
3 minute read
Aanbevelings vir die bestuur van konflik
from Besigheidstudies graad 12
by Impaq
Deur die vraag “Waarom?” te vra, kan ook ’n geleentheid gebied word om die vraag “Hoe stel jy voor moet ons die probleem op ’n regverdige manier oplos?” te vra. Dit fokus weer eens op die probleem en verhinder mense om mekaar aan te val op grond van suiwer emosie.
4.6 Waardes en etiek – waargeneem of werklik
Opleiding en ope kommunikasie kan help om konflik, te wyte aan ’n gebrek van begrip, te oorkom. Dit kan ook buigsaamheid aanmoedig en empatie skep sodat mense kan begin om verskille te akkommodeer en selfs te vier.
5.Aanbevelings vir die bestuur van konflik
5.1 Stimuleer funksionele konflik – Duiwelsadvokaat
Konflik kan kreatiwiteit stimuleer en ‘groepsdenke’ in spanne verhinder. Groepsdenke vind plaas wanneer spanlede nie mekaar wil kritiseer nie omdat hulle ’n behoefte het om oor die weg te kom. Dit verhinder dan kritiese denke.
As ’n persoon die rol van duiwelsadvokaat aanneem, kritiseer hy die voorgestelde plan van aksie om sodoende analitiese denke aan te moedig om die voorgestelde plan van aksie te toets. Hierdie doelbewuste kritiek staan bekend as geprogrammeerde konflik en word gebruik om debat en verskillende opinies aan te moedig.
’n Voorbeeld ter illustrasie:
Oefening 1.4: Etiese waardes
Dink oor die frustrasie wat deur Westerlinge ervaar word wanneer hulle besigheid doen in Oosterse lande omdat hierdie waardestelsels van hulle eie verskil. Kan dit ’n potensiële bron van konflik wees? Wat is die beste manier om die konfliksituasie te hanteer? Behoort iemand sy etiese waardes in gevaar te stel om besigheidtransaksies te beklink?
5.2 Onderhandeling
Onderhandeling is die proses waardeur twee mense probeer om hulle verskille op te los. Dit is een moontlike metode om disfunksionele konflik te hanteer. Dit is ’n geskikte aanslag om konflik op te los wat a.g.v. misverstande ontstaan het, maar dit is nie geskik wanneer die wortel van die konflik by verskille in waardestelsels lê nie. Mense is gewoonlik nie bereid om oor hulle waardestelsels te onderhandel nie!
In ’n situasie waar onderhandeling misluk, vereis dit gewoonlik dat ’n dispuut opgelos word deur enigiets van fasilitering tot arbitrasie. (Sien ook derdeparty-ingrypings.)
5.3 Uitstryking
Dit is meestal ’n tydelike metode om ’n konfliksituasie op te los aangesien verskille geïgnoreer word en die fokus op wat die mense in gemeen het, geplaas word. Die konfliksituasie word “uitgestryk” maar as dit ’n ernstige situasie is, kan dit eintlik die probleem erger maak. Die korttermyn-oplossing tot die probleem kan daartoe lei dat die konflik weer kop uitsteek.
5.4 Afdwinging
In ’n situasie waar afdwinging gebruik word, dwing ’n persoon wat ’n bepaalde posisie van outoriteit beklee, sy oplossing op die ondergeskikte af. Hierdie outokratiese styl moedig nie deelname in die probleemoplossingsproses aan nie, en dit lei dikwels tot ongelukkigheid.
5.5 Vermyding
Hier word die probleem vermy deur voor te gee dat dit nie daar is nie of deur dit te ignoreer. Dit word meestal gebruik wanneer die persepsie bestaan dat dit eenvoudig nie die moeite werd is om te argumenteer nie. Hierdie aanslag is geskik vir onbenullige kwessies, maar in ’n ernstige situasie, kan die konflik met verloop van tyd vererger. Nog ’n vorm van konflikvermyding is as iemand anders gestuur word om ’n boodskap oor te dra, eerder as om die situasie te konfronteer. Hierdie kwessie is nie opgelos nie, maar slegs tydelik uitgestel.
5.6 Kompromie
Hierdie demokratiese styl van konflikhantering word in ’n situasie gevind waar daar teenoorgestelde opinies oor ’n kwessie is, maar waar beide partye dieselfde mag het. Dit is ’n situasie van wedersydse gee-en-neem, maar as dit nie goed bestuur word nie, kan dit tot ’n situasie lei waar spertye nie nagekom word nie, want dit is makliker om net te onttrek of toe te gee. As daar konstant van een persoon verwag word om toe te gee of ’n kompromie aan te gaan, kan hy moontlik besluit dat dit makliker is (ten minste sielkundig gesproke) om te onttrek aan die situasie. Hierdie aanslag kan die konflik oor ’n periode van tyd vererger omdat dit konflik kan veroorsaak binne die persoon wat aanhoudend moet toegee en ander akkommodeer.