8 minute read

TOE...VALLIG IN DIE MOORDENAARS KAROO

Toe…vallig in die Deur : Herbert Conradie Moordenaars Karoo

Ek moet bieg, as jy my dié storie vertel het, sou ek dit maar met ‘n knippie sout gevat het. Maar nou was ek daar, plat op my stêre tussen die karoobossies, langs Chris toe hy die skoot aftrek. Die .270 se loop wip en,....maar wag, laat ek van voor begin.

Advertisement

Ek strompel by die steil koppie af. Die sweet brand in my oë en ek moet kwaai konsentreer om nie te val op die los klippe nie. Die springbokram wat oor my skouers hang voel nou drie keer swaarder as toe ek hom so ‘n half-uur terug bo-oor my rugsak gewip het. Ek moes mooi balanseer om my ou Eusta versigtig op te tel waar ek dit teen ‘n klip staan gemaak het. Kobus, by wie ons jag hier diep in die Moordenaars Karoo, het oor die radio laat weet hy begin solank die manne wat anderkant die koppie voorgesit het optel, dus sal hy seker oor so ‘n uur of wat duskant wees. Daar is geen paadjie die kant af nie, dus moes ek maar koers kies oor die klippe en bossies. My “werk“ was om die koppie met sy wisselende plato’s te patrolleer en die springbokke weer af te jaag vlaktes toe as hulle daar bo kom draai. Ek was juis oppad na die verste punt van die koppie, al teen ‘n kontoer langs, toe ek die klippe hoër op hoor rol. Tot my uiterste verbasing was dit ‘n groot alleenloper ram wat reguit teen die skuinste afgekom het in my rigting. Hy het my eers gewaar toe ek my .30-06 van my skouer af

swaai en ‘n patroon in die kamer stoot. Omdraai kon hy nie, dit was te steil, dus het hy sy ore platgetrek en vinniger gehol. Maar die terrein was te rof en hy was geen klipspringer nie, en ek kon hom met ‘n naby nekskoot (en baie genade van Bo) plattrek.

“Aah, ek sien jy was gelukkiger as ek vandag”, kom hier skielik ‘n stem uit ‘n bos toe ek uiteindelik die voet van die koppie bereik. Ek is so moeg en my bene jellie dat ek nie eens skrik nie. Chris kom te voorskyn agter die bos uit. “So hoe het dit met jou gegaan?“ vra hy. Ek swaai dankbaar die springbok van my skouers af en gaan sit sommer net daar. “Nee, goed. Daar lê drie aan die anderkant van die koppie, wat ek van bo af bekruip en geklits het. En oppad hiernatoe, hardloop dié mooi ram sowaar in my vas. En met jou?” Chris sug, “Nie naby aan ‘n springbok gekom nie. In die hele dag het daar net ‘n troppie blesbokke wragtag so 50m van my af kom staan, maar hulle is mos nie in die mark nie.“ Dis toe dat ek vir Chris vertel van die klein troppie springbokke wat ek van bo af kon sien, net om die draai van waar ons is. “Ek weet nie of hulle nog daar staan nie, maar dis wraggies die moeite werd om te gaan kyk. Hulle het naby die voet van die koppie gestaan”. Ek wil nog verder verduidelik, maar Chris trek al buite hoorafstand, geweer in die hand. Ek besef nou eers ek het nog niks geëet vandag nie, en trek my rugsak nader. Ek is nog besig om my toebroodjie met warm koffie uit my Stanley af te sluk, toe ek ‘n skoot relatief naby hoor klap. Nie lank daarna nie verskyn Chris om die draai. Die bogger hou ‘n pokergesig en eers toe ek hom vra, antwoord hy droogweg: “Nee, hy lê daar waar ek hulle gekry het. Ek het darem nou een vir die dag.“ Ek raak sommer bly vir sy part en toe ek “Mooi man! Well done!“ uitroep, sien ek hy glimlag darem so onderlangs. Ons tel al ons goed op ons skouers en hy help my my springbok dra na waar syne lê. Ons haal solank die binnegoed uit. Ons gaan sit daarna lekker plat op ons boude tussen die bossies en geniet die laatmiddagsonnetjie wat op ons bak. Jan, een van die aanjaers en Kobus se regterhand op die plaas, verskyn asof uit die niet van die vlakte se kant af en kom sit by ons. In die verte sien ons die wit Cruiser bakkie wat oor die nekkie kom en kort daarna stop. Ons kan sien daar word heen-enweer geloop; hulle laai natuurlik vir Fritz, wat daar voor gesit het, en sy bokke op. Nie veel verder aan nie is dit Louis se beurt en weer word heen-en-weer gestap om bokke op te laai.

