Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier
Year 4 • Tuesday 16 September 2014 | Tel. 028 214 1294
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
’n Groot groep verbygangers staan en kyk na waar die polisie verlede Dinsdag die lyk van ’n onbekende vrou in Nuwestraat gevind het.
FOTO: ANNETTE THERON
Lyk gevind ná voetgangers polisie ontbied ANNETTE THERON ’n Vrou van Caledon wat verlede Saterdag vir die laaste keer lewend gesien is, se lyk is Dinsdagmiddag 9 September langs ’n brug in Nuwestraat gevind. Voetgangers wat die brug gebruik, het die polisie in kennis gestel van ’n slegte reuk wat daar in die lug hang. Die polisie het die gebied begin deursoek en het omstreeks kwart oor drie op die vrou se lyk afgekom Volgens kapt. Gerrit Botes, woordvoerder van die Caledon-polisie, is die oorledene reeds uitgeken. Haar naam kan egter
nog nie bekend gemaak word nie, omdat haar familie gister teen druktyd nog nie in kennis gestel was nie. Die vrou was ’n inwoner van Riemvasmaak in Caledon. Botes sê die vrou is Saterdagaand 6 September laas gesien. Sy was glo die aand by ’n bekende kuierplek in die dorp en het alleen huis toe gestap. Die oorsaak van haar dood is nog onbekend en die uitslae van die nadoodse ondersoek word nog deur die polisie afgewag. ’n Saak van moord word deur die Caledon-polisie ondersoek. Daar is nog geen verdagtes in die saak nie. Botes doen weer ’n dringende beroep op vroue in die gemeenskap om nie alleen op
verlate plekke te loop nie. In ’n tweede, onverwante voorval is ’n vrou dood kort nadat sy beserings aan haar gesig opgedoen het toe sy na bewering in die hospitaal ’n sigaret wou aansteek terwyl sy ’n suurstofmasker dra. Botes het egter bevestig dat Cythleen Beukman (43), volgens die nadoodse ondersoek, Dinsdagoggend aan natuurlike oorsake dood is en nié weens die brandwonde nie. Sy is Donderdag 4 September in die Caledon-hospitaal opgeneem vir tuberkulosebehandeling. Natasha Peterson, kommunikasiebeampte by die Wes-Kaapse departement van gesondheid se Overberg-distrik, het beves-
tig daar was ’n brand in die hospitaal, maar die presiese oorsaak daarvan word nog ondersoek. Botes sê vinnige reaksie van die mediese personeel het voorkom dat die vrou ernstig beseer is en dat die brand groter skade aangerig het. Marishen Beukman, die oorledene se niggie, sê die familie is diep bedroef oor haar dood en kan hulle nie vereenselwig daarmee dat sy in die hospitaal sou probeer rook nie. Beukman laat haar pa, twee susters, een broer, vier kinders en een kleinkind agter. Die begrafnis is op Saterdag 20 September in Tesselaarsdal.