Breederivier
Year 18 • 16 September 2014 | Tel. 023 626 5212
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
Dis lente in die Langeberg
LENTENOOIENTJIES: Dis lente in die Langeberg en inwoners word oraloor begroet deur bloeisels en wingerde wat bot. Franzel (5) en Karen Kloppers (10) het ’n heerlike lentedag in die Agterkliphoogtearea geniet.FOTO: ZELDA KLOPPERS
Boer sterf week ná wrede aanval HILDERINE SCHRÖDER Die Bonnievale-polisie ondersoek ’n bykomende saak van moord ná die slagoffer van ’n plaasaanval in die Drew-distrik verlede Donderdag aan sy beserings beswyk het. Helmut Wohlfarter (73) was vir ’n week in ’n koma in die Tygerberghospitaal nadat hy onder meer ernstige breinbeserings in die aanval op 4 September opgedoen het. Hy is vermoedelik met ’n panga aangeval. Die aanval het nie net die kollig fel op veiligheid in veral landelike ge-
biede geplaas nie, maar is ook skerp vanuit talle oorde veroordeel. Diana Gagiano, uitvoerende burgemeester en sélf ’n inwoner van Bonnievale, het haar skok oor die voorval uitgespreek. “Dit is skokkend dat dit in ons pragtige landelike gebied plaasgevind het. Dit is só hartseer, maar is ’n oproep op ons hele gemeenskap om meer bewus te wees van wat in jou omgewing aangaan, om paraat te wees en ingestel te wees op jou en die gemeenskap waarvan jy deel is se veiligheid.” Gagiano het haar meegevoel aan die Wohlfarter-gesin betuig en ter-
selfdertyd die hoop uitgespreek dat diegene verantwoordelik vir die aanval spoedig aan die pen sal ry. “Niemand kan skotvry kom wat ander se lewe op so ’n wreedaardige manier bedreig, omverwerp of tot ’n einde laat kom nie.” Volgens Carl Opperman, hoof- uitvoerende beampte van Agri WesKaap, is dié organisasie geskok oor die wreedheid van die aanval op Wohlfarter. “Enige plaasaanval is een aanval te veel,” het hy gesê. Hy het ’n beroep gedoen op die gemeenskap om waaksaam te wees en enige verdagte mense of voertuie wat hulle
in die omgewing sien, by die plaaslike polisie aan te meld. “Dit kan van kritieke waarde wees as mense ’n foto van die verdagte mense of voertuie kan neem, selfs al is dit net met hul selfone.” Volgens Opperman is dit belangrik dat mense in die landelike gebied hul roetine aanpas en hul veiligheidstrukture so ver moontlik opskerp. Volgens Tarien Cooks, veiligheidkoördineerder van Afriforum, blyk dit uit dié aanval dat voorvalle van geweld in die Wes-Kaap aan die toeneem is. Daar was sedert die begin van die jaar 92 plaasaanvalle en 43
plaasmoorde in die land, aldus Cooks. In die Wes-Kaap, sê sy, was daar vanjaar reeds vyf aanvalle. “Dit wil voorkom of daar ’n styging is in die moorde aangesien daar in 2013 vir die volle jaar nie meer as 43 moorde was nie.” Niemand is al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die Bonnievale-polisie doen ’n dringende beroep op enigeen met inligting om na vore te kom. Alle inligting sal vertroulik hanteer word. Bel die Bonnievale-polisie by 023 615 8060. Die Wohlfarter-familie kon nie vir kommentaar bereik word nie.