courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
18 Oktober 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 442
18 Oktober 2017
Vaarwel skoolbanke!
Bergrivier Sekondêr se matrieks was opgewonde om op Vrydag hul heel laaste skooldag te vier.
•OORSPRONG VAN BAIE BOUMATERIAAL
Kalkoonde kry lewe
•Jaomi Zeeman Martina Buxmann, van die plaas Burgersdrif buite Wellington, is besig om nuwe lewe in ‘n vergete deel van ons omgewing se geskiedenis te blaas. Ou kalkoonde wat al vir honderde jare op dié plaas staan, is besig om tot hul ou glorie herstel en gerestoureer te word. Martina, wat al die vyfde generasie van die geslagte-lange verbintenis van die Buxmanns met die plaas Burgersdrift is, ken die geskiedenis van die ou kalkoonde op hul plaas. “Toe ons klein was, het ons altyd geweet van die ‘kalkoonde’ waarvan die grootmense praat as hulle na die klipbouvalle op die plaas verwys. My pa-hulle het altyd gepraat van hoe hulle dit wil restoureer. Ek het na skool oorsee gegaan om geld bymekaar te maak om met die proses te begin. Twee van die oonde was in werking tot in 1945 en is toe deur my oupagrootjie, Edward Buxmann, gestaak as gevolg van die water wat elke winter in die vlei afkom en die myngate volmaak, maar die ander drie oonde het niemand in my familie van geweet nie. Ons het hulle per ongeluk ontdek onder die grond toe my pa met die 'excavator' gewerk het om die water van die geboue se mure af te hou om die verwering te halt,” vertel sy. Hierdie ontdekking het hulle baie opgewonde gemaak en het daartoe gelei dat hulle meer oor hierdie bouvalle op hul plaas wou uitvind en dit heeltemal wou oopgrawe en restoureer. In hierdie proses het hulle ook baie meer oor die bedrywighede van ‘n paar eeue terug op die plaas te wete gekom. Volgens Martina se oupagrootjie, was die myngat voor die gebou en die ander myngate op die perseel ongeveer 120 voet (40 m) diep. Die gemynde kalkklip is met koekepanne deur ‘n stegie tussen die gebou van die “ou oonde” en die gebou van die “nuwe oonde” na die bokant van die oonde geneem . Die oonde bestaan uit silinders, elk 6m
Martina Buxmann restoureer nou ou kalkoonde op die plaas Burgersdrif. diep, wat uit bakstene gebou is en wyer gaan na bo. Die kalkklip is saam met lae renosterbosse en takke in die oonde gepak. Dit is dan aan die brand gesteek en die vuur het teen 'n hoë temperatuur gebrand, waarna dit met water geblus is. Dit het ‘n chemiese reaksie in die kalkklip tot gevolg gehad wat dit laat bars het. Hierna is dit fyngemaak, gesif , verpak en deur die hele Wellington en omgewing vir boudoeleindes versprei. Hierdie kalk is op dieselfde wyse as sement in die destydse boubedryf gebruik. Anders as sement, is dit egter met klei gemeng om as ‘n sterk bindmiddel tussen stene te dien. Volgens Martina is daar in die middel 1700’s met kalkbrandery in die Kaap begin, omdat daar geen sement was nie. Robbeneiland het die eerste kalkbrandery gehuisves. “Die kalk op Robbeneiland is egter van die skulpe op die strand gemaak en nie van gemynde kalkklip nie. Hulle kalkoonde het ook baie anders gelyk. Daar is ook kalkoonde op pad Yzerfontein toe,” verduidelik Martina. Dit was eers in die middel 1700’s dat hulle met die myn en branding van kalkklippe in die Wes-Kaap begin het en hulle vermoed dit is ook uit hierdie era dat die kalkoonde op hul plaas dateer. Die
feit dat hul plaas op die PPC-rif geleë is, dieselfde rif waarop die PPC-myn in Riebeeck-Wes is, is ook insiggewend. Martina vertel dat haar pa al tien jaar gelede met die rehabilitasie van die myngate en die grond rondom die kalkoonde begin het om die water om en uit die geboue te hou. “Ek is nou al sewe jaar by die herstel en restourasie van die geboue betrokke,” sê sy. Die proses verloop sedertdien nie sonder uitdagings nie. Die rivier het byna elke jaar, wanneer dit in die winter afkom, die geboue oorstroom. Hulle moes in die restourasieproses ook dieselfde mengsel van kalk en klei waarmee die geboue gebou is, probeer namaak om die verswakte dele te versterk en om getrou te bly aan die oorspronklike boumetodes. Elke klip in die geboue moes skoongemaak word met draadborsels. Die vensters en houtwerk in die geboue is alles uit herwinde materiaal gemaak en die nuwe “wawiel”-vensters wat hulle toegevoeg het, is ‘n pragtige kruisverwysing na ‘n ander belangrike deel in ons dorp se geskiedenis. Volgens Christine Siebrits van die Ouma Granny Huis-museum, is die meeste historiese geboue in ons dorp, soos die Goodnow-saal, sowel as Ouma Granny Huis, met rou bakstene en ‘n kalk-en-kleimengsel gebou. Daar sou dus ‘n afleiding gemaak kon word dat die kalkoonde op Burgersdrif moontlik die geboorteplek van boumateriaal vir talle historiese geboue in die Boland kon wees.“Hulle sê kalk ‘lewe’ - jy moet hom die hele tyd nat hou, terwyl jy met hom werk,” sê Martina. As ‘n mens dink aan al die geboue in ons vallei wat met die kalk van Burgersdrift gebou is en vandag nog staande bly, “lewe” hierdie ou kalkoonde se nalatenskap gewis nog rondom ons. En onder Martina se wakende oog, aandag aan detail, haar passie vir hierdie liefdestaak en haar eindelose geduld, gaan die klipbouvalle van die ou kalkoonde buite ons dorp ook binnekort ‘n splinternuwe lewe
NUUS • NEWS