Hoofstuk 1
Besigheidstudies Graad 11
PTY LTD
5. Spandinamika Spandinamika verwys na hoe goed ’n span kan saamwerk. A.g.v. die interaksie tussen spanlede, is dit ’n konstante “stoot en-trek”-effek van aksies en reaksies. Geen individuele lid kan onafhanklik werk nie – elke persoon moet aanpas by wat met die res van die span gebeur. In die beste scenario, kom almal in die span goed oor die weg, is gelukkig met hulle rolle en werk tot die beste van hulle vermoë. Probleme en uitdagings word met entoesiasme, ontvanklikheid en buigsaamheid aangepak om aan te pas en nuwe oorwegings te akkommodeer. Daar is genoeg tyd, fondse en ander hulpbronne om deeglik deur die probleme te werk en almal is geduldig, vriendelik en werk goed saam. Hoe dikwels dink jy gebeur dit? Die werklikheid is natuurlik baie anders en daarom is dit belangrik om al die onderliggende kwessies en spanning te verstaan om konflik en probleme te probeer vermy. Die vermoë om ’n probleem vroeg te identifiseer en aan te spreek, voordat dit die span begin verswak, is fundamenteel vir die suksesvolle samewerking van die groep. Probleme word hoofsaaklik deur die volgende veroorsaak: ○ Gebrek aan kommunikasie. ○ Gebrek aan sterk leierskap en swak bestuur van spanprosesse. ○ Persoonlikheidsverskille en onderliggende spanning tussen groepslede. ○ Die regte vaardighede en bronne is nie beskikbaar om die taak suksesvol te voltooi nie. ○ G ebrek aan rigting of duidelike doelwitte, of spanlede plaas persoonlike doelwitte voor die spandoelwitte. ○ Onvoldoende roltoewysing en organisasie. ○ G ebrekkige toewyding van spanlede wat nie hulle werk tot hulle volle potensiaal (of glad nie) verrig nie. ○ A nder kwessies soos vooroordeel, geloofsoortuigings, waardes en diversiteit beïnvloed die interaksie tussendie spanlede.
5.1 Spanhouding/gees Dink aan jou gunsteling span (’n nasionale sportspan of een by die skool) en die “hype” (atmosfeer) voor ’n groot wedstryd: baie motiverende gesprekke, entoesiasme, dirigente, ondersteuners wat sing, almal wat hulle spankleure dra. Al hierdie aspekte bou spangees en skep ’n positiewe houding waar die span gemotiveer word om te wen en sy beste te gee. In teenstelling hiermee, was jy al ooit lid van ’n span wat ongemotiveerd was? Dikwels gebeur dit as jy gedwing word om deel te neem. Jy kies nie self om deel te wees van die span nie, soos bv. vir ’n projek in ’n vak waarvan jy nie hou nie. Dit is baie moeilik om entoesiasties te raak of jou beste te gee. Sulke spanne is dikwels van die begin af gedoem tensy ’n sterk leier of goeie motiveerder die algemene houding kan verander en die beste prestasie uit almal kan kry. Daar is baie rolprente waar ’n afrigter ’n baie swak span neem en hulle in wenners omskep bloot deur hulle houding te verander. Coach Carter is so ’n film – kan jy aan enige ander dink? Houding is ’n fundamentele boublok in die skepping van suksesvolle spandinamika, en as jy ooit in ’n onsuksesvolle span is, onthou om eerste na hierdie aspek te kyk. Dikwels sal al die opleiding en oefening in die wêreld nie soveel van ’n verskil maak, as ’n verandering in houding ("attitude") nie.
10
© 2020 Excom Publishers