
9 minute read
ETIEK VIR JAGTERS - JOKL LE ROUX
by Die Bontebok
ETIKET - ETIEK - VIR JAGTERS
DEUR : JOKL LE ROUX FOTO : FLIP VD MERWE
Advertisement
In die bydrae word die deel oor optrede teenoor mede-jagters voltooi, en gaan ons voort met optrede teenoor lede van die publiek en optrede t.o.v. die omgewing.
ETIKET VIR JAGTERS: JOKL LE ROUX
Wees versigtig om gesprekke om die kampvuur te oorheers. Dis dikwels die stiller individue in jou groep wat die meeste kennis en ervaring het, en in die stilligheid glimlag oor die grootbekke se verbale diarree! Los ook maar daai spogpraatjies oor daardie 400 meter kopskoot op ‘n hardlopende springbok. Die ervare jagters wat ‘n basiese kennis van ballistiek het, sal weet daar word spekgeskiet. Deur te spog oor sulke lang skote, kan daardie persoonlike inligting oor intieme anatomiese probleme wat jy het, dalk ook net verklap word. Slegs mense wat aan aambeie lei, loop sulke besonderse kort treetjies! Verder verklap hulle dat hulle eintlik swak jagters is, want hulle het nie die vernuf om nader aan hul prooi te kan kom nie. Om te praat sonder om te dink is om te skiet sonder om te mik!
As jy ‘n kwes-bok in die veld teёkom is dit jou plig om alles in jou vermoë te doen om daardie dier so vinnig as moontlik van kant te maak. As die jagter wat die bok gekwes het by jou is, bied eers jou hulp aan voor jy begin skiet. As hy dit van die hand wys, en jy dink die bok gaan wegkom as jy nie ingryp nie, behoort jy te help. Spaar dan liewer onnodige lyding by die bok as die kwesjagter se ego. Die algemene reёl is dat die een wat die eerste bloed getrek het die bok moet betaal, al het ‘n medejagter beide die bok se boude in die proses stukkend geskiet. ‘n Ander aanvaarde gebruik kan wees dat die jagter wie die kwes-bok uiteindelik gedood het, die keuse het of hy die bok wil hê (en dan natuurlik daarvoor betaal) of nie. Hy het immers sy kosbare jagtyd opgeoffer om jou kwes-bok te agtervolg en dood te skiet, en het sy duur ammunisie op jou kwes-bok gespandeer. Indien hy nie belangstel nie, is dit die eerste-bloed beginsel wat sal geld.
Waak maar altyd daarteen om ‘n reputasie as wild-ot of skietvraat onder jou jagvriende te ontwikkel. ‘n Wild-ot kan nooit genoeg diere te skiet kry nie, en gun dikwels nie sy mede-jagter die geleentheid om in “sy” produktiewe gedeelte van die plaas te jag nie, of op “sy”
goeie voorsitplek te sit as dit ‘n voorsitskiet is nie. Hulle openbaar dikwels die houding van daai Griekse skeepskaptein van die passasierskip, die Oceanos, wat in die 1980’s daar aan die Transkeise kus gesink het. “Me-first!” ‘n Skietvraat glo aan so veel moontlik lood-in-die-lug, om op te maak vir sy vrot skietvernuf. Ek het al ‘n ou hoor spog: “I don’t shoot so well, but I shoot lots!” As dit klink of daar ‘n terroriste aanval in die veld is, en die jagters terugkom met min om te wys vir die baie skote wat hulle geskiet het, raak ek senuagtig, en begin ek oorweeg om op te pak of maar die boervrou te help beskuit bak. Soek jou skote uit, en doen jou bes om te verseker dat elke skoot ‘n doodskoot is.
Wanneer jy ‘n ander jagter in die veld vergesel, moet nooit druk op hom plaas om te skiet nie. Dis vir die jagter self om te besluit of hy gemaklik met ‘n skoot of die prooi is of nie, en deur druk op hom te plaas, openbaar jy net jou eie ongeduld nie, maar waarskynlik ook jou swak oordeelsvermoë.
Wees konsidererend, selfs wanneer dit by klein, skynbare onbenullighede kom.As daar agterop ‘n bakkie gery word, waarsku maar die ander passasiers oor die oorhangende doringtak wat naderkom. Hulle aandag kan dalk elders wees, en ‘n doring in die oog of ‘n halfmaan wat uit ‘n oorlel geskeur word, kan ‘n jag ernstig ontwrig. Gee voorkeur aan die ouer persone wanneer dit kom by wie meer gemaklik in die kajuit langs die boer/jagmeester kan sit. As daar by ‘n “hot spot” gekom word, of jagbare wild op ‘n afstand waargeneem word, en die jagters die voertuig verlaat om met ‘n bekruippoging te begin, dien dit geen doel om onder mekaar te fluister as iemand die bakkie se deur toeklap nie. Dis een van my grootste frustrasies wanneer ek in groepsverband jag.
Ons hoef geensins skaam te wees daaroor dat ons jag nie. Wanneer jy egter as ‘n jagter identifiseerbaar is, bv. op pad jagveld toe of terug daarvandaan, en met jou veld/ kamoefleerdrag in die openbaar verskyn, of met jou jagbakkie by ‘n vulstasie intrek, verseker altyd dat jou en jou voertuig se voorkoms en jou optrede onberispelik is. ‘n Jagter met bloedbevlekte klere sal die wenkbroue laat lig. Verklee liewer in skoon klere voor jy die jagplaas verlaat. ‘n Bebloede bakkie met ‘n aantal opgeblase, bebloede karkasse daarop wat stywe bene in die lug lê, kan die nie-jagter lid van die publiek ‘n permanente renons in jag en jagters gee, en van hom/ haar selfs ‘n anti-jagter maak. Bedek liewer jou vrag met ‘n seil of iets dergeliks, en as dit nie moontlik is nie, vermy dit om in die besige parkeerplek van die winkelsentrum te gaan parkeer om eers rustig ‘n brekfis te gaan nuttig. Wanneer jy deur oningeligte niejagters/anti-jagters gekonfronteer word oor jou “onaanvaarbare” ontspanningsaktiwiteit, wees maar altyd beleefd en as die situasie dit toelaat, vind maar deur ‘n onskuldige vragie uit of die persoon ‘n vegetariër is of nie. Indien nie, het jy baie skietgoed, deur bv. te sê dat jy dit verkies om sélf jou vleis vir die tafel te bekom deur dit te jag, as om ‘n slagter te betaal om dit namens jou te doen. Die geld wat jy bereid is om te betaal vir die voorreg om te kan jag, word grotendeels teruggeploeg in wild en bewaring. Indien hy/ sy wel ‘n vegetariër is, kan jy hom/ haar altyd daarop wys dat die reuse oppervlaktes van enkelgewas verbouing, soos die mielielande, sonneblomlande of koolakkers wat in sekere areas so ver as wat die oog kan sien strek, geheel en al gesteriliseerd is vir bewoning deur enige noemenswaardige wildspesies, veral daardie spesies wat voorheen daar voorgekom het toe die natuurlike plantegroei nog nie uitgeploeg was nie. Vra hom/ haar watse finansiële bydrae hy/ sy deur die jare aan die uitbou van wildgetalle en bewaring in die algemeen bygedra het. Daar is baie geldige argumente wat ons kan gebruik, maar ek het al geleer dat die beste, wetenskaplik gefundeerde argumente nie hond kan haarafmaak teen emosionele “argumente” nie. As jy dus nie genoeg tyd het om die persoon deur die hele spektrum van die beginsel van die befondsing van bewaring deur jagters (“Hunters pay for Conservation”) te begelei nie, vermy maar liewer oppervlakkige debatte oor die onderwerp.
Wanneer jy jou in sosiale situasies bevind waar die meerderheid van die gaste om die tafel of braaivleisvuur nie-jagters is, vermy maar daardie praatjies oor die bloed-en-derms wat deel was van die laaste buffel wat jou bestorm het. Vir nie-jagters is bloed iets wat hulle laat gril, en derms iets wat hulle hul aptyt laat verloor, terwyl hulle in die meeste gevalle nie belangstel in jou dapperheid om die buffel wat jy self gekwes het, te gaan “uitsort” nie. Hou ASSEBLIEF ook daai bloedstollende foto’s of video’s oor jou swak geskiete, gekweste leeu of wat ook al, weg uit die sosiale media. Jy dink dalk jy stuur dit aan jou boesemvriend, maar sulke materiaal het die manier om baie vinnig binne die publieke domein te kom, en doen gewoonlik onberekenbare skade aan die publieke persepsie van jag. Bly altyd beleefd en bedagsaam teenoor die ander persoon se opvattings, selfs al getuig sy/ haar optrede nie van ordentlike opvoeding nie.
Optrede t.o.v. die omgewing
Die geykte uitdrukking van buitelewe mense “Neem slegs foto’s en laat slegs jou voetspore”, is net so toepaslik op jagters, met die
uitsondering dat jy darem jou prooi ook mag saamneem.
As daar nou een ding is wat my geweldig irriteer wanneer ek in die jagveld is, is dit die rommel van jagters wat voor my daar was. Selfs sigaretstompies tel in my oë as rommel, om nie eens te praat nie van leë koeldrankblikkies, toiletpapier en - wanneer ek voëls jag - leë haelpatroondoppies. Gelukkig is die doppies van geweerpatrone vandag die duurste komponent van patrone, en maak die meeste jagters ‘n punt daarvan om hul doppies te herwin. As jy rommel in die veld teenkom, tel dit maar op, al was dit nie deur die toedoen van jou groep nie. So sal jy ook die gids en ander helpers (en moontlik ook jou jag-genote) wat by is, daarop attent maak dat dit afbreuk doen aan ‘n ander persoon se natuurbelewenis.
Wanneer karkasse herwin moet word, dink party jagters hulle is geregtig daarop om vir hul veldvoertuie ‘n pad te maak om tot by die karkas te ry, terwyl ‘n karkas meestal met mannekrag redelik bereikbaar gemaak kan word. In party gebiede soos die Kalahari, Karoo of jagplase aan die rante van die Namib is voertuig spore nog vir jare na dit gemaak is, sigbaar. Koukus maar vooraf met die grondeienaar oor sy beleid oor karkasherwinning, as dit nie deel van sy verantwoordelikhede uitmaak nie. Los alle hekke in die veld soos jy dit vind. Daar mag dalk ‘n rede wees hoekom ‘n hek oop- of toe staan.
As jy kamp tydens jou jagtog gee dit jou nie die reg om saans vreugdevure te maak wat berge hout verbruik nie. Die doel van ‘n kampvuur is om kos te kan maak, lig en hitte in die onmiddellike kampvuuromgewing te verskaf en geselligheid aan die geselskap te verleen (of roofdiere weg te hou, maar sulke situasies is maar skaars). Droë hout in die veld het baie ekologiese bates. Wees ook altyd versigtig wanneer daar vuurgemaak word. ‘n Boer wat sy weiding verloor a.g.v. ‘n veldbrand veroorsaak deur jou nalatigheid gaan in ‘n penarie wees, wat nie net reuse finansiële implikasies sal inhou nie, maar ook vrektes en lyding onder die wild gaan veroorsaak. Kampplekke word gewoonlik goed skoongemaak van brandbare materiaal soos gras of droë bas, maar dis daardie middagete vuurtjies iewers in die veld, om daardie stukkie vars lewer of stukkie wors te braai, wat partymaal handuitruk, veral as dit nie ordentlik geblus word as daar padgegee word nie.
Moenie naby ‘n watergat kamp in areas waar water skaars is nie. Ry liewer water na jou kampplek toe aan. Wild, al hoef baie van hulle nie elke dag te drink nie, gaan afgeskrik word deur daaglikse menslike aktiwiteit en vreemde reuke en gaan dikwels lang ente moet aflê om elders water te vind. Ander wildsoorte soos koedoes, rooibokke, bosbokke en grasvreters, laasgenoemde wat meestal daagliks moet drink, gaan beslis daaronder lei as jy die enigste watergat in daardie kamp of op daardie plaas steriliseer.
In die volgende bydrae voltooi ons die deel oor optrede t.o.v. die omgewing, en behandel ons optrede t.o.v. veiligheid.
