8 minute read

Appels is ‘n belangrike uitvoerproduk

Dit is nat en modder veroorsaak dat die bakkie maar kort-kort rigting verloor op die pad na een van die twee groot appelverbouers in die Oos-Vrystaat. Die pad neem jou diep in die valleie van die Witteberge naby Fouriesburg in en dan skielik lê die hektare en hektare blou en wit skadunette van die Zinabos appelverbouing asemrowend voor jou in die miswolke.

Die indrukwekkende pakhuis is ’n miernes van bedrywighede en die oesseisoen is nou in volle gang. Esias Scheepers, een van bekende veeteler Fourie Scheepers se seuns, is in beheer van die appelvertakking. “Ek en my broer Louis wat verantwoordelik is vir die saai vertakking, is al vyfde generasie en my familie was maar altyd veeboere. Dit het by my groot-oupagrootjie begin en so het die geslagte aangehou met die veeboerdery.”

Advertisement

“My pa het in 1980 na Gezina, die familieplaas waar ons almal grootgeword het, teruggekeer en besluit om aandag aan die saai- en beesvertakkings te gee. Daar was maar altyd ’n kontantvloeitekort vanaf Januarie tot April tot die bone gestroop kon word. Hulle het toe navorsing gaan doen rondom alternatiewe vertakkings en moes tussen appels, aspersies en rose besluit. Ons is te ver van die roosmark en met die aspersies moes hulle Sondae werk, wat teen hul geloof is,” lag Esias.

Esias Snr & Fourie het toe in 1992 besluit om die eerste appelbome te plant.“Hulle moes maar bome plant wat beskikbaar was en in 1993 die 1ste boorde geplant. Maar dit was onderstamme wat goed in die Kaap aard maar nie reg vir die Oos-Vrystaatgebied was nie. Hulle het nie tou opgegooi nie en uiteindelik 19 hektaar met appelbome beplant.”

Esias vertel dat die bome wat van die Kaap gekry is, van die ou Gala-variëteite was. Die bome is in 5 meter rye 2 meter uitmekaar geplant met 1 000 bome per hektaar.

“Die bome was aggressiewe groeiers en elke jaar moes ons geweldig snoei, net sodat hulle nie deur die nette groei nie en opbrengs kry. My oupa is in 1993 oorlede en my pa kon nie volle aandag aan die appels gee nie.”

Fourie het onder andere Pink Ladies ook geplant, wat eers laat geoes word en dit meng toe in met sy boontjieoestyd omdat hy alleen was. Hy haal toe die Pink Ladies uit en behou net die bome wat hy kon bestuur. Hy het gedurig nuwe bome aangeplant, met sy laaste aanplanting in 2006.

Esias het in 2003 aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem gematrikuleer en toe vir ’n jaar agsteman vir die Griffons o/19 gaan speel. Op aandrang van sy pa het hy toe by Grootfontein Landboukollege gaan studeer, aangesien hy ’n voorliefde vir vee het. “Dit was die beste besluit van my lewe en ek het daar lewenslange vriende gemaak. Einde 2006 het ek plaas toe gekom. My pa was baie besig met beeste en ek was nie baie geïnteresseerd in die saaiery nie. Hy sê toe ek moet betrokke raak by die appelboerdery.

“Ek het aanvanklik nie veel affiniteit vir appels gehad nie en het nie baie van die pakstoor gehou nie. Ek dink dit is omdat ek altyd gedurende skoolvakansies in die pakstoor moes werk. My pa gee my toe die swakste hektaar bome en sê ek moet dit snoei, spuit en onkuidbeheer doen. My kennis van appels was baie beperk en ek gaan toe vir ’n ses weke appelkursus in Somerset-Wes. Toe ek terugkom, het ek gedink ek weet nou alles van appels,maar op daardie stadium eintlik niks. Ek het gesnoei, takke afgebuig, in die jong boorde die bome gemanipuleer en ek was te gelukkig.

“Net toe die oes mooi aan die bome verskyn, koop ons grond in Colesberg om die skaapboerdery daarheen te skuif en ons hou net die hammels hier. Teen einde 2007 moes ek toe na Colesberg toe verhuis en sien nooit my appeloes nie!” lag Esias.

“Dit was lekker om in die Karoo te wees en om die infrastruktuur op die plaas reg te maak. Ek het drade gespan, besproeiing ingesit en ’n stoor opgerig en na net meer as twee jaar was al die werk klaar. Ek het ook my vrou, Adri, daar ontmoet en teen einde 2009 het ek teruggekom na my geliefde appels toe. My pa het toe al klaar nuwe bome vir 2010 bestel en ek en Adri is ook in daardie jaar getroud. Intussen het ons n nuwe uitbreiding op die plaas Loskop tussen Paul Roux en Bethlehem geplant, waar dit warmer as hier is.

Ontwikkelingskoste vir appelverbouing het verdubbel in die laaste 5 jaar. “Dit het noodsaaklik geword om produksie per hektaar tot die maksimum te verhoog om die geweldige kapitaalinsette te regverdig. Ek het aanvanklik in 2010 bome in rye van 5 m x 2 m geplant, wat 1 000 bome per hektaar is. In 2011 het ek dit verander na 4,5 m x 1,5 m, wat die stand verhoog het na 1 481 bome. Vanaf 2018 plant ons nuwe boorde 3 m x 1 m met 3 333 bome per hektaar. Bome lewer tussen 200 en 300 vrugte, so die produksie-op- brengs is verdubbel. Ons gebruik egter meer pale en drade in die konstruksie, wat dan duurder is.

Die nuwe boorde met die hoë stand sal nou in volle produksie gaan. Dit is bome wat deur ’n kwekery in die Oos-Vrystaat voorsien word en hulle is reeds twee meter hoog. Ons het deur die hele land gesoek na geskikte bome, en hierdie bome bly maar die beste. Ek het in 2021 van hulle geplant - ons het vanjaar reeds 18,6 ton per hektaar geoes en volgende jaar sal dit 30 ton wees.”

Met Esias se terugkeer was die pakhuis maar klein en 70 werkers het tot 38 ton per dag gepak met ’n sorteerder wat Fourie tweedehands gekoop het in 1999.

“Die uitbreidings het ons laat besef dat die huidige sorteer-, pak- en stoorfasiliteite nie groot genoeg gaan wees nie. Vervaardigers in Frankryk is deur vriende van ons aanbeveel en in 2016 het Fourie die vervaardigers MafRoda se fabriek gaan besoek.”

Hulle benodig ’n sorteermasjien waarmee hulle 11 ton per uur kan sorteer. Esias vertel hoe die ingenieurs binne ’n dag die ontwerp gedoen het en ’n jaar later in November het vraghouers op die plaas aangekom. “’n Span van vyf mans van Suid-Afrika daag toe op om die masjien aanmekaar te sit. Ek dog by my myself: Hier is nou moeilikheid! Vyf ouens gaan maande neem om die hele masjien aanmekaar te sit. Die masjien pas toe soos ’n legkaart inmekaar en 16 dae later is hulle klaar!”

Die masjien is toe getoets, Esias word deur MafRoda opgelei en tot hulle verligting is alles gereed vir oestyd. “Vandag pak ons met 115 werkers tussen 11 en 14 ton per uur vanaf middel Januarie tot die eerste week in Mei. Ons is in totaal so 140 wat in die pakhuis werk met nog 150 wat buite oes. Die werkers is almal plaaslike mense en as ek twee of drie nuwe mense per jaar kry, is dit baie. Dieselfde mense kom elke jaar werk, wat ’n groot voordeel is.” Buite die oesseisoen het hulle nagenoeg 50 werkers om na die ongeveer 250 000 boompies om te sien!

Ryp bly die appelprodusent se grootste vyand en elke boer gebruik sy eie tegnieke om die oes te beskerm. Hulle het temperatuurmeters oor die boord versprei en as die temperatuur onder 1,5° C daal, word hulle per selfoon gewaarsku. “Daar is talle manier om ryp te bestry. Ons gebruik onder meer waaiers op die laagste dele en brand elke 12 meter bale om die boorde. Bykomend gebruik ek ’n ou silodroër waarin jy steenkool gooi en met ’n trekker deur die boorde sleep. ’n Waaier stoot die warm lug boontoe. Ons maak ook gebruik van besproeiing,” verduidelik Esias.

“Die sorteermasjien kan vier verskillende kleur & klasse sorteer wat hoofsaaklik : 80% -100% (kleur 4), 50% – 80% (kleur 3), 30% – 50% (kleur 2) en 0% tot 30% (kleur1) en dan ook 4 klasse Hulle voer tot 70% van die oeste na oorsese markte uit. Esias verduidelik dat van kleur 2-4 uitgevoer kan word en kleur 1 na binnelandse markte gestuur word. Hulle verbou hoofsaaklik vyf kultivars, naamlik die Gala tipe, Top Reds, Granny Smith, Fuji en Pink Lady.

“Ons oeste in die Oos-Vrystaat is die eerstes in die suidelike halfrond om ryp te word, so ons domineer die markte vir ’n week of twee. Die uitge- voerde produk moet teen -0,5°C verkoel word. Ons probeer om te oes, die appels vir een dag te verkoel en dan eers te verpak. My koelkamers waarin die verpakte bokse gestoor word, is gestel vir tussen 3°C en 5°C. Die appels word oornag na 10° tot 11° verkoel en dan in koeltrokke na die Durbanse hawe vervoer. Die ideaal is om die appel onder 7° te verkoel, want dan stop die rypwordingsproses.”

Esias verduidelik dat die Oosterse markte vereis dat die appels binne ’n plastieksak in bokse verpak moet word. Die plastiek hou van die koue binne aangesien hulle nie daar verkoelingsfasiliteite het nie, en is ook belangrik vir higiëniese doeleindes aangesien die markte maar vuil is en van die produk op straat verkoop word.

Die plastieksak bring mee dat die appels, in plaas van om vir die gewone 48 uur by die hawe verkoel te word, nou 72 uur verkoel moet word teen ekstra koste. Die bergingskamers bring die temperatuur af na -0,5°C toe. As die appel verkoel word na -1°C is hy nie meer bemarkbaar nie. Sodra die regte verkoe- lingstemperatuur bereik is, word die appels in vraghouers verpak wat dit teen -0.5° verkoeling hou, en verskeep. Taiwan vereis dat die produk vir steriele doeleindes vir 7 dae teen -0.5° verkoeling gehou word. Volgens Esias word dit sommer in die vraghouer gedoen, wat in elk geval langer as 7 dae op see is.

Appelverbouing in die Vrystaat het nie baie in sewe jaar toegeneem nie en staan nou volgens Esias op tussen 650 en 700 hektaar teenoor die 600 hektaar in 2016. Daar is ses pakhuise in die Vrystaat, maar dit sal nog vermeerder.

“Ek is opgewonde oor die toekoms. Ons verkeer in ’n posisie waar ons altyd vroeg in die mark is en die gaping tot ons voordeel kan gebruik, wat ’n voortdurende pluspunt is. Daar sal wel nuwe kultivars in die Kaap geplant word wat hulle vroeër toetrede tot die mark kan gee, maar ons kan dit ook plant. Wat my wel bekommer, is dat die prys van ons produkte vir ses jaar op dieselfde vlak gebly het en dit is maar net die swak wisselkoers wat in ons guns tel. In die vrugtebedryf vaar appels egter nog beter as sitrus.”

Die verpakkingsproses en verkoelingseenhede kan nie tydens kragonderbrekings tot stilstand kom nie, en hulle het netwerkgekoppelde sonpanele op die dak van die pakhuis geïnstalleer.“Een ding waarvan die masjiene nie hou nie, is om aanen afgeskakel te word met die gepaardgaande pieke en ons het dus batterye en ’n rigtingwisselaar aangekoop waarmee die pakhuis en sorteermasjien van genoeg konstante krag voorsien kan word. Die verkoelingseenhede se kragverbruik word deur ’n kragopwekker verskaf, aangesien ’n batterystelsel nie ekonomies is nie.”

Die koste van elektrisiteit word ’n belangrike faktor in die produksie van vrugte en die verkoeling daarvan. Omdat die prys van appels oor ses jaar nie veel gestyg het nie, moet die verhoogde koste deur hulle self geabsorbeer word, wat die winslyn negatief beïnvloed. Dit vereis beter en meer effektiewe bestuur om die marge weer op te stoot, iets wat Esias Scheepers vir seker kan doen.

This article is from: