7 minute read

Konflikbestuur deur derdeparty-ingrypings

Next Article
Redes vir Konflik

Redes vir Konflik

6.Konflikbestuur deur derdeparty-ingrypings

Konflik wat nie behoorlik hanteer word nie, kan vernietigend raak. Soms is dit moontlik dat die dispuut, tussen die partye betrokke, geskik kan word, maar as die kwessie nie opgelos kan word nie, is daar makliker en meer koste-effektiewe maniere om dit te skik as in die hof. ’n Alternatiewe metode om die konflik op te los kan wees om ’n derde party te betrek om in die proses te help, maar dit is belangrik dat beide die partye voel dat hulle die integriteit van die derde party kan vertrou.

Alhoewel dit moontlik is om ’n interne persoon (deel van die organisasie) te gebruik as ’n derde party as daar ’n konfliksituasie in die besigheid bestaan, is dit dikwels meer produktief en word dit as meer regverdig beskou as ’n buitestander gebruik word.

Versoening betrek ’n derde party om die strydende partye te help om hulle konflik direk en konstruktief aan te spreek, maar slegs in die rol van fasiliteerder.

Die bemiddelaar sal poog om die strydende partye te help om ’n wedersyds-aanvaarbare besluit te neem deur ’n adviserende rol te speel, maar mag nie soos ’n arbiter die probleem oplos deur ’n besluit namens die strydende partye te neem nie.

Sodra die arbiter sy besluit geneem het, is dit bindend op albei partye, en is dit daarom krities dat die arbiter regverdig en onpartydig in sy uitspraak is.

Konflikoplossingstappe:

Onderhandeling Versoening Bemiddeling

ONDERHANDELING VERSOENING

Versoener BEMIDDELING

Bemiddelaar Arbitrasie

ARBITRASIE

Arbiter

Disputante Disputante

Disputante

Disputante

Twee partye kom bymekaar en probeer om alleen tot ’n vergelyk te kom. Indien onderhandelinge onsuksesvol was, word ’n derde party genader om betrokke te raak. Hierdie persoon maak seker dat albei partye ’n kans kry om te praat.

Voorbeeld: ’n Pa en seun verskil oor hoe laat die seun saans tuis moet wees. Hulle kom bymekaar om die saak te bespreek en saam ’n oplossing te vind. Voorbeeld: Twee vriende baklei as gevolg van ’n misverstand, ’n derde persoon tree dan tot die gesprek toe om seker te maak dat beide partye al die nodige inligting het en dat die misverstand uit die weg geruim kan word. Indien versoening nie werk nie, raak die derde persoon meer betrokke en gee raad, maar die uiteindelike besluit lê nog by die oorspronklike partye.

Voorbeeld: Twee besigheids- vennote verskil oor die sluit van ’n nuwe kontrak. ’n Prokureursvriend met kennis van kontrakte kan ingeroep word om meer lig op die saak te werp en te sorg dat hulle meer insig kry ten einde tot ’n vergelyk te kan kom. Indien bemiddeling nie die problem kon oplos nie, word die besluit uit die hande van die oorspronklike partye geneem en ’n derde persoon neem dan die besluit.

Voorbeeld: Twee vloerbestuurders in 'n fabriek stem nie saam oor die plasing van 'n nuwe stuk toerusting nie. Die produksiebestuurder tree in en neem die besluit wat dan vir albei departemente bindend is.

Die Con-arb-proses

Die Con-arb-proses is ’n vinniger eenstap-proses van versoening en arbitrasie vir individuele onregverdige arbeidspraktyke of onbillike ontslag. Die proses van versoening en arbitrasie vind as een ononderbroke aksie op een dag plaas. Die proses is verpligtend in kwessies wat verband hou met probasie.

6.1 KVBA (CCMA)

Die KVBA (Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie) is ’n onafhanklike organisasie wat as ’n dispuutoplossingsliggaam werk wat samewerking tussen werknemers en werkgewers bevorder. Enige dispuut wat op hierdie vlak opgelos kan word, verhoed arbeidsonrus, soos stakings en uitsluitings, en bevorder produktiwiteit in die ekonomie.

Die KVBA sal help om arbeidsverwante dispute in die werksplek te skik deur ’n proses van versoening, bemiddeling en eindelik, indien nodig, deur arbitrasie. In hierdie proses van die regulasie van die probleemvrye werking van ’n werksplek, kan die KVBA ook betrokke raak by werksplekherstrukturering en kan opleiding en advies aanbied oor sekere kwessies soos die beëindiging van diens, wanneer gevra word om so te maak.

Bron: https://www.ccma.org.za

6.2 Werksplekforums (WPF)

Volgens die Wet op Arbeidsverhoudings, kan ’n vakbond aansoek by die KVBA doen om ’n werksplekforum te stig. Hierdie forum sal nie die rol van die vakbond oorneem nie, maar werkers op alle vlakke help om aan konsensus-besluitneming met die senior bestuur deel te neem. Een van die primêre funksies van die Werksplekforum is dus om die doeltreffendheid in die werksplek te verhoog. Die Wet op Arbeidsverhoudings meld dat daar sekere kwessies is waaroor die bestuur met die werksplekforum moet konsulteer, terwyl ander kwessies meer as konsultasie benodig, en konsensus en gesamentlike besluitneming tussen die Werksplekforum en die bestuur vereis. Werknemers kies medewerkers om hulle te verteenwoordig.

Sommige kwessies waaroor die bestuur met die Werksplekforum moet konsulteer, sluit die volgende in:

◦ Kriteria vir merieteverhogings. ◦ Herstrukturering van die werksplek en werknemeruitdiensstelling. ◦ Opleidingsverwante kwessies. Die bestuur en die Werksplekforum moet gesamentlike besluite neem soos Dissiplinêre Prosedures en Regstellende Aksie. Indien geen konsensus in die besluitneming bereik kan word nie, kan die kwessie na die KVBA verwys word.

6.3 Werkgewerorganisasies

Hierdie organisasies voorsien lede van ’n arbeidsverhoudingsdeskundige wanneer benodig, of op ’n kontraktuele basis vir een of twee dae per week. Die besigheid kontrakteer hierdie aspek van die MVfunksie uit aan deskundiges wat op hoogte van veranderings in arbeidswetgewing bly. NAPE (National Association of Private Employers - Nasionale Vereniging van Privaat Werkgewers), NEASA (Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika) en COFESA (Konfederasie van Werkgewers in Suid Afrika) is voorbeelde van organisasies wat gestig is omdat baie van die kleiner werkgewers nie die fondse of die nut het om ’n voltydse arbeidspraktisyn aan te stel

Werkgewersorganisasies sal werkgewers help met aspekte soos die volgende:

◦ Indiensnemingskontrakte ◦ Dissiplinêre en grieweprosedures ◦ Dispuutoplossing ◦ Diensgelykheidplanne ◦ Verteenwoordiging by die KVBA ◦ Vakbondonderhandelings. Sommige werkgewerorganisasies werk in spesifieke bedrywe, soos die Suid-Afrikaanse Nasionale Veiligheidswerkgewersvereniging; die Padvragvereniging; die Minerale Raad van Suid-Afrika, en die Elektriesekontrakteursvereniging van Suid-Afrika.

6.4 Vakbonde

Vakbonde word in detail bespreek in Hoofstuk 9 wat handel oor arbeidsverhoudinge, en hulle speel natuurlik ’n belangrike rol in die vermindering en hantering van konflik tussen werkgewers en werknemers.

EOHCB Werkgewersorganisasie

Gedurende die covid-19 pandemie van 2020 is baie besighede nie toegelaat om tydens die staat van inperking / grendeltydperk handel te dryf nie. Haarsalonne is ‘n voorbeeld hiervan. Hulle kon eers baie later oopmaak wat groot finansiële verliese veroorsaak het weens talle weke sonder inkomste. Om ‘n totale ineenstorting van die bedryf te voorkom, het die werkgewersorganisasie, EOHCB, geveg vir die reg van haarsallone om op ‘n hoër vlak van inperking te mag open. Lees hieronder waarvoor hierdie werkgewersorganisasie staan.

Bron: https://www.eohcb.co.za/ Die EOHCB streef voordurend daarna om aan ons lede ‘n volledige reeks dienste met betrekking tot arbeidsaangeleenthede te verskaf. Ons poog om die behoeftes van ons lede met integriteit, professionaliteit en gesonde besigheidspraktyke aan te spreek.

Ons visie

Om ‘n wêreldklas gemeenskap van haarkappers, kosmotologie en skoonheidswerkgewers te skep wat toegewyd is aan uitnemendheid in hulle beroep.

Oor ons

Die “Employers Organisation for Hairdressing, Cosmetology and Beauty (EOHCB)” is ‘n gekonstitueerde en ‘n geregistreerde werkgewersorganisasie volgens die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 wat hulle lede sedert 1945 verteenwoordig.

Die EOHCB is ‘n nie-winsgewende organisasie wat die belange van hulle lede bevorder deur hul behoeftes te beskerm en te ondersteun deur kollektiewe bedinging en hulp met arbeidsverhoudings en ontwikkeling.

Die organisasie verteenwoordig werknemers op ‘n gereelde basis by die bedingingsraad en KMVA vlak om geskille op te los deur middel van versoening en arbitrasie. Die EOHCB raak ook betrokke by kollektiewe bedinging waar diensvoorwaardes en salarisse namens werkgewers beding word deur sinvolle konsultasie vir die bedryf.

Die EOHCB is trots op die vertroue, ervaring, kennis en vaardigheid waaroor hulle werknemers beskik. Met kantore regoor Suid-Afrika, word werkgewers geraadpleeg en verteenwoordig deur ‘n professionele span wat waarde tot jou besigheid toevoeg en verskillende kanale bied vir interaksie en fasilitering wat geskik is vir individuele arbeids- en besigheidsbehoeftes.

Aangepas van: https://www.eohcb.co.za/ [Afgelaai: 15 Mei 2020]

Vakbonde skep hulplyne en krisissentrums vir besorgde lede

Deur: Vincent Cruywagen, 9 April 2020

Vakbonde het wêreldwyd ‘n deurslaggewende rol gespeel gedurende die globale covid-19 pandemie deur nie slegs werkloosheidsvoordele te verseker nie, maar ook vrese van werknemers te besweer en ‘n ondersteunende rol te vertolk.

Tydens die covid-19 pandemie was voortdurende betrokkenheid tussen vakbonde, die regering en die privaatsektor nodig om ‘n herlewing van die ekonomie te verseker sodra die pandemie uitgewis is.

Beide die Suid-Afrikaanse Klere- en Tekstielwerkersunie (SACTWU) en Solidariteit het afsonderlike inisiatiewe geloods waardeur hulle lede toegang gee tot inligting rakende die koronavirus en waar hulle hul vrese en kommer kan uitspreek.

Sactwu het kort nadat President Cyril Ramaphosa op 23 Maart die staat van inperking aangekondig het, hul covid-19 Aftreefonds hulplyn geloods wat lede se kommer hanteer rakende hulle hard verdiende aftreefondse en hoe die ongunstige ekonomiese omstandighede hulle kan beïnvloed.

Solidariteit daarenteen, het ‘n covid-19 krisissentrum tot stand gebring met toegewyde personeel wat na lede luister en hulle vrae hanteer.

Aangepas van: http://www.industriall-union.org/union-organizes-covid-19-awareness-campaign-as-south-africa-confirms-more-cases [Afgelaai: 20 Junie 2020]

Bron: http://www.industriall-union.org/union-organizes-covid-19-awareness-campaign-as-south-africa-confirms-more-cases

This article is from: