Piketberger Sep 2015

Page 24

24

Belastingbeplanning ‘n Baie Winsgewende Belegging

deur FJS Finansiële Dienste Belasting en belastingbeplanning kan vanuit verskeie hoeke beskou word, onder andere vanuit ‘n beleggingshoek. Vir die deursnee salaristrekker is daar nie veel beleggingsopsies nie, maar in ‘n vryemarkomgewing is daar vir die vrye ondernemer (boer/ sakeman/professionele persoon) twee beleggingsopsies, elkeen met sy eie besondere eienskappe. Die ondernemer kan die belasting betaal wat van hom geëis word sonder om enige aksies te neem om dit te verminder. Vir die gemiddelde ondernemer in Suid-Afrika het dié tipe belegging die volgende eienskappe: Al die kapitaal is verlore binne sekondes na die aanslag betaal is en die opbrengs is dus 100% negatief. Boonop is dit glad nie aftrekbaar teen enige vorm van belasting nie. Die ondernemer het gelukkig ook ‘n ander opsie. Hy kan deur pro-aktiewe beplanning aksies neem om sy belastinglas te verminder. Hierdie soort belegging het op sy beurt ook weer sekere eienskappe. Al sy kapitaal wat hy in die belastingbeplanning belê het, kan binne ‘n jaar, of selfs vroeër terug wees in sy bankrekening. Die opbrengs op die kapitaal kan veelvuldig wees, selfs honderdvoudig en die kapitale uitleg is boonop aftrekbaar vir belastingdoeleindes. Niemand sal normaalweg ‘n belegging soos die eerste een maak nie; tog word dit jaarliks deur ten minste 80% van alle vrye ondernemers in Suid-Afrika gedoen. Hulle doen dit óf uit onkunde óf uit vrees. Dit is ongelukkig so dat alle regerings alles inspan om alle moontlike belastings in te vorder. Die bekende 18de eeuse Britse ekonoom, Adam Smith het gesê dat daar een kuns is wat een regering baie gou van ‘n ander een leer en dit is om geld uit die sakke van hulle onderdane te suig. Elke ondernemer het egter die reg om sy sake so te reël dat hy, binne die tersaaklike wetlike raamwerk, die minimum belasting betaal. ‘n Ander Engelsman, ene regter Tomlin, het dit tydens ‘n belastingsaak só gestel: “Every man is entitled, if he can, to so order his affairs so that the tax attaching under the appropriate Acts is less than it would otherwise be. If he succeeds in ordering them so as to secure this result, then, however unappreciative the Commissoner of Inland Revenue or his fellow taxpayers may be of his ingenuity, he cannot be compelled to pay an increased tax. Die belastingvermindering waarna die regter verwys het, sal egter net moontlik wees deur pro-aktiewe, professionele en geniale belastingbeplanning. Dit sal die onderwerp van verdere artikels in Die Piketberger vorm.

Haal uit en wys jou plakker!

Loslitdag vind vanjaar op Vrydag 4 September plaas. Wees waaghalsig, wees slim, gebruik jou verbeelding wanneer jy jou uitrusting vir vanjaar se Loslitdag kies. Die tema is “Loslit innie Lente”. Die jaar se amptelike kleur is liggroen. Plakkers is nou verkrygbaar vir ‘n donasie van R10 vanaf alle Edcon-winkels, Shoprite, Checkers, Absatakke, en deelnemende organisasies. Hierdie is ‘n fondsinsamelingsgeleentheid vir persone met gestremdheid.

Op die rakke van die Biblioteek Kamphoer

deur Francois Smith Die verhaal, gebaseer op `n ware verhaal van die agtienjarige Susan Nell, speel af vanaf 1902 tot in die vroeë 1950’s. Die verhaal neem die leser op `n emosionele, geskiedkundige en traumatise reis via Ermelo, Heilbron, Winburg, Bloemfontein, Kaapstad, Dodrecht in Nederland en Devon in Engeland. Die verhaal is die lewensverhaal van Susan Nell se wreedaardige verkrag- Bespreking deur ting in die konsentrasiekamp in Win- Deidré Eigelaar burg deur twee Engelse offisiere en `n joiner, Chrisjan Schutte. Sy word vir dood met die lyke op `n wa gelaai, haar liggaam val van die wa af en twee Sotho’s, Tiisetso en Mamello, tel haar op en neem haar na `n grot in die Winburg distrik. Haar besering is lewensbedreigend en sy is geestelik en liggaamlik verwoes. Met tradisionele metodes neem hul vir Susan op `n geestelike reis van genesing en selfbewussyn met soveel deernis en in liefde. Wat lyk na toeval is sy voorbestem om versorgers op haar lewenspad te ontmoet wat haar help tot sy by Marie Koopmans-De Wet in Kaapstad eindig. Daar word sy versorg na liggaam en gees en die geleentheid gebied om na Nederland te reis vir verdere studie. Deur Mnr Perry, `n fotograaf wat sy op die trein ontmoet, raak sy bekend met die sielkunde en gaan studeer sy as `n psigiatriese verpleegster. Vanuit die AngloBoereoorlog na die Eerste Wêreldoorlog word sy `n verpleegster wat eers burgerlikes verpleeg, maar eindig sy in Devon, Engeland. Daar verpleeg sy soldate wat ly aan erge trauma en bomskok en kwalifiseer haar later as psigoterapeut. Dit is dan waar sy haar verkragter ontmoet en hom uitken aan sy halwe oor wat sy tydens die verkragting afgebyt het. Die verhaal kom tot vertelling deurdat `n sakeman, Nico Moolman in Afrikaans in Bangkok, `n opmerking maak teenoor `n Javaanse dame in `n hysbak. Die dame verstaan die Afrikaanse opmerking. Die dame, Lucille van Ubon, vra aan die sakemanne of sy hul kan ontmoet om die verhaal van haar aangenome moeder van Suid-Afrika te vertel. Die daaropvolgende dag vertel sy dan die verhaal van Susan Nell, wat Francois Smith ter boek staaf in die Kamphoer. Die verhaal is `n persoonlike verhaal van `n slagoffer wat wil aangaan ten spyte van haar trauma. Dit is die verhaal van `n land se trauma en die impak daarvan op die landgenote se psiges. Dit is verder `n verhaal wat wys dat deernis en liefde genesing bring ten spyte van kultuur - en opvoedings verskille en dat waardes van mense hul onderskei as óf verpleegsters óf soldate – óf brekers óf bouers. Beslis `n boek wat aanbeveel word vir lesers wat hou van geskiedenis, insig het in die genesing van die psige en ons land beter wil verstaan. Die treffendste aanhaling: “die vermoorde verander dan in `n voëltjie wat al om die moordenaar se kop hang”. (p128)

Volgende Leeskring

23 September om 09:30 Labirint van Chanette Paul bespreking deur Marié Grobbelaar


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.