
4 minute read
OVK se verbintenis met skole op die platteland
Ho Rskool Hopetown
Hoërskool Hopetown is ‘n streekskool van uitnemendheid wat op die oewer van die Oranjerivier geleë is. Hierdie funksionele skool is reeds 169 jaar oud en OVK speel ‘n belangrike rol om dié skool finansieel te ondersteun deur hul hoofborgskap vir die eerste Hoërskool netbalspan asook verskeie ander projekte waarby hul betrokke is.
Advertisement
Baie geluk met jul 30ste bestaansjaar. Hoërskool Hopetown is trots op ons verbintenis met ‘n toonaangewende landbouonderneming in ons omgewing. Ons sien uit na ‘n voortgesette vennootskap tussen hierdie twee instansies tot voordeel van Hoërskool Hopetown se leerders asook die breë gemeenskap.
Landbouskool Hendrik Potgieter Reddersburg
Landbouskool Hendrik Potgieter vier vanjaar 159 genadejare! Ons is sedert 1998 ‘n Landbouskool. Ons bied drie landbouvakke aan, naamlik Landbouwetenskap, Landboubestuurspraktyk en Landboutegnologie. Vanjaar is ook die eerste jaar wat ons Landboustudies aanbied vir graad 8 leerders. Ons poog om leerders met die nodige landboukennis en broodnodige vaardighede die wêreld in te stuur. Ons noue band met OVK maak hierdie droom van ons ‘n werklikheid. Ons sportspanne se treffende uitrustings word deur OVK geborg en ons landbou-afdeling se toerusting en voer vir ons onderskeie vertakkings word by OVK aangekoop. Mnr Luan Lingenfelder staan ons menigmaal met raad en daad by, sou ons dit nodig hê.
Laerskool Clocolan
Laerskool Clocolan stap al jare lank ‘n pad met OVK. Wat ‘n voorreg om geassosieer te mag wees met hierdie besonderse Landboumaatskappy!
Nie net ontvang ons plattelandse laerskool jaarliks groot finansiële steun vanaf OVK nie, maar ervaar ons ‘n menslikheid, wat yl gesaai is. Spontaan, word ‘n bestuurslid langs die sportveld opgemerk, om ‘n span te kom ondersteun of ‘n klop op die skouer uit te deel. Soos op hul harte gedruk, sorg hulle vir pakkies springmielies en kaartjies uit hul persoonlike sakke, om leerders te bemoedig.
Met ywer word die Fendtdag(2021) en Boertjiedag (2022) aangebied, waarby OVK ons skool sonder skroom laat baat.
Ons pragtige rugbytruie, die mooi advertensiebord by ons skool se hoofingang, ons dames-personeel se lieflike baadjies, asook ons skoolvoertuig- en bussie waarop OVK se logo trots pryk, is ‘n sigbare vertoonvenster van hul ondersteuning en hartlikheid teenoor Laerskool Clocolan.
Deur OVK se betrokkenheid lei u in u voorbeeld, want soos u leuse dit beaam, leer ons kinders die belangrikheid daarvan om mekaar op te pas. Juanlu Groenewald, ons hoofseun vir 2023 sê in een van sy toesprake; “In ‘n klein laerskool, weerklink dankbaarheid in elke asem wat deur die skoolklok se beier verwelkom word, want hier gaan dit oor meer as net “jouself”. Ons het mekaar nodig, want Clocolan sonder ‘n laerskool, beteken tawwe tye. Die voortbestaan van ‘n plattelandse gemeenskap kom in gedrang”
OVK, baie dankie vir die altyd-bereidwilligheid om ons hande sterk te maak ter vooruitgang van ons skool en leerders. Ons waardeer dit opreg!
Trompsburg Prim R
Trompsburg Primêr is ’n trotse vennoot van OVK. Ons verhouding strek nie net oor baie jare nie, maar ook oor verskeie dorpe aangesien ons leerders vanaf Bethulie, Colesberg, Philippolis, Jagersfontein, Fauresmith en Edenburg bedien. Tans is vier OVK-bestuurders se kinders leerders by Trompies of een van ons satellietskole in Colesberg en Fauresmith.
Dit bly vir Trompies ’n voorreg om te weet dat ons altyd op OVK se knoppie kan druk wanneer ons hulp met geleenthede nodig het. Een van die mees onlangse voorbeelde was toe ons verlede jaar ’n tent vir ons Sirkuskonsert benodig het en OVK dadelik ingespring het om te help.
Baie geluk met 30 jaar! Mag ons nog vir baie jare die pad saam stap!
Ho R Landbouskool Marlow
‘n Bietjie meer as 103 jaar gelede het ‘n paar boere bymekaargekom in die Suid-Vrystaat en ‘n volwaardige koöperasie gestig wat later, in 1993, bekend sou staan as Oos Vrystaat Koöperasie Beperk (OVK). Tien jaar later het ‘n paar boere in die Oos-Kaap bymekaar gekom en die regering versoek om ‘n Landbouskool naby die dorp Cradock op die been te bring. Die visie van ‘n paar passievolle boere in twee gemeenskappe in die Suid-Vrystaat en die Oos-Kaap, het twee entiteite op die been gebring wat vandag, elkeen op sy eie gebied, diep spore trap in ons landboubedryf. Beide instansies, OVK en Marlow, het elkeen op sy eie manier deur die jare hulself gevestig as instansies van uitnemendheid.
Van dag een af toe OVK besluit het om ‘n streekskantoor en handelstak op Cradock te open, het die Hoër Landbouskool Marlow en OVK hande gevat, om in ‘n wenwen vennootskap mekaar te ondersteun en aan te vul. Vandag is daar talle voormalige Marlow leerders in die Suid-Afrikaanse landboubedryf wat help om te verseker dat Suid-Afrika dié volhoubare kommersiële landbouen kosvoorsieningsland in Afrika sal bly in dekades wat kom.
Sonder die ondersteuning en bydrae wat oor baie jare deur OVK gemaak en belê is in Marlow, vir die ontwikkeling van ons seuns in volwaardige jong gebalanseerde landsburgers, sou Marlow se bydrae aan landbou en die landbougemeenskap in Suid-Afrika vir seker baie geringer gewees het. Die vennootskap en wedersydse ondersteuning tussen OVK en Marlow is soos die nate van ‘n rugbybal. Elkeen het sy eie nis en werksaamhede in die breër landboubedryf, maar tog is ons vasgewerk aan mekaar met dieselfde draad: ons wedersydse toewyding om landbou in Suid-Afrika te dien.
OVK se suksesse die afgelope 103 jaar is ook Marlow se suksesse, en vandag is daar talle jongmanne, wat hulle eerste tree in die landboubedryf op Marlow gegee het, en daarna met die hulp en ondersteuning van instansies soos OVK, ‘n groot impak maak in ons bedryf. Vier van die tien finaliste in die Oos-Kaap vir Jongboer van die Jaar is afkomstig van Marlow. Talle oud-Wolramme speel ‘n insiggewende en leidende rol in verskeie vertakkings in die landboubedryf. Talle van Marlow se oudskoliere is selfs besig om vir hulle ‘n toekoms in die OVK-familie uit te beitel en te verseker.
Die bydrae wat OVK deur baie jare tot Marlow gemaak het, het ‘n groot rol gespeel in die vestiging van Marlow as die toonaangewende landbouskool in die Oos-Kaap. Die finansiële, fisiese en intellektuele ondersteuning wat Marlow vanaf OVK ontvang is vir die skool van onskatbare waarde en sal vir baie jare wat kom, nie net op Marlow nie, maar ook in die landboubedryf in sy geheel baie vrugte afwerp.
Wenners assossieer met wenners, en mag hierdie vennootskap tussen Marlow en OVK nog vir baie jare, tot voordeel van ons landboubedryf en die ontwikkeling van ons voornemende jongboere voortduur.