14 minute read

VOORWOORD

Die handleiding en fasiliteerdersgids dek al die werk van graad 6 Afrikaans Eerste Addisionele Taal (EAT). Die boek is opgestel in lyn met die KABV-riglyne wat die Departement van Basiese Onderwys vereis.

Die KABV gee ’n uiteensetting van die minimum werk wat gedek moet word. Die handleiding en fasiliteerdersgids bevat soms meer inligting as wat die KABV vereis.

Die handleiding is in vier eenhede en 18 lesse verdeel. Elke les word oor ’n tydperk van twee weke behandel (10 uur) en elke eenheid strek oor ’n kwartaal. Eenheid 1 en 2 is in fasiliteerdersgids 1/2

en eenheid 3 en 4 is in fasiliteerdersgids 2/2 (die handleiding is dieselfde verdeel).

Aan die einde van eenheid 2 en eenheid 4 (kwartaal 2 en 4) skryf die leerders eksamen (verwys na die portefeuljeboek).

Eenheid 1 bestaan uit vyf lesse.

• Les 1: In die leesstoel • Les 2: Wat ’n gemors! • Les 3: Sit jou heldemasker op • Les 4: Vinnige vervoer • Les 5: Nie so lank, lank gelede nie ...

Eenheid 3 bestaan uit vyf lesse.

• Les 10: Diep in die reënwoud • Les 11: Die fors van die natuur • Les 12: Vampiere, weerwolwe en zombies • Les 13: Dis astronomies! • Les 14: ’n Sprong in tyd

Eenheid 2 bestaan uit vier lesse.

• Les 6: Onverwagte vriende • Les 7: Ons erfenis • Les 8: Stories uit Afrika • Les 9: Op die kassie

Eenheid 4 bestaan uit vier lesse.

• Les 15: In ’n virtuele wêreld • Les 16: ’n Groener lewe • Les 17: Dwergies in die tuin • Les 18: ’n Wêreld vir almal

Die lesse is in aktiwiteite opgedeel – wat die leerinhoud asook vrae daaroor bevat.

Elke les bestaan uit vier afdelings: • Luister en praat • Lees en kyk • Skryf en aanbied • Taalstrukture en -konvensies

Afdeling 1: Luister en praat

Luister en praat is integraal in alle vakke. Hoe meer ’n nuwe taal gehoor en gepraat word, hoe makliker word dit aangeleer. Elke les begin met die bespreking van ’n onderwerp, wat die les inlei. Ander besprekings in lesse kan as mondelinge hanteer word in plaas van ’n gesprek/bespreking. Hoe meer leerders oefen om mondelinge te skryf en te lewer, hoe makliker sal dit vir hulle in take en eksamens wees. Hulle selfvertroue sal ook verbeter hoe meer hulle voor ’n gehoor moet praat.

Dit is belangrik om woorde duidelik en korrek uit te spreek wanneer tekste hardop gelees word. Help leerders ook reg indien hulle sinskonstruksie of woordgebruik verkeerd is wanneer hulle praat. Moedig leerders aan om een keer ’n week ’n Afrikaanse televisieprogram te kyk of na ’n Afrikaanse radioprogram te luister.

luistertoetse toegepas word. Die luisterproses word in aktiwiteit 1 uiteengesit. Neem kennis van wanneer die leerders notas mag neem.

• Luisterproses: Volg die luisterproses vir die eerste paar weke en kyk hoe die leerders vorder. Indien dit nie vir hulle nodig is om drie keer na die teks te luister nie, hoef die teks nie vir ’n derde keer gelees te word nie. Die proses moet egter in take/eksamens gevolg word.

• Lees hardop: Leerders gee soms vir mekaar ’n informele punt met die rubriek by die aktiwiteit en ander kere assesseer jy hulle informeel. Die rubriek in die bylae (addendum) kan ook hiervoor gebruik word. Let wel dat leerders wat minder gevorderd is dalk nie die hele teks sal kan lees nie – neem altyd die leerder se leesvaardigheid in ag. Die doel van die informele assessering is om leerders se lees te verbeter.

Afdeling 2: Lees en kyk

Hoe meer leerders met Afrikaanse tekste omgaan, hoe makliker gaan hulle die taalgebruik verstaan en dinge soos spelpatrone optel.

Indien leerders die leesteks in afdeling 2 self kan lees en verstaan sonder dat jy dit eers vir hulle lees, is dit goed.

Dit is belangrik dat leerders Afrikaanse tekste selfstandig lees. Verleen altyd hulp met die uitspraak of betekenis van woorde wanneer leerders selfstandig lees.

Leerders moet elke kwartaal ’n boek selfstandig lees (dit word deur die jaar in die fasiliteerdersgids genoem) en dan ’n resensie daaroor skryf of lewer. Moedig hulle aan om meer as een boek per kwartaal te lees, asook boeke in hul huistaal (en in Engels, indien dit nie hul moedertaal is nie).

Indien daar nie genoeg tyd is om al die taalaktiwiteite in ’n les te doen nie, maak seker nuwe werk word behandel voordat vorige taalwerk ingeoefen word.

Afdeling 3: Skryf en aanbied

Hoe meer die leerders Afrikaans skryf, hoe beter. Wanneer ’n mens skryf, is jy meer daarop gerig om grammatika en spelling korrek te gebruik. Let op die skryfproses, wat in die handleiding en fasiliteerdersgids uiteengesit word. Moedig leerders aan om soveel as moontlik in Afrikaans te skryf. Hulle kan byvoorbeeld elke dag, apart van ander aktiwiteite in die handleiding, ’n paragraaf skryf oor wat hulle die vorige dag ná skool gedoen het, of dit kan met die aktiwiteite van die dag skakel.

Die leerders word ook aan ’n verskeidenheid soorte tekste bekendgestel, elk met sy eie formaat (byvoorbeeld verhale, dialoë, nuusberigte, plakkate en gedigte).

Afdeling 4: Taalstrukture en -konvensies

Deur in interaksie te kom met Afrikaans in gesproke of geskrewe formaat, word die grondslag vir grammatika gelê. Alhoewel al die inhoud vereis deur die KABV in die handleiding gedek word, is dit raadsaam om bykomende taaloefeninge vir die leerders te gee. Dit hoef nie ’n aktiwiteit te wees nie; dit kan informele hersiening van die vorige dag se werk wees (byvoorbeeld ’n oefening waar die leerders sinonieme moet gee, of laat hulle die vertaling van Afrikaanse woorde gee).

Dit is uiters belangrik dat taalaspekte goed vasgelê word – dit vorm die basis vir alle taalwerk tot in graad 12 (die werk word in elke graad net moeiliker). Hoe meer leerders met die verskeie taalaspekte in aanraking kom, hoe beter word dit vasgelê.

Let ook op dat leerders meer selfstandig begin werk soos die jaar vorder. Verleen hulp indien nodig. As hulle byvoorbeeld die teks in afdeling 2 selfstandig kan lees sonder dat jy dit eers vir hulle lees, is dit goed – dit hang af van die leerders se vaardigheidsvlak.

TYDSTOEKENNING

Volgens die KABV moet leerders 5 uur per week in Afrikaans EAT onderrig word, dus 10 uur per les (wat oor twee weke strek). Dit beteken dat huiswerk nie by hierdie tyd ingesluit is nie. Indien leerders dus die aktiwiteite nie tydens onderrigtyd klaarkry nie, moet hulle dit as huiswerk voltooi.

Verder moet daar 2 uur aan luister en praat spandeer word, 4 uur aan lees en kyk, 3 uur aan skryf en aanbied en 1 uur aan taalstrukture en -konvensies. Soos reeds genoem, vereis die KABV dat taalstrukture en -konvensies binne konteks aangeleer word, dus is die tyd hiervoor ingesluit in die KABV se voorgestelde tye vir die verskillende afdelings.

Let wel dat die tydstoekenning by die aktiwiteite nie noodwendig tot 10 uur per tweeweeksiklus optel nie. Dit is omdat die tyd wat aan ’n aktiwiteit afgestaan word deur die getal leerders in die klas bepaal word. Sommige aktiwiteite vat ook langer, waar die fasiliteerder die leerders se lees assesseer, die voordra van ’n gedig, mondelinge, ensovoorts. Hier kan die aktiwiteit oor ’n paar dae strek sodat alle leerders kans kry om die aktiwiteit te voltooi.

Gebruik eie oordeel om seker te maak dat leerders deur al die werk kom. In sommige gevalle strek werk oor meer as een periode – wees oordeelkundig in hoe om hierdie lesse aan te pak.

BEPLANNING

Die boeke is só saamgestel dat die fasiliteerder so min as moontlik beplanning hoef te doen. Dit is wel nodig om goed vir die aanbieding van die lesse voor te berei (veral omdat die tyd wat aan aktiwiteite afgestaan word deur die getal leerders in die klas bepaal word).

Gaan deur die les en kyk wat jy moet voorberei (soos om die hardop lees van ’n teks te oefen, die klas te versier om by die tema te pas, die nodige voorbereiding vir taalspeletjies te doen, om vir die leerders te sê dat hulle die volgende dag items klas toe moet bring, ensovoorts). Beplan ook watter aktiwiteite jy op watter dag van die tweeweeksiklus gaan behandel (dag 1 tot 10).

Die aktiwiteite kan behandel word in die volgorde waarin dit in die boek is, maar dit is nie nodig om al die luister en praat-aktiwiteite aan die begin van die les te doen nie. Begin elke les met die eerste aktiwiteit en die aktiwiteite wat volg wat met die eerste aktiwiteit te doen het. Byvoorbeeld in les 1: Aktwiteit 2 is die vrae op die luisterteks van aktiwiteit 1 en in aktiwiteit 3 moet die leerders die storie in aktiwiteit 1 oorvertel. Aktiwiteit 4 (hardop lees) kan byvoorbeeld gelos word vir dag 2 (aangesien die leerders moet voorberei) of dit kan op ’n dag in week 2 gedoen word. Die taalspeletjies kan ook op ’n ander dag in die tweeweeksiklus gespeel word.

Indien tyd dit nie toelaat nie, kan dit daarop neerkom dat byvoorbeeld van die luister en praataktiwiteite nie gedoen gaan word nie (soos “dra ’n gedig voor”).

Indien leerders sekere taalaspekte goed bemeester het, is dit nie nodig om al die aktiwiteite in die klas te doen nie (of leerders hoef nie al die vrae in die klas te beantwoord nie). Indien hulle byvoor-

beeld verstaan hoe afkortings werk, kan hulle die aktiwiteit oor afkortings as hersiening by die huis doen (wat dan in die klas gemerk word).

WOORDESKAT EN SPELLING

Leerders maak in les 1 hul eie woordeboek. Waar aangedui, moet hulle die woorde met hul betekenisse, die Engelse woord gee, of ’n sin of prentjie in die woordeboek skryf/teken (sien meer besonderhede in les 1).

Leerders kan verder enige woorde wat vir hulle nuut of moeilik is in die woordeboek skryf. Hulle moet seker maak dat die woorde korrek gespel is.

Die leerders skryf ’n speltoets aan die einde van elke les. In plaas hiervan kan hulle elke dag of aan die einde van elke week ’n speltoets skryf.

Soos by die eerste speltoets verduidelik word, moet leerders met ’n glimpen (highlighter) uitlig waar hulle moontlik verkeerd kan spel. Dit help hulle om vir lokvalle (traps) uit te kyk.

WOORDELYSTE

Die woordelyste in die bylae agterin die boek is vir verwysing. Daar is lyste met trappe van vergelyking, sinonieme en antonieme, geslag, vergelykings, ensovoorts. Dit is ’n goeie idee dat die leerders sover moontlik die inligting in die bylae leer (nadat die werk in die handleiding behandel is). Dit brei hul woordeskat uit en dit is kennis wat hulle tot in graad 12 gaan gebruik, asook in die alledaagse lewe.

OOR DIE TEKSTE

• Die nodige toestemming is verkry om die gedigte, stories en spotprente in die boek te gebruik. • Waar daar nie erkenning gegee word nie, het die skrywer van die boek self die stories/gedigte geskryf. • Alle ander tekste, soos koerant- en tydskrifartikels, instruksies en plakkate is deur die skrywer van die boek geskryf/saamgestel. By koerant- en tydskrifartikels is die joernaliste se name fiktief (fictional).

ANDER

• Regdeur die handleiding verskyn Zak die taalmonster. Hy gee vir leerders wenke en gaan saam met hulle op die reis deur graad 6 EAT.

• Elke les het ’n tema. Probeer om die tema so lewendig as moontlik vir die leerders te maak – die klas/vertrek kan byvoorbeeld volgens die tema van die les versier word. Leerders kan ook byvoorbeeld prentjies oor die tema inkleur (indien daar nog tyd ná onderrigtyd oor is) en dit kan in die klas opgesit word.

• Daar is ’n tabel aan die begin van elke les in die fasiliteerdersgids. Hierdie tabel bevat die aktiwiteite waarin die aspekte hoofsaaklik behandel word, saam met die tydstoekenning. Hierdie aspekte (byvoorbeeld sinonieme en antonieme) kan ook in ander aktiwiteite in die les voorkom (soos in die leesbegripvrae), maar dit is nie die hoofaktiwiteit nie en word nie in die tabel gelys nie. Waar verskillende aspekte in een aktiwiteit voorkom, word die tydstoekenning

slegs die eerste keer gegee wat die aktiwiteitnommer voorkom.

• Baie aktiwiteite vereis dat leerders in pare, groepe of as ’n klas werk. Indien daar slegs een leerder is, moet die fasiliteerder instaan.

• Daar word by sommige aktiwiteite ’n rubriek vir informele assessering gegee. Die rubrieke vir take en eksamens is in die bylae. Dit is jou keuse oor watter rubriek om te gebruik – leerders moet gewoond raak aan die rubrieke waarvolgens hulle geassesseer word, maar dit hoef nie vir elke aktiwiteit gebruik te word nie.

• Soos genoem, moet die leerders vir sommige aktiwiteite items klas toe bring – lees vooruit en gee die leerders genoeg tyd om die items te kry. Hulle moet byvoorbeeld soms tydskrifte/koerante klas toe bring of ’n item om in te rolspeel. Gee hulle byvoorbeeld ’n week of twee om die items te kry. Jy kan natuurlik ook tydskrifte/koerante in die klas vir sulke aktiwiteite hou.

• Die woordeskat van sommige woorde in die tekste word gegee. In die eerste paar lesse word definisies gegee, en later word meer vertalings gegee en definisies van slegs die moeiliker woorde.

Die woorde wat ’n definisie/vertaling het, is in vetdruk in die teks. Die woorde in die woordeskat verskyn in die volgorde waarin die woorde in die teks voorkom. Dit word ook binne konteks van die teks en in die tydsvorm van die teks gegee.

• By sommige tekste word die uitspraak van woorde gegee, byvoorbeeld: Biblioteek word uitgespreek as “bib-lie-joe-teek”. Hierdie klanke tussen aanhalingstekens is Afrikaans, nie Engels nie.

• Leerders kan tussendeur die aktiwiteite kort, informele toetse oor taalaspekte skryf, byvoorbeeld oor geslagsvorme, intensiewe vorme, ensovoorts.

• Die opskrifte in die handleiding is sover moontlik volgens die KABV se opskrifte. Al staan daar “dra ’n gedig voor”, moet die teks in die handleiding gebruik word (tensy anders vermeld).

• ’n Voorbeeld van eksamenvraestelle word in die bylae gegee. Laat leerders dit ter voorbereiding op die eksamens skryf sodat hulle die formaat kan sien. Soek addisionele vraestelle op die internet.

• Meer gevorderde leerders kan deur die jaar navorsing doen, ’n plakkaat oor die onderwerp maak en vir die klas daarvan vertel. Byvoorbeeld, hulle doen navorsing wat by “vir die nuuskieriges” gegee word. Hulle kan ook opdrag gegee word om inligting oor ’n spesifieke digter of skrywer te doen.

Byvoorbeeld: Doen navorsing oor A.G. Visser. Kry een van sy gedigte en vertel vir die klas daarvan. o Wie was A.G. Visser? o Waar is hy gebore? o Waaroor gaan die gedig? o Wat is die rymskema? o Is daar vergelykings in die gedig? Wat beteken dit?

WERKBOEK

Elke leerder kort ’n lyntjiesboek (’n skrif) met 72 bladsye om die aktiwiteite in te doen. (Hulle mag dalk later die jaar nóg ’n werkboek benodig.) Dit kan ook ’n swart hardebandboek wees.

Daar word aanbeveel dat leerders belangrike aspekte in hul werkboek oorskryf en nie net die aktiwiteite voltooi nie (byvoorbeeld wat ’n sinoniem is of hoe ons ’n selfstandige naamwoord uitken). Hulle kan ook die antwoorde van elke bespreking in afdeling 2 in hul werkboek skryf ná die bespreking afgehandel is.

Leerders moet ook ’n A5-lyntjiesboek (of ’n A4-boek) vir hul eie woordeboek hê (sien “Woordeskat en spelling”).

VOORGESKREWE EN AANBEVOLE BOEKE

Daar word geen addisionele boeke vir Afrikaans Eerste Addisionele taal voorgeskryf nie.

Leerders moet toegang tot ’n goeie, verklarende woordeboek (soos die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal –HAT) hê, asook ’n tweetalige woordeboek. ’n Tesourus is ook voordelig.

Soos reeds genoem, word daar van leerders vereis om minstens een leesboek per kwartaal te lees. Dit kan enige toepaslike boek van die leerder se keuse wees. Soos reeds gestel, hoe meer daar gelees word, hoe makliker en beter word die taal aangeleer. As leerders lees, brei hulle woordeskat uit en hul spelling verbeter.

Aanbevole leesboeke (van makliker na meer gevorderd)

• Z is vir Zackie-reeks – Jaco Jacobs • Lulu-reeks – Fanie Viljoen • Vakansiepret-reeks – Theresa van Baalen • Slym se stories – Fanie Viljoen • Olivia se olifant – Sylvia Bishop • Skwiek – Jaco Jacobs • Middernagfees – Jaco Jacobs • Liewe Heksie-reeks – Verna Vels • Sanri Steyn-reeks – Theresa van Baalen • Speurder Kwaaikofski-reeks – Jürgen Banscherus • Professor Fungus-reeks – Jaco Jacobs • Die verlore eiland en ander stories – Janie Oosthuysen • My ouma is ’n film-ster – Jaco Jacobs • My ouma is ’n rock-ster – Jaco Jacobs • Draakasem – Jaco Jacobs

FORMELE ASSESSERING

Geen aktiwiteit in die handleiding word as formele assessering gedoen nie. Raadpleeg die portefeuljeboek vir alle formele assessering.

Eksamens

Daar is twee eksamens in graad 6 – die Junie-eksamen en Novembereksamen. Die uiteensetting van die vraestelle verskil van die vorige uiteensetting (waar die leerders al drie vraestelle tydens eksamentyd skryf).

• Vraestel 1: Mondeling (lees hardop / luisterbegrip / toespraak / rolspeel, ens.) • Vraestel 2: Reageer op tekste (leesbegrip van ’n teks, leesbegrip van ’n visuele teks, opsomming, taalstruksture en -konvensies) • Vraestel 3 (word voor die eksamen geskryf): Skryf (opstel en transaksionele teks, soos dialoog, dagboekinskrywing, boodskap, ens.)

Daar is voorbeelde van elke vraestel in die bylae (hoewel die leerders nie noodwendig sulke vraestelle gaan skryf nie, kan dit vir oefening gebruik word).

This article is from: