36 NAMIB TIMES
25 SEPTEMBER 2015
Ou TransNamib-geboue broeigrond vir onheilighede Marshallino Beukes
Die verwaarloosde geboue van TransNamib, agter die Namib Hoërskool-seunskoshuis in Swakopmund, was al voorheen in die nuus oor die gehawende staat waarin dit verkeer, asook die feit dat niemand blykbaar aanspreeklikheid daarvoor aanvaar nie. Dit wil voorkom asof niks nog verander het nie en dat hierdie persele nou die broeiplek geword het vir misdaad, tienerseks, dwelmmisbruik en 'n gefuif. 'n Bekende sakeman van Swakopmund, mnr Quinton Liebenberg, het onlangs 'n kontrak met TransNamib aangegaan om die geboue te huur as stoorplek Volgens hom stipuleer een van die klousules in die kontrak dat hy ook verantwoordelik is om die area netjies te hou. Hy noem dat hy en sy werknemers die groot taak om die geboue skoon te maak aangepak het en ook nuwe deure vasgeskroef het. Al die deure is intussen afgesteel en afgebreek deur vandaliste. Hy en een van sy werknemers het blykbaar een persoon op heterdaad betrap terwyl hy besig was om een van die deure vir homself toe te eien, maar terwyl hulle besig was om die man te konfronteer het 'n groep skoolseuns wat by die Namib Hoërskool koshuis woonagtig is, hulle skynbaar uitgejou en 'n dreigende houding aangeneem. Daar is glo lelik op hulle gevloek en een het blykbaar genoem dat dit “Namibië die is,” terwyl hulle Liebenberg se werknemer omsingel het. Daar was aangedui dat hierdie geboue die rook, dwelm- en drankmisbruik en ook seksplek vir jeugdiges en ander ongewenste elemente is. Die koerant het met ons besoek aan die geboue op kondome en “beddens” wat met kartondose gemaak is afgekom. Na al die moeite om die geboue skoon te maak, sien dit tans weer dieselfde uit en word ook as toilette gebruik. Haweloses maak blykbaar ook soms van die geboue gebruik om te oornag. Daar is ook aangedui dat misdadigers wat vir die Buurtwag of sekuriteitsmaatskappye op die vlug slaan hierdie area as ontsnappingsroete gebruik. Nog iets wat vir Liebenberg dwars deur die krop steek, is die feit dat die koshuis-seuns in hul kamers in bottels urineer en dit dan deur hul vensters na buite gooi. Hy en sy werkers moet dan die vuil werk doen om dit te verwyder. Daar was glo ook al gevalle waar sakke of toegevoude papiere met menslike ontlasting deur die vensters gegooi was. Volgens die koshuis-toesighouer was sulke gevalle al voorheen aangemeld, en het hulle die sondebokke geïdentifiseer en streng opgetree. Hy was egter nie bewus dat dit weer die geval is nie en het belowe dat hulle die situasie sal uitsorteer. Die koerant het ook die Swakopmund Munisipaliteit gekontak, ten einde hulle van die situasie in kennis te stel en ook om vas te stel waarom hulle nie intree en vir TransNamib in die verband aanspreek nie. Die Hoof-uitvoerende beampte, mnr Eckart Demasius, het in sy reaksie genoem dat die koerant dit netsowel kan doen en ook sommer die koshuispersoneel moet aanspreek om die leerlinge te beheer.