3 minute read

Boodskap van die Besturende

Direkteur

Stéfan Oberholzer

Advertisement

OVK het sy ontstaan meer as 100 jaar gelede gehad, te danke aan produsente wat ‘n visie van “Ons eie besigheid” gehad het en dit is presies wat OVK vandag vir sy produsente is – ‘n Boerebesigheid met ‘n Boeredireksie vir die boer op die platteland.

Vanjaar herdenk ons die OVK-naam wat 30 jaar gelede sy ontstaan gehad het en dit is ook vir my ‘n voorreg om iets oor die bykans 28 jaar wat ek deel van die reis was, te kan skryf.

Ek was bevoorreg om vir meer as 20 jaar as hoofbestuurslid die direksievergaderings te kon bywoon. Deur al die jare onder voorsitterskap van oorlede Oom Heinz Wagener, Oom Manie Botha, Gilly Scheepers en ook Chris Bender nou, was die doel nog altyd om ‘n gesonde landbou-onderneming geskoei op gesonde sakebeginsels daar te stel sodat ons die boeregemeenskap kan dien, want sonder produsente is daar ook nie ‘n OVK nie. Dit maak nie saak hoe klein ‘n tak is nie; dit is ‘n noodsaaklike diens wat ons op die platteland moet lewer. Ek was nog altyd verstom oor hoe goed die direkteure mekaar aanvul. OVK was bevoorreg om sulke puik direksies te gehad het en daar was altyd iemand wat ‘n passie op ‘n bepaalde terrein het. Direkteure wat die boeregemeenskap dien, baie keer ten koste van hulself, maak OVK baie uniek.

Ek was ook bevoorreg om betrokke te gewees het by die amalgamasies met KOLK (Karoo Oranje Landbou Koöperasie) en ook CMW (Cape Mohair and Wool). Dan was daar die oorkoop van ‘n aantal handelstakke by Senwes en verskeie nuwes wat geopen is. Sulke transaksies bied eers uitdagings en later word die mense “familie”, want dit is hoe ’n mens later sommige kollegas en kliënte ervaar.

Dit was ook vir my ‘n voorreg om beide oorlede mnre Willem van Zyl en Hardie van Niekerk, wat hoofbestuurders van OVK was, as mentors te gehad het. Dan is daar baie medekollegas tot op die laagste vlak wat nie net ‘n groot rol in ’n mens se lewe gespeel het nie, maar ook in die

OVK van vandag. Sommige is ongelukkig reeds oorlede en ’n mens wens gereeld hulle kon vandag gesien het wat hulle nagelaat het, aangesien hulle die fondament daarvoor gelê het.

Daar was baie uitdagings en dan is daar ook verkeerde besluite geneem, natuurlik nooit doelbewus nie. Die belangrikste is: Hoe maak ’n mens dit reg en beweeg dan vorentoe? Dan was daar ook baie goeie besluite wat geneem is, soos om Zeder se ± 9% belang in OVK uit te koop, aangesien die ingesteldheid van ‘n institusionele belegger en dié van ‘n produsentgedrewe instelling wesenlik verskil. ‘n Ander goeie besluit was die implementering van die lojaliteitskema waardeur verseker word dat die kliënt wat met OVK sake doen, daarvoor beloon word en sodoende ‘n groter seggenskap in die onderneming kry.

Oor die jare het ’n mens ook besef hoe bevoorreg ons is om so baie lojale kliënte te hê - mense wat ware OVKaners is. Mense wat ’n mens daarop wys as iets nie reg is nie, maar ook help planne beraam en voorstelle op die tafel sit om OVK ‘n beter plek vir sy mense (kliënte en personeel) te maak. Dankie aan u daarvoor.

Ongelukkig het ’n mens oor jare ook gesien hoe verkeerde besluite landboubesighede se einde kan beteken en dit is teleurstellend dat baie produsente-aandeelhouers nie die waarde van hul belegging in hul landbou-onderneming besef nie. In die geval van OVK is die Eie Kapitaal teen markwaarde ongeveer R2 miljard en dit behoort aan produsente-aandeelhouers!

As ’n mens vorentoe kyk, kan jy nie anders as om opgewonde te raak oor landbou as ‘n geheel nie. Ja, die uitdagings raak baie, maar ons boere het nog altyd planne gemaak en sterker anderkant uitgekom. OVK sal bly fokus op dit wat hy ken en goed kan doen, maar moet in die proses ook aanpas by tegnologiese ontwikkeling, want dit is wat die toekoms van ons gaan vereis.

Nogmaals dankie vir elke persoon se bydrae tot OVK. Weet vir seker dat Bestuur u belegging koester en daarna streef dat OVK vir ons nageslag bewaar moet word, want “Saam bereik ons meer”.

Daar word gesê dat ‘n goeie besigheid mettertyd sy waarde sal bewys.

Dertig jaar van deurlopende sukses en verskang van uiters waardevolle versekeringsadvies en -leiding, is geen geringe prestasie nie.

Ons heg groot waarde aan sakeverhoudings en ons verbintenis met OVK en huldig julle vir jul verbondenheid tot uitmuntendheid. Ons vennootskap is op respek gebou en jul lojale ondersteuning help ons om ons leiersposisie in die versekeringsbedryf te handhaaf en het ons by ons eie mylpaal van 104 jaar gebring.

Veels geluk met jul 30ste verjaarsdag van almal by Santam.

Santam. Regte, egte versekering.

This article is from: