
1 minute read
Inleiding: Bories
Bories, Boreaals of Boreaans (Borean of Boreal in Engels) is 'n hipotetiese megataalfamilie wat al die makro- taalfamilies van Europa, Asië en die Amerikas insluit. Die term is op Grieks βορέας gegrond wat "noordelik” beteken, weens die feit dat alle tale van die noordelike halfrond daartoe behoort. Die Proto-Boriese taal dateer dus uit die Paleolitikum (Ou Steentydperk 50,000 tot 12,000 jaar gelede). Die term is aan die linguïs Harold C. Fleming (1987) te danke.
Twee modelle bestaan vir Bories, dié van Harold C. Fleming en dié van Sergei Starostin. Fleming noem Boralies ‘n “filetiese ketting” eerder as ‘n superpfilum, en assosieer dit met die begin van die Paleolitikum in Europa en die Midde-Ooste sowat 50,000 jaar gelede. Bories omvat dus die Eurasiatiese, Drawidiese, Kartveliese, en Dené-sino-Kaukasiese makro- taalfamilies, met Afro-Asiaties as sentrale en Amerindies as oostelike anker.
Advertisement
Volgens Fleming vorm die makrofamilies Australies, Indo-Pasifies, Khoisan, Niger-Kongo en NiloSaharies nie deel van Bories nie. Hiervolgens is die enigste gebiede waar Boraliese tale nie gepraat is voor die Europese ekspansie nie, dele van Afrika, die Andaman Eilande, Nieu-Guinee, sekere eilande van Melanesië en Indonesiё, Australië en Tasmanië. Fleming fouteer oor Niger-Saharies (Niger-Kongo en Nilo-Saharies), waar ooreenkomste wel waargeneem word.
Sergei Starostin se Bories bestaan uit twee kerngroepe: I Nostraties met sy Afro-Asiatiese, Eurasiatiese, Drawidiese en Kartveelse takke. II Dené-Daïes wat die Dené-sino-Kaukasiese en die Austriese makrofamilies insluit.

Volgens Murray Gell-Mann, Ilia Peiros en Georgiy Starostin kan Khoisan nie by Boralies gevoeg word
nie, terwyl die verbintenis met Indo-Pasifies, Niger-Kongo en Nilo-Saharies verder ondersoek moet
word. Hulle skat die era van Proto-Boralies op 25,000 – 17,000 jaar gelede.
Die oorgang van Bories na die proto-tale Afro-Asiaties, Austries, Dene-Sino-Kaukasies, Nostraties,
Eurasiaties, Kartveels en Drawidies bring vrae oor huidige begrippe in die linguïstiek na vore. Die wyse
waarop Boriese konsepstamme in die prototale etimologiseer, is besonder interessant, en van belang
vir dissiplines soos sielkunde.