courant
1 Wellington
dié
22 Februarie 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 408
22 Februarie 2017
By Kleuterland se atletiekbyeenkoms tussen ses verskillende skole, het die kranige atlete alles in die stryd gewerp om eerste oor die eindstreep te wees. Sommige het die kompetisie fyn dopgehou, terwyl ander gefokus gebly het, of gesorg het dat hulle in die korrekte baan bly. Foto: Hennie von Loggerenberg
Atlete hou wakende oog op die kompetisie •BREYTENBACH SIEN AFRIKAANS AS BASTERTAAL
Taal is ‘ontsluitend’ Breyten Breytenbach het op Saterdag 18 Februarie sy tuisdorp en grootword-huis tydens ‘n gesprek oor Afrikaans herbesoek. Hierdie gesprek het in die Bôrdienghuis Teater van die Breytenbach Sentrum plaasgevind en is deur talle belangstellendes en gerekende akademici bygewoon. Volgens Anne-Ghrett Erasmus van die Breytenbach Galery het die idee vir die gesprek uit die uitstalling wat tans in die galery te sien is, ontstaan. “Die uitstalling van Niel Jonker, Hibrida, is ‘n versameling werke in verskillende media deur ‘n kunstenaar vir wie die proses en alle invloede op die proses, belangrik is. Niel is boonop ‘n bobaas-bakker, so die inspeling van verskillende dinge by die tema van ‘Hibrida’ of ‘basterskap’ het na ‘n lekker vertrekpunt vir ‘n gesprek geklink,” het sy gesê. Dit het die idee vir ‘n gesprek oor Afrikaans se bastereienskappe laat ontstaan. “En watter beter gespreksgenote as Andries Bezuidenhout en Breyten Breytenbach kan daar dan nou wees,” het Anne-Ghrett bygevoeg.
Alhoewel Andries Bezuidenhout die titel van professor voor sy naam kan skryf, is hy allermins ‘n stywe akademikus. Hy is o.a. ook ‘n bekroonde skrywer, ‘n kunstenaar en bowenal ‘n bekende rock-musikant. Andries se kennis van sosiologie, gekombineer met sy aweregse kwinkslae en skerp waarnemingsvermoë het hom die perfekte gespreksgenoot vir Breyten Breytenbach gemaak. “Ek was in die week voor die gesprek ‘n bietjie gespanne oor die regte invalshoek vir die tema, maar ek was gelukkig so besig met repetisies vir Woordfees-produksies dat ek nie eintlik tyd gehad het om my te veel daaroor te bekommer nie,” het hy verklap. In hierdie twee swaargewigte se gesprek rondom Afrikaans se bastereienskappe en die plek wat dit in die hedendaagse landskap behoort te beklee, het die geskiedenis en groei van die taal noodwendig ‘n groot rol gespeel. “Ons kan nie ignoreer hoe Afrikaans tot hier gekom het nie,” het Breyten gesê. “Die verlede lyk altyd meer aantreklik as dit nie meer daar is nie. Een geheel is egter ‘n
utopie. Daar is tog voortdurend verandering, beweging. Dit is die nie-standhoudende, veranderende werklikheid. Ons moet mekaar sáám anders maak.” Volgens Breyten is ‘n deel van die antwoord op ons hedendaagse probleme en die polarisering van ons taal, waarskynlik die skep van ‘n veilige ruimte vir gesels. “Ek dink ‘n mens moet miskien dink aan objektiewe ruimtes en gebruike en strukture wat genoeg geloofwaardigheid het, selfs al stem almal nie daarmee saam nie, wat dit vir ons moontlik gaan maak om hierdie goed uit te praat en te beredeneer en nie tot oorlog maak oor te gaan nie. Dit is tog eintlik die doel van die parlement, dis ‘n praathuis. Maar nou het die SA parlement ‘n plek van vloek en slaan geword,” het hy gesê. Ten spyte van al die uitdagings wat Afrikaans tans ondervind en die uitdagings wat daarop wag, is daar volgens Breyten en Andries tog hoop. “Ons moet hamer op dít wat ons in gemeen het, en nie op dit wat ons nie in gemeen het nie. Verbastering van die taal is juis die behoud daarvan – dit gaan nie hier net oor ‘n intellektuele spel nie. Miskien moet ons begin terugbeweeg na die tekstuur van woorde, in plaas van die akademiese verskraling daarvan,” het Breyten gesê. Op ‘n vraag of hy taal as “insluitend” of “uitsluitend” sien, was sy antwoord eenvoudig: “Dit kan beide wees, maar dit is bo alles ontsluitend.”
NUUS • NEWS