Die courant wellington 401

Page 1

courant

1 Wellington

dié

21 Desember 2016

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 401

21 Desember 2016

•LEES MAAK MY WÊRELD OOP - VELDSMAN

Fynkok stel reise bekend •Jaomi Zeeman

Peter Veldsman word deur talle as Suid-Afrika se hedendaagse C. Louis Leipoldt beskou. Soos Leipoldt, word Peter met agting in koskringe bejeën en dien hy as inspirasie vir kosmense sowel as vir gewone kokke. Peter het sy nuwe kookboek, “Wat die hart van vol is”, by die Breytenbach Sentrum se kunsgalery bekendgestel. Hierdie boek is nie ‘n resepteboek nie, maar die “herinneringsreise van ‘n fynkok”. Dit word as ‘n “wydlopende herinneringsreis, deurspek met staaltjies deur een van ons land se fynkospioniers” beskryf. Peter is ‘n kenner van streekskos in SuidAfrika en het die heel eerste Galliova-toekenning as beste kosskrywer ontvang. Hy het sy opleiding in Duitsland en Frankryk ontvang en hom met sy restaurant Emily’s, ‘n kookklub en ‘n kookskool gevestig. Hy was ‘n pionier in plaaslike fynkos en het elf kookboeke geskryf. Peter het talle nasionale en internasionale toekennings vir sy werk ontvang. Hy is vir sy restaurant-wynlys vereer en het ‘n eerbewys van die internasionale Chaîne des Rôtisseurs en ‘n internasionale Gourmand-prys vir sy boek “’n Mondvol lekker” ontvang. Hy het ook onlangs die "Eat Out" se Lannice Snyman Lifetime Achievement-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot die SuidAfrikaanse restaurantbedryf ontvang. Hy het voorwaar ‘n ryk nalatenskap in die Suid-Afrikaanse kosbedryf en -kultuur gelaat. Elmarie Rautenbach, wat by die skryf van Peter se nuwe boek betrokke was, het tydens die bekendstelling met hom in gesprek getree. “Erfeniskos het juis toe ‘n oplewing beleef en wie is ‘n groter kenner hiervan as Peter Veldsman? Ek het my moed bymekaar geskraap en hom genader met die voorstel dat ons sy lewensverhaal skryf. Hy was dadelik positief oor die voorstel en het gesê dat hy reeds ‘n paar hoofstukke in ‘n laai het,” het sy vertel. Volgens Elmarie is die konsep dadelik deur Penguin Uitgewers vir publikasie aanvaar.

Vigsdag:

Wêreld Vigsdag word sedert 1988 op 1 Desember gevier. Bewusmaking oor dié toestand is ook op Wellington hoog op die prioriteitslys. Cabsa (Christelike Vigsburo vir Suidelike Afrika) hier het onlangs ‘n sertifikaat-seremonie en dinee vir hul portuur-opleidingsprojek gehou. Hierdie groep opvoeders se getrouheid is met sertifikate vereer. Lees die volledige berig op bladsy 2. Die gehoor het aan Peter se lippe gehang terwyl hy staaltjies uit sy verlede vertel en talle kwinkslae kwytgeraak het. “Enigeen wat so mal is om in die restaurantbedryf in te gaan, moet hulle koppe laat afkap! Maar Afrikaners is mos ‘n snaakse lot, hulle is mal daaroor om op ‘n lydensweg te gaan. Elkeen wil asseblief tog net op sy eie ‘Via Dolorosa’ gaan. Dis seker maar waarom ek in die kosbedryf gebly het,” het hy met homself die draak gesteek. Hy het groot klem op die insig wat hy deur te lees opgedoen het, gelê. “Lees het vir my die wêreld van kos oopgemaak – nie noodwendig ondervinding nie. Ek het van ‘n omwenteling in die benadering tot kosmaak in Europa bewus geword en besef dat ons in Suid-Afrika ook vernuwend oor ons koserfenis moet dink. In Europa was daar ‘n kosontwaking, in Suid-Afrika het ons nog steeds met rooigevlekte beet-borde gesit. Ek wou graag die drie-gang spyskaart in ons land begin bevorder, sonder om ons erfenis te verraai,” het hy vertel. Hierdie gewaarwording het hom laat besluit om destyds ‘n reeks streekskos-artikels in Sarie te doen. “Streekskos is iets wat op ‘n spesifieke manier net op ‘n spesifieke plek, en nêrens anders nie, gemaak word. Ons moet natuurlik nog uitsluitsel oor sommige van hierdie ‘streek-

kosse’ kry. Bobotie se oorsprong en tot watter kultuur dit nou eintlik behoort is bv. iets wat nog nie uitgestryk is nie. Ons sal waarskynlik een of ander tyd moet gaan sit en ‘n paneel vorm, ‘n ‘bobotie-komitee’, om oor die herkoms van bobotie te besluit,” het hy grappies gemaak. Peter het staaltjies oor die totstandkoming van sy bekroonde restaurant, Emily’s, asook die begin van sy kookskool en kookklub vertel. Een van die interessante verhale is sy “ontdekking” van Nataniël. “Nataniël het by geleentheid vir Danielle Pascal by ‘n uitvoering wat ek bygewoon het, begelei. Ek het gesien dat hy baie talentvol is en agterna met hom gesels. Hy het my vertel dat hy graag ‘n CD wou maak, maar nie genoeg geld daarvoor het nie. Ek het hom toe een aand, saam met ‘n boervrou van Rawsonville met ‘n dik tjekboek vir ete genooi. Dit was die begin van Nataniël,” het hy vertel. Peter, wat besig is om sy stryd teen kanker te verloor, het sy gesprek op ‘n eenvoudige, maar aangrypende wyse afgesluit. “My gesondheid het die laaste twee maande baie vinnig agteruitgegaan. My eindpad het aangebreek. Dit is nie altyd ‘n maklike pad nie, maar ek loop nou my laaste draaie. "Ek sien nie kans vir ‘n laaste rit na my grootwordplaas nie, maar my as moet daar onder ‘n klip gesit word. "Ek hoop ek het ‘n nalatenskap gelos wat vir Suid-Afrika iets beteken, dat ek gehelp het om die weg te berei om Suid-Afrika se koserfenis vry te maak,” het hy gesê. “Dit sal wonderlik wees as ek in stilte my Eksodus in Afrikaans kan maak.”

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.