die courant 16 november 2011 150

Page 6

6

piketberg 175 jaar oud courant

16 November 2011

Piketberg bied groot verskeidenheid vir toeriste “Slegs 90 minute vanaf Kaapstad, met die ongelooflike argitektuur van plekke soos die NG kerk, die berg, die gasvryheid en omgee van Piketberg se mense, die fenomenale skool wat ons hier het ... dit alles lok mense om weer en weer hierheen te kom!” vertel die toerismebeampte, Ansel van Schalkwyk. Sy nooi besoekers ook uit om elke laaste Saterdag van die maand Kruisementsvlei op die berg te besoek vir stalletjies. “Die laaste Saterdag van November bied Kruisementsvlei ‘n Kersmark aan - besoek gerus piketboberg.com vir meer inligting oor die aard van dié mooi deel bo-op die Piketberg.” Bakens op Piketberg * Die pragtige kerk op Piketberg, deur die argitek Carl Otto Hagen, wat ook die Moederkerk op Stellenbosch en die Clanwilliam-kerk en preekstoel ontwerp het. Dié kerk is in 1880 tot 1882 gebou, reg bo-oor die destydse kerk, vandaar die ekstra-spesiaal hoë plafon van die huidige gebou. Dis ‘n ideale agtergrond vir trou-fotos, en ‘n trekpleister vir almal wat belangstel in die argitektuur. * Die bedrywighede en uitsig van BoPiketberg. “Jy kan nie sê jy was op Piketberg as jy nog nie bo-op die berg was nie,” verseker almal jou. Met vrugte- en blommeboerdery vir die uitvoermark, ‘n kwekery en teetuin met Hollandse disse, gastehuise en kampeerplekke en ‘n konfytfabriekswinkel, saam met die uitsig van bo af, maak dit ‘n besoek aan Piket-Boberg meer as die moeite werd. * Die Brug - die heel eerste staalbrug in die Kaapkolonie wat suid van Piketberg

oor die Bergrivier span, het ‘n interessante geskiedenis: Die boot waarop die staalbrug vanaf Engeland na Australië onderweg was, moes rondom 1850 in die Kaapse hawe vasmeer vir herstelwerk. ‘n Besoekende boot se hyskraan het die brug afgelaai, maar toe die herstelde boot moes vertrek, was daar nie ‘n sterk genoegde hyskraan om die brug te laai nie. Die brug moes noodgedwonge agterbly en nadat dit ‘n paar jaar in die hawe bly staan het, is dit oor die Bergrivier aangebring, omdat die rivier in die winter alle verkeer in daardie gebied afgesny het. Dié baken uit 1862 bly ‘n gewilde besoekpunt in die omgewing. * Die museum in Kerkstraat, waar die kuratrise, Elizabeth Coetzee, reg staan met baie interessante brokkies en inligting oor die dorp en sy geskiedenis. Die sinagoge van Piketberg is ‘n replika van die sinagoge op Malmesbury en vorm deesdae deel van die museum, met aantreklike uitstallings oor die omgewing en sy geskiedenis. Piketberg se trots - sy mense Piketberg mag wel ‘n klompie kilometer van die Kaap af wees, maar sy mense presteer landwyd uitstekend: Mense soos Derick Hougaard, Sheila Cussons en Andries Treurnicht kom uit dié omgewing.

Onlangse presteerders is Sakkie van der Westhuizen, wat jaarliks presteer by die internasionale oorplantingspele en vanjaar met ‘n goue medalje teruggekeer het, Sandra Hanekom, visuele kunstenaar wat as die nuwe kurator van visuele kuns vir die 2012 ABSA KKNK aangestel is, Luca Joubert van die Coetzee Ateljee wie se kunswerk in die Santamkalender vir kinderkuns opgeneem is, Juanita van der Merwe, graad R-onderwyser van die PHS wat by die nasionale uitnemendheidstoekennings van die onderwysdepartement tweede gekom het, Janet Stander, kaptein van die o.12 Wes-Kaapse netbalspan ... die lys is lank. Die dorp huisves ook verskeie bekende kunstenaars, soos Johan Louw, Claire Menck, Anthea Delmontte en Sandra Hanekom, wat binnekort saam met haar man ‘n nuwe kunsgalery op die dorp open.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.