die pot te jag, is een van die min oerrituele wat steeds bestaan. Baie mense is skrikkerig om wildsvleis gaar te maak, want daar is ‘n wanopvatting dat wildsvleis ‘n wilde smaak het en droog en taai is. Dit is allermins waar. Die gesondheidsvoordele daarvan legio. Baie koskenners sal vra vir goeie vleis, dis nou bokke wat nie rondgegjaag of gekwes is nie – hulle is gewoonlik taai en het ‘n wilde smaak. My pa het my geleer ‘n bok se keel moet dadelik afgesny word nadat dit geskiet is en moet dan goed uitbloei. Maar vir pasteibak vir die kerk is enige vleis altyd ‘n wenner, ons toor dit lekker.

Nou kan ek getuig van mooi vleis wat met soveel liefde geskenk is. Hierdie pasteiprojek was weereens ‘n suksesverhaal. Dankie aan Lisma en Jurie wat gereeld gehelp het om die vleis af te kook, bene is mooi uitgehaal (soms nog ‘n stukkie lood of twee gekry) en dan noukeurig opgesny. Patricia Blacklaw het gehelp met die deegmaak en soms vroeg saam kom bak. Tannie Dorris en tannie Marie was gereeld op hul pos met die fynsny van die gekookte vleis.

Baie duisend dankies aan elke jagter, sonder jul hulp en bydraes sal hierdie nie ‘n suksesverhaal wees nie. Ons inkomste tot Julie was R57 243.72 en uitgawes R3 032.23

Alle eer aan ons groot verlosser!

HUIS UITVLUCHT

Dís hoe ons rol!

NUUS VAN DIE DRAFSTAPKLUB

Ons kuier te lekker – Guanogrotte, Struisbaai, die Vriendelike Eiland Bali, Japan en Birds’ Paradise in Robertson waar ons die oulikste nagapies en die Amasone-voëls met die pragtigste kleure gesien het. In Swellendam het ds. Gouws talle interessante stories oor die geskiedenis van die Moederkerk daar vertel en die pottebakker by die Bukkenburg-ateljee het ’n demonstrasie op die pottebakkerswiel gegee.

Interessante praatjies het gegaan oor Jy en Herfs (Marlene de Vries); Hospice se werk waarvan Priscilla Brown ons kom vertel het; Rolene Ellis wat gepraat het oor haar lewensreis en die boeke wat sy gepubliseer het; die ACVV se maatskaplike werker, Jean-Marie het oor hulle werk kom vertel; en Magrietha de Klerk het haar leerwerk gewys.

Daar is weer met speletjies teen spanne van ander senior klubs begin. Kom doen gerus mee, dit is groot pret. Skakel Marlene by Huis Uitvlucht vir oefendatums.

HAAI, OE, BLOMMIE!

Die groot item op ons program WAS die blommetoer van 19 tot 23 Augustus na die Weskus. Ons het tuis gegaan by Willemsrivier Trekpad gasteplaas naby Nieuwoudtville. Dit is ’n goeie blommejaar en werklik ‘n belewenis!

Op Maandag 19 Augustus 2024 vertrek 20 baie opgewonde dames en mans na Namakwaland om blomme te gaan kyk. Verseker gaan ons dit geniet lekker kuier, eet en o ja, blomme kyk!

Ons eerste stop is by Die Tol Restaurant en Carmien Tee op die berg op pad net voor jy Citrusdal kry. Daar is regtig niks beter as ‘n heerlike koppie koffie, bene rek en lekker ontbyt.

By Clanwilliam besluit ons om die Botterkloof en Biedouw roete te volg na Nieuwoudtville dit was ‘n lang kronkel grondpad, maar opwindend en ons het begin om blomme te sien. Dit is regtig aanskoulik om die uitgestrekte land te sien wat oortrek is met die mooi van blomme. Kleure van oranje, geel, pienk en wit en as jy stop en nader kyk sien jy die ongelooflikste perfekte blomme.

Laat aangekom op Willemsrevier gasteplaas te Nieuwoudtville . Ons bly op hierdie wonderlike plaas net so 4 km buit die dorp. Die plaas het baie ryk geskiedenis en het die wonderlikste huisies waarin ons gebly het, dit voel of jy terug gaan in tyd, want die huisies was voorheen iemand in die vere geskiedenis se woonhuis, winkel, skool, of dalk ‘n stoor.

Ons gasheer het ons een aand trakteer met die wonderlikste geskiedenis van Willemsrivier. Die Kotze’s is al die 7 de generasie mense wat daar boer. Willemsrivier was oorspronklik ‘n dorpie en toe Nieuwoudtville ontstaan het die Kotze’s dit gekoop en het die dorp ‘n plaas gemaak. Die plaas is natuurlike baie ryk aan die mooiste blomme, ons het die skaars aandblomme daar gesien. Die plaas het ook sy eie museum en ‘n ou trekker versameling. Met ‘n natuurlike water fontein. Die TV reeks Nerens Noord Kaap word daar verfilm. So kyk gerus en gaan kuier op Willemsrivier. Die Kotze’s is baie gasvry.

Ons het elke dag in ‘n ander rigting gery om blomme te kyk. In die busse is daar heerlik gekuier en gegrap tot ons almal se vermaak. Dit was nogal baie lekker met die klomp mans wat hierdie jaar ons

toer mee gemaak het. Ons was baie gelukkig om ons persoonlike motordeur oopmakers en helpers te hê. Op Boplaas was ons baie gelukkig nie net om van die mooiste blomme te sien nie, maar met ons besoek aan die Botaniese tuin het ons geleer van die verskillende blomme, kruie, grondsoorte en wat in die omgewing voorkom. Dit het baie gehelp dat ons van die blomme kon identifiseer. Daar was groot opgewondenheid as ons iets interessant sien, foto’s is geneem en almal is geroep om te kom kyk. Ons was baie gelukkig om die geel/ oranje en rooi katsterte te sien. Hulle kleur verskil as gevolg van die tipe grond waarin hulle groei. Ons was ook so gelukkig om te sien hoe skape geskeer word, want al die plase is werkende plase en die toeriste geniet dit baie. Ons het ook heerlike sop en roostekoek geniet op Boplaas dit was regtig ‘n heerlike dag. Die kokerboomwoud, watervalle en gletserspore is regtig iets om te sien. Sommer ook so paar ou Montaguers ook daar gekry. Ons het ook gaan kyk na die pragtige sandsteen kerk wat ook baie geskiedenis het, met ‘n regte outydse lykswa, en in die kerk se mure kan jy die koelgaatjies sien van die eerste wêreld oorlog. Ons het ook heerlike stories gehoor van die kerk en sy dinge. Heerlike pannekoek geëet en gekuier. Daar is ook ‘n motorfiets museum waarna die manne gaan kyk het. Op Loeriesfontein is daar nie net die windpomp museum nie, maar ook ‘n man wat vir ons toegelaat het om na sy vliegtuig werkswinkel te gaan waar hy self ligte vliegtuie bou. Daar was so paar manne wat maar baie skepties was oor die vliegtuigie.

Behalwe die ongelooflike mooi blomme wat net nie ophou maak nie, waar jy kyk nie, het ons ook heerlik geëet en gekuier, met onvergeetlike herinneringe. Op Doringbaai via Lutsville was die blomme plate van wonderlikste wat ons beleef het. By die restaurant op Doringbaai het ons die

heerlikes vis geëet. Al die restaurant, padstalle en winkeltjies wat ons besoek het, het hul eie unieke manier gehad wat ons baie geniet het en sekerlik sal onthou.

