Dié courant wellington 30 november 2016 (398)

Page 1

Wellington

courant

dié

1

Gratis • Free

Hugenotestraat 24, Malmesbury

30 November 2016

Uitgawe 398

tel: 022 487 3221

GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap

•REEDS AS TIENER BEGIN DIG

Kinderstories die muse vir dié ouma •Jaomi Zeeman

Daar is vele idiome wat na die beleë kennis en wyse ondervinding van die ouderdom verwys: “Met die grysheid kom die wysheid”. “Mens is nooit te oud om te leer nie” en “Oud, maar nog nie koud nie.” Hierdie dinge kan seker alles van die plaaslike kinderboekskrywyr, Lizma van den Berg, gesê word. Lizma, die ouma van ‘n woelwater-tweeling, stel op 5 Desember haar eeste kinderboek bekend. Volgens haar is dit ‘n hoogtepunt, maar iets wat sy haarself nie noodwendig ‘n jaar of twee gelede sou kon voorstel nie. Alhoewel sy as tiener reeds stories en gedigte geskryf het, het sy nooit gedink dat sy eendag kinderstories sou publiseer nie. “Ek het as tiener begin skryf toe die gewone emosionele wroegings en ontnugterings, wat alle tieners mos maar tref, oor my pad gekom het. "Toe begin die lewe met studies, skoolhou, trou en daarna die kinders. "Vir die volgende 25 jaar was daar nie sprake van skryf nie. "Ek het ons twee dogters, een met ‘n leergebrek en een met ‘n wil soos ‘n ysterpaal, grootgemaak,” vertel Lizma. Na die geboorte van haar tweeling-kleinkinders, het die inspirasie om stories te skryf haar egter weer beetgekry. “Ons is sedert die premature geboorte van die tweeling baie betrokke by hulle. "Die twee se slaappatroon verskil geheel en al en ons maak een aan die slaap en hul ma die ander een. "Ek doen dit deur stories op te maak, liedjies te sing en rympies op te sê,” verduidelik sy. Volgens Lizma het sy besef dat sy die stories moet neerskryf, nadat die tweeling haar daarop begin wys het dat sy die storielyn van die een aand na die volgende ‘n bietjie verloor of verdraai. “Hulle het my gou begin herinner dat vanaand se storie nie dieselfde klink as gisteraand s’n nie – ouma het begin vergeet!” lag sy. Lizma vertel dat sy haar deur die tweeling se belangstellings en ontwikkeling laat lei het.

“Op twee/drie jaar hou hulle van stories oor hulself, op vier begin familie belangrik raak en op vyf begin hulle ‘n sin vir humor ontwikkel. "Hul kattekwaad en ondervindings is die inspirasie vir elke storie,” verduidelik sy. Selfs al het Lizma teen die einde van 2015 al byna 34 stories geskryf, het sy steeds nie aan enige publikasiemoontlikhede gedink nie. “Daar was in Desember 2015 ‘n Kinderbybel bekendstelling by die Breytenbachsentrum en ek het daarheen gegaan. "My buurvrou, Engela Duvenhage, se suster, Marie Prinsloo, is die illustreerder van hierdie Bybel en die idee het by my opgekom dat sy miskien my stories vir my kleinkinders kan illustreer om dit meer interessant te maak. "Ek het haar gekontak en sy was dadelik bereid om my stories te illustreer,” vertel sy.

In Januarie het Lizma die eerste van haar stories vir Marie gestuur. “Ons het onmiddellik gekliek. Sy het presies geteken wat ek in my gedagtes visualiseer het,” sê sy. Volgens Lizma is dit Marie wat haar aangemoedig het om die stories te laat publiseer. “Die hele jaar voel soos een groot wonderwerk. "Die tydsberekening vir alles was net perfek. "Ons gedagte was aanvanklik om my Kabouterstories en die pragtige illustrasies self te laat druk as ‘n nalatenskap vir die tweeling. "Ons het navraag gedoen oor selfpublisering en op 'Publishing World' se inligting afgekom, ‘n afspraak gereël en sommer van my ander stories ook aan hulle voorgelê,” vertel sy. In Julie het hulle ‘n oproep ontvang waarin hulle meegedeel is dat twee manuskripte vir publikasie aanvaar is. “Ons was met vakansie en het die e-pos wat hulle gestuur het, gemis. "Marie moes vinnig die laaste Kabouterillustrasies voltooi, aangesien die uitgewer die boek voor Kersfees gereed wou hê!” vertel Lizma. Lizma se eerste boek, met illustrasies deur Marie Prinsloo, gaan oor die ervarings van Carel en Liza Kabouter en hul maats in Kabouterland. “Oupa André is baie lief vir 4x4, kamp en die veld en hy neem al die tweeling saam vandat hulle twee jaar oud was. Wanneer hulle terugkom, gee Oupa idees oor diere, die veld en natuurbewaring en Ouma skryf oor hul ondervindings,” vertel sy. “Ek lees die stories al vir ‘n geruime tyd by plaaslike kleuterskole en speelskole voor. Die kinders by Pikkieland, Dwergiebos en Kinderland geniet dit regtig en dit is vir my ‘n groot aansporing. Dit is tog waarom ek die stories skryf: vir die kinders,” sê Lizma. Lizma se boekbekendstelling vind Maandagaand, 5 Desember van 18:30 tot 20:00 by Monte Video buite Wellington plaas. Belangstellendes kan haar by 083 235 3187 of lizma@em3.co.za kontak. Elke boek het ‘n CD, inkleurboek en kryte by en sal by die bekendstelling te koop wees.

NUUS • NEWS

30 November 2016


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
Dié courant wellington 30 november 2016 (398) by DieCourant - Issuu