Dan stoot die Cruiser weer sy neus in ons rigting, en kom al teen die voet van die koppie aan. Skielik draai sy neus weer vlakte toe en stop. Iemand lê aan oor die bakkie se kajuit en ons volg die rigting. ‘n Groot ram draf op sy eie weg van die

Cruiser af, vlakte se rigting. Ons wag vir die skoot, maar die ram hou aan met draf en verdwyn oor die platorand. Die Cruiser maak sommer ‘n draai deur die veld en kom toe weer al met die tweespoorpaadjie aan, seker so 500m weg. Skielik dop dieselfde ram op ons plato uit, selfde plek as waar Jan verskyn het. Hy kom reguit na ons toe aangedraf. Ek raak onmiddellik bewus van my hart wat bokspring in my bors, maar my geweer lê buite my bereik, op ‘n mooi skoon stukkie waar daar niks in die loop of teleskoop kan beland nie. Chris se Steyr Mannlicher rus op sy bipod, net hier langs hom. “Chris, hy is joune!“ fluister ek dringend aan hom.

Die ram, nou so 80m weg, sien ons eers toe Chris sy geweer teen sy skouer druk. Hy swenk effens na regs en hou aan met draf, maar heelwat stadiger as voorheen. Ek kan sien Chris volg hom deur sy teleskoop, maar hy hou aan met trippel en Chris moet aanhou draai in sy heupe om die ram in sy visier te hou. Die ram is amper teen die voet van die koppie, toe Jan skielik fluit en hy doodstil gaan staan. Ek hou my asem op. Chris sit hier twee treë van my af, terwyl hy uit die vuis aanlê op die springbok, so 60m van ons af. Die .270 knal hier langs my, en ek sien die springbokram in sy spore neersak. Vir ’n tweede keer binne ’n uur roep ek uit: “Mooi Chris! Well done, man!”

Die Cruiser is heelwat nader toe ek weer bewus word daarvan, en ek stap hul tegemoet. Hulle het skaars gestop, of Fritz roep uit:” Hei, wat sê julle van Louis se mooi skoot! Seker 200m!” “Watse skoot?” wil ek verontwaardig weet. “Die een waarmee hy nou net daai ram omgedop het!” antwoord Fritz asof ek moet bykom. “Twak man!” vervies ek my sommer, “Ek het langs Chris gesit toe hy daai bok skiet, dit is syne!” “Waar het jy gemik, Chris?” vra Fritz. “Blad,” kom die antwoord, en jy Louis?“ “Blad,“ antwoord Louis. Jan het intussen al na die ram gedraf en kom met hom aangestap, dit was duidelik nie nodig om nog keel af te sny of are te steek nie. “Waar is hy geskiet?“ wil ons almal gelyk by Jan weet. “Op die blad’” antwoord Jan, “twee skote!” en hy draai die karkas sodat ons die twee skote kan sien, skaars 2 duim van mekaar af. Voor in die Cruiser begin Kobus en Paul te lag, en skielik besef ons almal wat gebeur het: Chris en Louis het gelyktydig op dieselfde springbok aangelê, uit twee verskillende rigtings, sonder om van die ander een se aksies bewus te wees. En toe trek hulle gelyk hul skote af, asof georkestreer! Hoe toevallig is dit nie?!

Dit is egter nie waar die toeval eindig nie. Hulle het albei die ram op sy linkerblad getref, albei skiet met .270 kaliber, én Chris en Louis is broers. Om die waarheid te sê, hulle is ‘n identiese tweeling!

SUPPORT YOUR LOCAL TAXIDERMY “TRY IT WHERE YOU CAN TOUCH IT !”

Mariandahl Farm, Adderley Road, Durbanville, Cape Town Tel: 021 972-1441 Mobile: 060 560-0681 Email: bucknbass@mweb.co.za 33° 43´55.02”S 18° 38´18.06”E

MOPANE BRAAI WOOD

AVAILABLE ON YOUR DOORSTEP

YOU HAVE TRIED THE REST NOW TRY THE BEST

ADVANTAGES OF USING MOPANE FIREWOOD

STARTS EASILY - SLOW BURNING - LONG LASTING COALS

The long burning effect of Mopane wood is the reason why you end up with great and long lasting coals.

HARVESTING

Our Mopane wood is harvested from only dead trees in the Kamenjab area in Namibia. The process has no negative impact on the environment. The wood is imported under strict government regulations.

Price: 7KG bags - R40 15KG Bags - R70

Free Delivery can be arranged for orders of 10 bags and more in a 35km radius of the Northern Suburbs of Cape Town.

CONTACT: Freddie Rheeder Mr Mopane Phone : 060 988 9188

LOCATION: Oakglen, Bellville Western Cape DISTRIBUTION AREAS: Cape Town, West Coast, Southern Suburbs, Northern Suburbs, Boland

WEBSITE: www.mrmopane.co.za freddie@mrmopane.co.za

This article is from: