22
STORIES
Tennismanne onoorwonne
magdaleen van zyl Partykeer weet ek nie waaroor ek ‘n storie kan skryf nie - dis asof my woorde op is. En ander tye sê iemand net iets, dan sit dit „n gedagte aan die gang, en voor ek my kom kry, lê daar „n bladsy vol woorde, maar vandag is nie een van daardie dae nie. Toe dink ek, ek gaan nou „n storie skryf oor stories, wat dwarsdeur my lewe „n indruk op my gemaak het. Daar is verskeie redes hoekom „n storie my beïndruk het soms was dit die teks, maar soms wel net die illustrasie, en heel dikwels albei. In laasgenoemde geval dink ek dadelik aan Daniël in die leeukuil. Ons kinderbybel het „n groot prent gehad van die vreeslose jong man en die reuse leeu wat soos „n troetelkat daar lê. En dan was daar „n gedeelte in die teks wat iets gesê het van die leeu se bek wat toegesluit is deur God, of iets dergeliks. Ek het altyd probeer sien of daar nie „n stukkie van „n sleutel by die leeu se bek uithang nie!! Die drie beertjies was altyd „n groot gunsteling, en ek het veral gehou van die deel waar die bere vir goue lokkies vas aan die slaap kry, en dat sy nie eens bang was vir bere toe sy daar wakker word nie, en dat almal net dadelik vriende was. In die meeste stories van kleintyd, was almal mos net boesempelle op die einde - verstommend. Simson se storie het my altyd gefassineer, veral die deel waar die hare toe geknip word. En ek was altyd so vies vir hom dat hy nie die geheim kon hou nie! Ek was nogal jammer vir Jan-en-die-boontjierank se ma en kind, want hulle het later boggerol gehad en toe moes die arme kind so ver loop om hulle koei ook nog te gaan verkoop. Toe kon hulle nie eers meer melk drink nie. En dat Jan so stupid was om 5 gekleurde boontjies te vat by „n vreemde man, het my verstom gelaat. Ons mag nie eens met vreemde mense gepraat het nie! My storieboek het „n hele bladsy gehad wat net vol boontjierank was - net om te wys dat dit regtig „n groot sterk rank was wat vir Jan en die reus kon dra - en dit was „n baie mooi groen kleur. Jakkals-en-wolf stories het my altyd lekker laat lag, en as die dom wolf „n slag vir skelm jakkals „n les leer, was ek in my noppies. Al die prente by die stories van prinsesse was vir my mooi, en ek het altyd gewens dat as ek groot is, ek tog ook darem so iets tussen sneeuwitjie, goue lokkies, die slapende skoonheid, en skoonlief (van skoonlief en die ondier), sou lyk. Daar is nog so baie: Brolloks en Bittergal (in so „n mooi perserige boekie), Saartjie, Trompie, die Uile wat so slim was, en Fritz Deelman se ongelooflike avonture. Rooikappie en „n wolf wat „n hele ouma kan insluk, die wolf en die sewe bokkies (en hy sluk weer ses bokke in!), en al die stories van Kinder Ensiklopedieë. Ek het „n groot boekrak propvol boeke, en elke storie is op „n manier vir my spesiaal, en elke storie laat sy eie indruk. Die groot vraag is altyd: wat se indruk laat JOU storie op ander mense se lewens . . .
Tydens die onlangse Interskole kragmeting teen Porterville, het PHS se Laerskool Meisies Tennisspanne gewen. Benewens die oorwinning het hulle ook derde geëindig in die Wes-Boland liga. Saam met hulle afrigter, Marianne Grobler, verskyn agter Anke Schreuder, Marelize Myburgh, Jo-Rika van der Westhuizen en Thana Stephan. Voor is Carla Botma, Hanri van Zyl, Suzaan Bassett en Anné Rheeder. Berig en foto's deur Marietha Goosen
Die volgende Piketberger verskyn op 26 Mei. Berigte moet ons bereik teen 17 Mei.
Vadersdag 19 Junie
PHS se Eerste en Tweede Laerskool Seuns Tennisspanne was vanjaar onoorwonne in die WesBoland liga. Hulle het 216 potte ingepalm en 42 afgestaan. Tydens die Interskole kragmeting teen Porterville het die eerstespan as wenners uit die stryd getree. Op die foto verskyn die spanne saam met hulle afrigter, Marianne Grobler. Agter is die eerste span Bendert Smit (nr 1), Louwrens Laing (nr 2), Freddie Visser (nr 3) en Harry Roux (nr 4). Voor is die tweede span Barend Smit (nr 1), Matthew Luyt (nr 2), Nicol Visser (nr 3) en Seth Luyt (nr 4). Berig en foto's deur Marietha Goosen
Tennis meisies wen interskole