2 minute read

God is sorgend teenwoordig tydens onseker tye

Psalm 46 is die psalm wat ons help tydens tye van groot onsekerheid. Dertig jaar gelede, tydens die gesprekke rondom amalgamasie van die onderskeie koöperasies, was daar baie verontrustende onsekerheid in die dorp en onder die baie werknemers van die destydse Ladybrand Koöperasie. Almal het geweet dat as die hoofkantoor sou skuif, die dorp geweldig benadeel sou word en daarmee saam die kerk, skole en besighede. Mense kon hulle werk verloor. Almal was bedreig. Psalm 46 het my gehelp en ek het dit gebruik om ander weer te probeer kalmeer.

“God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see ….”

Advertisement

God is vir ons ’n toevlug l Selfs al gebeur daardie dinge wat ons vrees en wat ons hoop nie gaan gebeur nie. Selfs al word daardie slegste scenario bewaarheid, is God steeds daar om ons te help.

Die vraag kan ontstaan of ek goed genoeg is om deur God gehelp te word as dinge so onseker om my raak, want ek is beslis nie die beste of voorbeeldigste Christen nie. Ek het al baie foute gemaak.

Goeie nuus - twee maal, in vers 8 en 12, word die volgende woorde herhaal: “Die Here, die Almagtige is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.” In die Bybel kry ons tradisies wat deur die hele Bybel loop. Ons lees van die God van Abraham, wat dan verwys na die geloofsheld.

Ons lees van die God van Abraham, Isak en Jakob, wat verwys na God wat getrou bly deur geslagte heen. Wanneer ons lees van die God van Jakob, verwys dit na die God wat gebroke en selfs sondige mense nie weggooi nie. Ons ken almal die geskiedenis van Jakob. God bly dus getrou, selfs deur ons foute heen. Wanneer dinge onseker om my raak, hoef ek nie in die eerste plek te probeer ontleed of ek kwalifiseer vir God se hulp nie. God is so wonderlik dat Hy selfs die Jakobs van die lewe help.

As ons vandag terugkyk, is daar nie meer onsekerheid nie, maar eerder groot dankbaarheid. Die hele proses het beslis gelei tot groter sekerheid en voordeel vir die meeste rolspelers. God was inderdaad getrou en teenwoordig. Ons kan saamsing met die psalmdigter oor die God wat mense in hulle nood help: “Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad in die heilige woning van die Allerhoogste. Nasies kan raas en koninkryke wankel, maar as God Sy stem laat hoor, smelt die aarde weg.” l “Bedaar en erken dat ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.” l Ons kan terugkyk en saam jubel,“Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring.” Hy het ook in die “koöperasie” groot dinge tot stand gebring.

Is jy dalk nou ook onseker en bekommerd?

Die situasie in ons land en dalk ook in jou eie lewe lei tot groot onsekerheid. Dit is wonderlik om te weet dat God altyd deel van die groot Sekerheid is, selfs al gebeur dinge waarvoor ons vreeslik bang is. Vrede vir julle.

This article is from: