c urant
dié
• Bergrivier 1Swartland Swartland • Bergrivier
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
21 Februarie 2018
16.5%
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 457
21 Februarie 2018
Ekspo lok duisende
Die jaarlikse kykNET Buite-ekspo wat die afgelope naweek vir die 5de keer op die plaas Môreson buite Malmesbury aangebied is, het weer duisende besoekers na die streek gelok. Al word die amptelike besoekertal eers later verwag, sê organiseerder Marius Opperman van Trio Events geoordeel aan lugfoto's, parkeerreëlings en algemene terugvoer is verlede jaar se syfer van 19080 waarskynlik oortref. "Ons bly maar hoop vir 20 000 en net dalk het ons dit hierdie keer gehaal." Sien fotobeeld binne.
•PIETER-JANS DÜRR RIG VISIER OP MUSIEK
Jy kán bo uitkom Pieter-Jans Dürr (18) is die jongste lid van die Dürr-gesin van Malmesbury en die mees onlangse familielid om op akademiese gebied uit te blink in ‘n hoofstroom-omgewing. Dit alles afgesien van die uitdagings van ‘n skaars genetiese oogtoestand wat hom, sowel as sy twee ouer susters, raak. Retinitis pigmentosa, in die volksmond bekend as tonnelvisie, is op jong ouderdom by drie van die Dürr-kinders gediagnoseer, maar dit het nie een van hulle verhoed om op verskeie gebiede te presteer nie. Met die ondersteuning van hul ouers, Mari en John, het hulle een-vir-een hul skoolloopbane suksesvol voltooi en verder gegaan om hulself op tersiêre vlak te onderskei. Pieter-Jans se oudste suster, Karli (31) het ‘n regsgraad voltooi aan die Universiteit van Stellenbosch, met ‘n honneurs in redigering en vertaling. Sy werk tans as taalpraktisyn vir Lekkeslaap.co.za. Elna (29) is op haar beurt besig met ‘n Ph.D. na sy haar voorgraadse BA-graad in sielkunde en meestersgraad in navorsingsielkunde aan Stellenbosch behaal het. John-William (26), die enigste Dürr-sib wat nie die genetiese oog-toestand het nie, werk tans op Potchefstroom as fisioterapeut, waar hy ook besig is met sy meestersgraad aan NWU.
Pieter-Jans het dus groot skoene gehad om te vul en hy het beslis nie teruggestaan nie. Hy was tot op die ouderdom van 14 jaar 'n leerder aan die Pionierskool op Worcester, maar het in 2014 teruggekeer na Malmesbury, waar hy in Graad 9 by Hoërskool Swartland ingeskakel het. “Pionierskool is gerieflik ingerig vir mense met beperkte visie, maar ons is ‘n baie hegte gesin en ek het gevoel ek sal meer tuis kan vermag met my ouers se hulp. Hoërskool Swartland het ook ‘n meer breedvoerige vakkeuse gehad - onder andere drama, wat ek graag wou neem,” verduidelik Pieter-Jans, wat verlede jaar matriek voltooi het met ‘n goeie gemiddeld en vier B-simbole. Pieter-Jans is in Januarie vanjaar tydens ‘n prysuitdeling saam met die provinsie se toppresteerders vereer met die Premierstoekenning vir akademiese uitnemendheid ten spyte van uitdagende omstandighede. “Ek skryf my sukses toe aan die ondersteuning van my ouers en leermeesters wat my gehelp het in die middae. 'n Mens moenie voel die wêreld druk jou af nie. As jy hard genoeg werk sal jy uitstyg bo jou omstandighede en bo uitkom. Saam met geloof aan jou kant, kan jy basies enige iets bereik,” sê Pieter-Jans. Hy geniet tans 'n blaaskans-jaar, terwyl hy voorbereiding tref vir die volgende hoofstuk in sy lewe.
Dié aspirant-sanger is besig om dinge in plek te kry om ‘n musiekloopbaan na te jaag. “My suster Elna is bevriend met Kevin Leo en hy het aangebied om vir my blootstelling te gee aan klankingenieurswerk, sodat ek my eie ‘set-up’ kan hanteer wanneer ek begin optree. Ek is ook reeds besig met sanglesse by die Riana van Wyk-musiekskool en gaan binnekort begin met akoestiese kitaarlesse by die musiekkonserwatorium op Stellenbosch.” Pieter-Jans is gaande oor metal-musiek, veral Linkin Park en Metallica, maar wil homself bekwaam in meer tradisionele genres waarby SuidAfrikaanse gehore sal aanklank vind. “Ek is nog besig om my ‘klank’ te vind, maar dit sal beslis nie heeltemal hoofstroom wees nie. Ek gaan my eie liedjies skryf, maar dis ‘n proses, want mens moet inspirasie diep gaan haal. Anders is dit wat jy daarbuite sit net nog ‘n cliché en dis nie waaroor dit vir my gaan nie. Sover lyk dit asof daar elemente van ‘country' en 'rock’ sal wees, maar wie weet hoe dinge nog kan ontwikkel?” vertel Pieter-Jans, wat aanvanklik beoog om op sy eie op te tree. “Ek wil eers ‘n naam vir myself maak, maar as daar mettertyd ‘n paar goeie mense is wat saam met my wil optree, sou ek ook graag wou kyk waarheen dit kon lei.”
NUUS • NEWS