1 minute read

Voorwoord

Voorwoord

Ekonomiese en Bestuurswetenskappe bestaan uit drie komponente, naamlik die ekonomie, entrepreneurskap en finansiële geletterdheid. Hierdie fasiliteerdersgids is as hulp vir die fasiliteerder opgestel. Die fasiliteerder moet die antwoorde wat in hierdie gids gegee word, gebruik om die leerders se aktiwiteite en oefeninge na te sien.

Elke les moet deeglik aan die leerders verduidelik word, besprekings moet gevoer word en al die aktiwiteite in die les asook die hersieningsaktiwiteite moet deur die leerders voltooi word ter voorbereiding vir toetse of eksamens. Dit is altyd ’n goeie plan om die vrae en antwoorde saam met die leerders deur te gaan om vir hulle terugvoer oor moontlike foute of goeie antwoorde, of take wat voltooi is, te gee.

Die fasiliteerdersgids sal beide fasiliteerder en leerder deur die jaar begelei en moet saam met die handleiding gebruik word. Elke les bevat gepaste aktiwiteite wat die leerders moet voltooi om die les beter te verstaan. ’n Oopboektoets aan die einde van elke eenheid sal hul kennis oor daardie eenheid toets. Dit sal voorbereiding vir toekomstige toetse en eksamens vergemaklik.

Leerders word ook van ’n werkboek voorsien wat al die nodige antwoordblaaie bevat wat hulle benodig om die aktiwiteite wat verband hou met finansiële geletterdheid te voltooi.

Daar word in die onderskeie aktiwiteite aangedui wanneer hulle die werkboek moet

gebruik. Leerders benodig ’n sakrekenaar om hulle te help met die finansiële geletterdheidsgedeeltes.

Dit is belangrik dat die leerders tydskrifte en koerante lees oor verskillende onderwerpe wat in die handleiding behandel word om sodoende groter indieptekennis van die onderwerpe op te bou. Hulle moet ook weet wat met die land se ekonomie en finansiële sake gebeur.

This article is from: