NUUS • NEWS
11
24 Junie 2015
Binnetuine vir winter Soos tuine kleiner raak, skep plantliefhebbers al meer groen hawens in hul huise. Ongeag die styl van u binneversiering, u sal ’n plant en houer kry wat dit perfek aanvul. As u heeljaar deur kleur wil hê om ’n retrodekor te beklemtoon, kies crotons, caladiums of bontblaar-begonia (Begonia rex) met hul helder-
kleurige blare. Usambara-viooltjies, krisante, asaleas en orgideë pas by ’n klassieke dekor, terwyl potte met varings en hangmandjies met rankplante ideaal is vir ’n landelike voorkoms. Sukses met huisplant: Huisplante het ’n bietjie basiese sorg nodig om ten beste te vertoon. Kyk hulle twee keer per week goed deur om te voorkom dat probleme ontwikkel. Nog ’n wenk is om nie die blare van harige, sagteblaarplante te laat nat word nie. Die basiese reëls vir huisplante is soos volg: • Kies die regte plek Verskillende huisplante het verskillende ligvereistes. Sommige hou van helder lig met ’n paar uur van sonskyn, soos kalanchoe en krisante. Party het helder lig nodig, maar nie direkte sonlig nie, soos cymbidium orgideë, siklame, asaleas, bontblaar-begonia en crotons. Party verkies selfs minder lig, byvoorbeeld Zebrina pendula. • Kies die regte grond Potplantgrond voorsien die aanvanklike voedingstowwe wat ’n plant nodig het en dit laat vogretensie toe, terwyl oortollige water kan dreineer. Kies dus altyd ’n voorafbereide potplantmengsel wat spesifiek geformuleer is vir huisplante en baie organiese materiaal bevat. Waterbehoudende korrels en ’n deklaag sal help dat die grond water behou. • Kies die regte houer ’n Pot wat te klein is, laat ’n plant topswaar lyk en perk groei in, terwyl ’n houer wat te groot is, die plant oorweldig, wat dit ondervoed en onversorg laat lyk. Òf u direk in u gekose houer plant òf dit net as versiering om die plantpot gebruik, kies ’n dekoratiewe houer wat nie meer as 5 cm wyer as die kwekerypot is nie. • Ken u plante se watervoorkeure Sommige plante hou daarvan om deurgaans klam te wees, soos asaleas, siklame en cymbidium, waar ander eerder wil uitdroog tussen natmaaktye, soos Usambara-viooltjies, krisante en cinerarias. Maar geen plante hou van deurweekte wortels nie, dus moet dit goed dreineer. Sit ’n paar spoelklippies onderin die houer vir dreinering. As die dripbakkie onder die houer vol water loop, hou op watergee vir ’n paar dae. As die grond ná ’n tyd nie wil nat word nie, voeg ’n grondnatmaakmiddel elke ses maande by volgens die aanwysings.
Hoe gemaak ...
... met snoeityd in my tuin?
Wanneer? Rose, vrugtebome, druiwestokke en krismisrose moet in die WINTER gesnoei word, verkieslik middel Julie tot einde Augustus. Indien jy in ‘n area woon waar dit swaar ryp, moet jy selfs nog later snoei. Waarom? Die snoei van dié plante (selfs ook die meeste ander plante) is om die plant jonk, ferm en gesond te hou. Jy verbeter ook die kwaliteit en kwantiteit van die blomme en vrugte. Verder help dit om die grootte, voorkoms en fatsoen van jou struike en bome te beheer en te verbeter. Gereedskap! Gebruik slegs kwaliteit snoeiskêre, ‘n skerp snoeisaag en ‘n paar ordentlike tuinhandskoene sal ook help. NB-NB-NB: Steriliseer jou gereedskap na élke vrugteboom of roosstruik wat jy klaar gesnoei het met kaliumpermanganaat, óf Brandspiritus, óf Dettol. Dit verhoed die verspreiding van virussiektes tussen plante. NOTA: 1 - Jong nuwe hout produseer die beste, so probeer dit behou so ver moontlik. Moenie dit verwar met waterlote of wildelote (by rose) nie. 2 - As jy te veel lote en takke op boom en struik agterlaat, sal daar wel baie blomme en vrugte wees, maar met ‘n kleiner vrug en swakker kwaliteit. 3 - Sodra klaar gesnoei, spuit dadelik met kalkswael (een deel per tien dele water) om sluimerende
swamsiektes en ander peste te beheer. Daar is nou ook ‘n nuwe produk op die mark, by name Kumulus. 4 - Baie belangrik: Verwyder alle snoeisels, takkies, blare en lote rondom die plante om siekteverspreiding te voorkom. Hoe knip (snoei) ek? 1 - Verwyder alle dooie lote en takke, so ook alle swak en krom takke. 2 - Oorblywende lote word uitgedun en tot plus minus een derde van die oorspronklike lengte teruggeknip. 3 - Swak en minder produktiewe lote word ook verwyder. 4 - NB: Maak alle snitte ongeveer 5mm bo ‘n ogie wat na buite wys. Die snit moet skuins wees na binne, sodat water kan afloop om infeksie te voorkom (sien skets). 5 - Snoeiwonde kan verseël word met ‘tree seal’ of ‘steriseal’. 6 - Hoogstam-rose word ook net soos ‘n bosroos gesnoei. Voorspoed met die snoeiwerk, dis is nie so moeilik nie! Indien jy nog twyfel, kom besoek ons by die kwekery dat ons vir u kan wys hoe dit
gedoen word. Gratis snoei-demonstrasie:
* Saterdag 18 Julie 10:00 by Moorreesburg Kwekery (022 433 3232) * Saterdag 25 Julie 10:00 Malmesbury Kwekery Tuingroete