Die courant wellington 405

Page 1

courant

1 Wellington

dié

1 Februarie 2017

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 405

1 Februarie 2017

•GERHARD ROUX VAN KINDSBEEN IN BOLAND

Radio-legende se stem op Wellington •Jaomi Zeeman

Wanneer ‘n mens vir die eerste keer met Gerhard Roux praat, voel dit asof jy hom van iewers ken. Daar is iets bekend en gerusstellend aan sy gesels. Die feit dat hy ‘n ware heer is, sy innemende manier van luister en sy reguit blik is sekerlik bydraende faktore, maar jy besef gou dat dit sy stem is wat die deurslag gee. Gerhard Roux is ‘n legende in die uitsaaibedryf. In ‘n era toe mense nog rondom ‘n radio na belangrike gebeure gesit en luister het, het sy stem menige groot sportwedstryde na die voorkamers van talle Suid-Afrikaners gebring. Die 93-jarige Gerhard, voorwaar ‘n legende in die uitsaai-wêreld, is die afgelope paar jaar ‘n inwoner van Silwerkruin-ouetehuis, maar sy verbintenis met Wellington strek veel verder. Volgens Gerhard is sy pa, ma, oupa en ouma almal hier in die Moederkerk gedoop en getroud. “My oupagrootjie, Gerhardus Johannes Roux, se graf lê tussen die dominees in die kerkhof op die kerkterrein,” sê hy. Hierdie einste oupagrootjie was destyds ‘n goeie vriend van en boumeester vir ds. Andrew Murray. “My familie se geskiedenis is op ‘n unieke manier met dié van ds. Andrew Murray s’n verweef,” vertel hy. “Ds. Andrew se seun, Charles, was die predikant op Viljoenskroon. My pa was ‘n oudleerder van Grey’s Kollege en ‘n wiskunde en wetenskaponderwyser. Toe Charles Murray dus ‘n skool op Viljoenskroon wou begin, het hy my pa laat kom om die eerste skoolhoof daar te wees,” verduidelik hy. Hierdie aanstelling deur ds. Charles Murray was natuurlik nie net omdat Gerhard se pa ‘n vernuftige onderwyser was nie, maar het ook uit hul familie se vriendskap op Wellington gespruit. Só het Gerhard en sy familie met hul aankoms in Viljoenskroon aanvanklik by “oupa Murray” in die huis gewoon. “’Oupa’ Murray het vir ons die hele Wellington en die binnekant van Clairvaux in detail beskryf. Ek het presies geweet hoe Clairvaux se binnekant lyk lank voordat ek dit vir die eerste keer gesien het,” vertel Gerhard. Volgens Gerhard is sy kindertyd-vakansies op Wellington van sy mooiste herinneringe. “Ons sou altyd die lang pad van Viljoenskroon na Wellington aandurf en wanneer ons dan uiteindelik met die destydse baie smal pad oor Bainskloofpas aan Wellington se kant van die berg kom, het ons by Gawie se water gestop. Hier moes ons onsself eers skoon

was voordat ons in Wellington aanland,” onthou hy. Met hul aankoms in Wellington sou hulle gewoonlik heel eerste na die plaas Uitsig (waar die huidige Uitsig-woonbuurt is) gaan om druiwe en groen appelkose te gaan pluk en te eet. Dit het uiteraard tot maagontsteltenis gely, maar was klokslag deel van hul Wellington-kuiers. ‘n Ander herinnering aan Wellington wat hom bybly, is dié van treine. “My ma se kant van die familie was spoorwegmense en daar was vir my nog altyd ‘n bekoring aan ‘n trein. Wanneer ons in Wellington aangekom en klaar in die wingerde en boorde gespeel het, het ons met die grondpad, wat deesdae die Hoofstraat is, in die stasie se rigting geloop." Dit was juis hier in Wellington dat hy tydens vakansies na die Kaapse-radiostasies kon luister. Volgens hom het hy van altyd af geweet dat hy ‘n radio-omroeper wou wees. “Ek het in Wellington en by die huis na die radio-kommentators geluister. Ek sou ná die uitsending van ‘n rugbywedstryd op die kleinhuisie se dak gaan sit en my eie rugbywedstryd uitsaai. Later sou ek afklim en sommer my eie wedstryd speel ook,” vertel hy. Gerhard het na skool op Stellenbosch gaan studeer. Hier het hy die eerste redakteur van “Die Matie” geword. Hy het ook by ander koerante gewerk totdat hy op 21-jarige ouderdom ‘n omroeper by die destydse Afrikaanse Diens van die SAUK begin werk het. In 1951 het hy sy eerste krieketwedstryd in Port-Elizabeth uitgesaai. In 1959 raap Rembrandt hom as skakelbeampte op, maar hy doen steeds tussendeur uitsaaiwerk. Met die destydse Suidwes (Namibië) se onafhanklikheidswording, vra hulle hom om ‘n nuwe radiostasie daar te vestig. So gebeur dit dat Gerhard die eerste afrikaans, engels en duitse-radiostasie vir die SWAUK begin. Volgens hom was dit opwindende jare. “Ek is

as die Sekretaris-generaal van die Namibiese Olimpiese Komitee aangestel en het vier keer die Olimpiese Spele in hierdie hoedanigheid bygewoon,” vertel hy. Gerhard word later ook die President van die Namibiese Rugby-unie. Gerhard verklap dat hy vele kere uit sy kamer in die Groenleegte aftree-oord, en later ook vanuit Silwerkruin, die krieket-kommentator vir Pretoria FM was. “Dan sit ek voor die televisie in Wellington en vertel per telefoon watter lieflike dag dit byvoorbeeld in Durban is. Ek lewer dan krieketkommentaar asof ek elke oomblik van die wedstryd reg langs die veld is,” lag hy. Vandag stap die 93-jarige Gerhard Roux nog self winkel toe deur Wellington se strate – geamputeerde been en prostese ten spyt. Die bekende stem wat die kommentaar op ons land se grootste sportgebeure gelewer het, is nog lank nie stil nie. “My as moet eendag in ‘n klein ruimte by my oupagrootjie se graf op die Moederkerk se terrein geplaas word. Net hier, in Wellington,” sê hy.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
Die courant wellington 405 by DieCourant - Issuu