Op Vrydag vertrek ons terug na Montagu via die Knersvlake en Vanruynsdorp. Ons eet eers by Bagdad, wat ‘n heerlike geskiedkundige ondervinding met heerlike kos. By Gifberg naby Vanruynsdorp het ons regtig baie mooi blomme gesien. Ons het ook na Clanwilliam se jaarlikse veldblommeskou gaan kyk. Dit was regtig so mooi. Gaan gerus. Weereens was dit ‘n heerlike suksesvolle toer en ons maak altyd sulke wonderlike vriende op ons toere. Om so naby die natuur te wees en die samehorigheid van vriende, besef ons hoe nederig ons net weer moet wees en dat ons die natuur en sy volheid moet bewaar vir ons nageslag. Dit is altyd lekker tot volgende keer!

Mandela Dag panne- Inwoners brei teddiebere vir Badisa koek vir die tehuis se Little Seeds projek

Huis Uitvlucht - 7de Laan (Demensie-eenheid)

Die bestuur van die tehuis oordink al lank die idee om ‘n demensie-eenheid te skep. Ons huidige gebou is op die bougrense en kan dus nie verder uitgebrei word nie. Om ‘n vleuel aan te bou is terselfdertyd baie duur. So ‘n demensie-eenheid moet deel wees van die tehuis, maar ook in spesifieke behoeftes voorsien, waarvan aktiwiteite ‘n groot komponent is. Dit moet ook toegesluit of afgesluit kan word, sou dit nodig wees, vir as iemand wil wegloop of snags rondloop. Die deurmagneet moet saam met die alarm werk, sodat die deur kan oopgaan wanneer die alarm afgaan en die betrokke inwoners dan gemaklik ontruim kan word. Soggens is daar ‘n saalhulp aan diens. Ons beoog om dit ‘n permanente pos te maak. Die projek is tans in die infaseringsfase en demensie-pasiënte word stelselmatig geplaas.

Die area in ons gebou wat die meeste byval gevind het, was die gang wat die inwoners 7de Laan gedoop het. Hierdie gang kan ons in noodsaaklike gevalle afsluit of toesluit. Daar is nege kamers, tesame met storte en toilette, sowel as ‘n sluice-kamer. Ons het een van die kamers in ‘n aktiwiteitekamer omskep, waar hulle ook kan eet. Dit is ook gekoppel aan ‘n sonnige stoep na buite. Ons beoog ook om die tuinarea meer “demensievriendelik” te maak, sodra ons die tehuis buiteom klaar geverf het. Demensie bestaan uit verskillende tipes, bv Alzheimer en vaskulêre demensie, maar ook vele meer. Sommige is moeilik om te hanteer, ander weer makliker. Ons gaan vir eers net die makliker hanteerbare tipes dimensiepasiënte akkommodeer.

Ons wil baie dankie sê aan die donateurs wat geld geskenk het, eerstens vir die toemaak van die stoep aan die westekant as beskerming teen die wind en, tweedens, vir die lê van kunsgras op die stoep. ‘N gedeelte van die tuinarea sal ook omskep word. Baie dankie ook aan vrywilligers wat aktiwiteite kom aanbied.

Hoe kan u help? Ons soek ongebleikte linne en lapverf, gewone waterverf, spreiverf en natuurlik ook papier. Ons het reeds baie kryte en skêre. Naellak en naellakverwyderaar word ook benodig. Verder sal ons ook legkaarte verwelkom. Die stukkies moet ten minste 3cm in deursnee wees, anders is dit te klein vir die pasiënte om te pak.

Ons innige meegevoel aan die oorblywende familie en vriende van die afsterwe van:

Andries Johannes de Vries (Oom Ar) 16/11/1943 – 10/06/2024

Maré Suzette Esterhuyse 20/12/1956 – 21/06/2024

Gideon Daniël Joubert 11/02/1933 – 20/05/2024

Jacobus Andries Laubscher (Kootjie) 11/09/1960 – 21/06/2024

Monica le Grange 15/10/1938 – 20/05/2024

Hester Helena Rossouw-Rabie 04/11/1941 – 15/08/2024

Daniël Jacobus Swanepoel 08/11/1932 – 16/04/2024

Hendrik Gabriël Tredoux (oom Hennie) 18/01/1940 – 11/06/2024

Wouter van der Merwe 17/02/1941 – 27/03/2024

Sebastian Wolfaardt (oom Basjan) 15/01/1945 – 21/06/202

80+ Verjaarsdae

SEPTEMBER 2 Sophie Swart 4 Trix Pieterse 5 Marie Louwrens 9 Rita Kriel

Marietjie Burger

Marianne Meyer

Annette Spreeth 12 Boetie Jordaan

Ria Liebenberg

Katie van den Berg 18 Bettie Fouché

Niel Burer 20 Rita Bloem

Anita Punt

Elna Tredoux

Sankie Bothma 27 Susan van der Merwe

Rita Immelman

OKTOBER 1 Barbara Crafford

Christa Chambers

Erika Fourie 19 Liz Coetzee 22 Sias Meyer 24 Anna Palvie 25 Susan Tawse 26 Daleen Roux 28 Tineke Zilverentant 29 Ria Stemmet 31 Pieter van Zyl

NOVEMBER 1 Andre de Kock 3 Deoni Jansen van Rensburg 12 Kiewiet van Eck 14 Lochie Gersbach 16 Bettie van Dyk

16 Melt van Schoor

18 Pieter Burger

23 Ronell Jacobson

25 Paula Oberholzer

26 Barrie Beukes

27 Anna-Maríe Richter

30 Jeanne Biesenbach

In pas bediening - GEWOONTES

- Deur ds Wouter van Velden

Vandag begin ons met ‘n raaisel. Kan jy dit oplos?

Ek is altyd by jou. Ek is jou beste helper en jou grootste las.

Ek sal sorg dat jy vorentoe beur of ek sal jou afruk modder toe.

Ek is volledig tot jou diens. Meer as die helfte van die dinge wat jy moet doen, kan jy maar in my hande laat en ek sal dit gou en korrek afhandel.

Ek word maklik bestuur – jy moet net ferm met my wees.

Wys my hoe jy ‘n ding gedoen wil hê en ek sal dit na ‘n paar lesse outomaties doen. Ek is die dienskneg van al die suksesvolle mense en – eienaardig genoeg – ook van al die mislukkings. Die groot name van die geskiedenis het ek groot gemaak en die mislukkings het ek laat misluk.

Ek is nie ‘n masjien nie, maar werk met dieselfde akkuraatheid - plus die intellek van ‘n mens. Jy kan my gebruik as ‘n voordeel of as ‘n verwoester – dit maak nie vir my saak nie.

Vat my, lei my op, wees ferm en ek sal ‘n wonderlike wêreld vir jou oopmaak. Wees gemaklik en traak-my-nie-agtig en ek sal jou verinneweer.

Sommige raai dit is jou gewete. Ander weer dat die jou brein is. Binne ‘n geestelike konteks is die raaiskoot gewoonlik die Heilige Gees. Die antwoord: Jou GEWOONTES… Lees weer deur die raaisel en jy sal jou goeie en slegte gewoontes herken in die raaisel.

Die Here het die saak van GEWOONTES op die tafel van die In Pas span geplaas. Gewoontes kan ‘n gemeente se lewe voor die Here maak of breek. GEWOONTES kan ons gemeente help om God se stem te hoor of dit kan God se stem vir ons verberg. Gewoontes kan ons Gemeente help om God se wil te doen of ons gewoontes kan ons verhoed om God se wil te doen.

By ‘n Kerkraadsvergadering is hieroor nagedink en ons het besef daar is goeie en slegte gewoontes in ons Gemeente. Water gewoontes help ons? Eredienste wat weekliks plaasvind, die gewoonte van die kerkraad om vergaderings te wandel in die Woord, die gee van dankoffers, weeklikse Milkshakeklub en Koffiekroeg. Gewoontes kom ook by ons eredienste na vore: montikids, storietyd (getuienisse), sang, deurdiens ens.

Die Kerkraad was ook bewus van gewoontes wat ons verhouding met God strem. Die gewoonte om kritiek te lewer, gewoonte om nie eredienste by te woon nie, gewoonte om te skinder en die gewoonte om so gemaklik te wees dat alles net moet gebeur soos wat jy daarvan hou, wanneer jy dit wil hê en hoe jy dit wil hê.

Ons wil graag ‘n bietjie saamdink oor GELOOFSGEWOONTES in ons Gemeente. Enige persoon is welkom om met enige van die In Pas-bedieningslede te praat oor gewoontes in ons gemeente. Dalk is dit ook nou ‘n goeie tyd om na GEWOONTES in jou eie lewe te kyk: watter gewoontes jou verhouding met die Here help EN watter gewoontes jy eerder moet afleer omdat dit jou verhouding met die Here strem.

-Deur Derwent Stopforth

1 September – Die eerste dag van die wonderlikste dag van die jaar. Lentedag! Ongelukkig is 1 September nog halfkoud maar dit maak nie saak nie. Lentedag wakker sommer ‘n gevoel van opgewondenheid aan, vars geloof, en die belofte dat die mooi van die natuur begin. Hoe wonderlik is dit nie om, as jy mooi kyk, die fyn groen blaartjies te sien uitkom? ‘n Sprinkel van die groen tapyt wat oor die land gaan versprei.

As jy dan begin kyk dan besef jy die teenwoordighed van God. Jy weet Hy is hier by jou want Hy het sy hand oor die bome en grasse gewaai, en jy voel bly want jy gaan ook ‘n tydperk in van Lente. ‘n Tydperk van vars geloof en idees. ‘n Tydperk waar jy nou weet God is by jou, en daai ongelooflike gevoel van blydskap en veiligheid spoel oor jou. Maar, dit is nou wanneer jy die kouer winter afskud en met ‘n glimlag sê “Goeiemôre my Vader” en jy voel sommer Sy teenwoordigheid om jou.

Dit is die tyd waar jy ook in jou eie siel kyk en hom ondersoek. Wat hy kwyt geraak het in die winter. Dit is dan hiér wat jy besef hoe belangrik dit is om saam met die blare en gras weer vars te groei en dieper in jou eie siel te kyk.

Jy besef nou dat lente nie net die begin van mooi is nie. Dit is ook die begin van jou lewe, want jy het nou ook pas jou eie siel oop gesluit, en nou kyk jy opgewonde na Hom soos ‘n pa na sy pas gebore kind. Dit is amper asof jy jou gees weer moet groot maak en vars idees gee, jou geloof opknap en met jou eie hart praat, want jy is nie seker of alles (jou wese, hou hart, jou siel, of gedagtes) op dieselfde golflengte is met hierdie wonderlike dag nie.

Ek glo nie daar is ‘n mooier tydperk as lente nie. Die wonder van alles wat uitloop, en die verskillende skakkerings van groen wat alles vars laat lyk en ruik. Dit is hiérdie varsheid wat jou siel laat besef dat hy aan ‘n Hoër Hand behoort. Jou lewe op aarde moet soveel lente dae hê as moontlik. Kan jy jouself indink om deur die lewe te gaan sonder lente?

Daar is in almal se lewe ‘n winter. ‘n Donker koue tyd ‘n Tyd van pyn en swaarskry. Wat ‘n wonderlike tyd is dit nie as jy deur daai swart tydperk is en daar wag die pragtigste lente, vars en vrolik, op jou!

God het dit so beplan, dat die moeilike, koue tyd, vervang word deur die kleurvolle, vrolike, pragtigste lente!

Dit is ‘n tyd waar jy elke dag opstaan met ‘n lied in jou hart en dankbaar is dat jy ‘n almagtige Vader het wat jou beskerm en jou vul met goedheid en guns. So wees getrou aan dié wonderlike tyd van jou lewe. LENTE!

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
BASUIN Sept-Nov 2024 by Thea Stopforth - Issuu